Die Spirituele Wese van die Kerk

Gestel ’n gegewe persoon kom tot bekering, maar hy was nog nooit in sy lewe in ’n kerk nie, en weet nie wat dit is nie, vir die eerste keer lees hy die Bybel en word nie toegelaat om vir ’n tyd lank kontak te hê met die samelewing nie.  Na ’n verloop van tyd, waar hy die Bybel kon bestudeer en deurlees, word hy vrygelaat.  Wat sou hierdie persoon se verwagting wees van die Kerk wanneer hy in vandag se kerke inloop?  

Die Bybel is vol van stories van wonderwerke en tekens, en bonatuurlike belewenisse en ervarings. Daar word gepraat van demone en engele, mense profeteer en voorspel die toekoms, ander sien visioene, sommige droom drome wat weer deur ander uitgelê word.  Selfs kosmiese wonderwerke, van die see wat oopgekloof word,  die son wat stilstaan, mense wat op water loop, ’n byl wat op die water dryf, ’n man wat oorleef in die ingewande van ’n groot vis!  Verder lees ons van vele genesings; blindes se sig word herstel, dowes hoor, lammes loop, melaatses word gesond!  

Die vraag is, as dit die verhale van die Bybel is, waar is hierdie tekens vandag?  So sal sommige mense wat al vir meer as 30 en selfs 40 jaar in die kerk is vertel, dat hulle nog nooit enige bonatuurlike werkinge gesien het nie.  Miskien enkele gebeurtenisse waarvan hulle dalk gehoor het maar nie self by was nie.  Dan is daar ’n ander sigment van die kerk, waar persone jou sal vertel dat hulle van hul klein tyd af wonders en tekens beleef het, en selfs nou nóg!  Ek onthou een aand aan huis van ou Pastoor Johnny Bosman en Kitty Bosman voorheen Pelser, sy het Pastoor Andrew Pelser oorleef en is toe weer getroud op sewentigjarige ouderdom met Past Bosman wie se eerste vrou toe ook al oorlede is.  Hulle het vir twee ure lank die mees ongelooflike staaltjies vertel van hulle ouers en kinderdae, waar talespraak, profesie, openbaringskennis en bid vir die siekes ’n algemene ding was.  Mens sou toe dink dat hierdie tekens na ’n tyd sou verminder, maar net nou die dag vertel Past Bosman is so en so genees van ’n kwaal nadat hy vir die persoon gebid het.  

Hoekom in ’n sekere segment van die kerk is hierdie dinge ongewoon en vreemd en in ’n ander algemeen en alledaags?  Want iemand het hulle iets anders geleer.  “MOENIE baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan (Jak. 3:1-2). Hierdie vers verduidelik hoe ’n belangrike werk dit is om ’n leermeester van die skrif te wees, die daaropvolgende verse dui op die mag van die tong en hoe dit die hele skip stuur.  Ek glo leraars en predikante is die tong, of die spreekwoordelike stuur van die kerk.  Dis asof ’n gemeente net sover kan groei en verstaan as wat hulle geleer word.  As daar nooit oor genesing gepreek word nie, is daar dikwels ook nie geloof vir genesing nie.  Natuurlik, is elke gelowige verantwoordelik vir sy eie geestelike groei en perspektiewe, en is God by magte om enige persoon te oortuig selfs binne ’n sekere geestelik kultuur en raamwerk.  Dis immers wat met persone soos Luther, Hus en Wycliffe gebeur het deurdat hulle sekere praktyke in die kerk begin bevraagteken het.  Die Here is uiteindelik die Here van die Kerk en alle verkondiging se werke word getoets aan hul vrug oor tyd.  Op die einde van die dag laat die Here alles ten goede meewerk en gebruik hy selfs die valse om ons nog meer te oortuig van die waarheid.  Maar in die algemeen groepeer mense tog hulleself rondom sekere leerstellings van ’n kerk.  Veral in die vroeër jare, is dat wat die predikant sou leer nooit bevraagteken nie, want hy het immers daarvoor gestudeer, en weet baie meer as die gewone lidmaat.  Niemand anders is toegelaat om te preek as die gekose geestelike leiers wat deur die kerk verkies is om die woord te verkondig nie.  

Geen Skriftuurlike basis om nie in die bonatuurlike te glo nie.

Daar is nie ’n skrif in die Bybel wat direk leer dat die openbarings gawes en die bonatuurlike werking van God enigsins opgehou het nie.  Sommige teoloë gebruik die volgende vers om te verduidelik dat God self gekies het om nie meer deur profesieë of ander maniere met die mens te praat nie as net deur Sy Seun Jesus Christus nie.  In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.  (Heb. 1:1-2) Daarom het Jesus 12 ooggetuies vir homself gekies wat Sy woorde sou dokumenteer en opskryf vanwaar ons Nuwe Testament.  God het as te ware Sy hart uitgepraat in die Bybel en daar is niks verder wat Hy wil sê as wat in die Bybel opgeskryf staan nie.  Inteendeel niks kan bygevoeg word of weggevat word van dit wat opgeteken staan nie.  Met ander woorde die volle openbaring van God is verskans in die Woord en alleen die Woord.  Die werking van die Gees en die openbaarmaking van die Woord is een.  Die Seun en die Heilige Gees sal mos nie mekaar weerspreek nie? God is Een. (Deut 6:4) 

Sommige glo dat die Heilige Gees Homself manifesteer in die harte van die mense deur die akkurate prediking van die Woord.  Weereens is hier ’n element van waarheid in hierdie begrip, en verstaan ons dat God die Woord gebruik om mense te verander en nie wonders en tekens nie.  Daar is geen skrifgetuienis dat God wonders en tekens gebruik om mense tot inkeer te bring nie, Jesus het verskeie en talle wonderwerke gedoen en nogtans het sommige nie geglo nie.  Maar dit beteken nie dat wonders en tekens opgehou het en nie meer bestaan nie.  Wondertekens het die Woord bevestig. (Mark 16:20; Hand. 5:12; 14:3; Hebr. 2:4

In terme van die leer van ophouding (Dat die werk van die bonatuurlike gawes van die Gees gestaak het na die dood van die apostels.) sal verskeie teoloë erken dat God soewerein is om te wil en te doen soos wat Hy wil, en Hy kan mos bonatuurlike dinge laat gebeur soos wat al in verskeie herlewings oor die Wêreld plaasgevind het, maar in die volgende sin verklaar hulle dat dit vir hulle ’n fundamentele saak is, óf die Bybel is genoegsaam óf dit is nie?  Jy kan nie volgens hulle aan een kant sê God praat nog vandag met ons deur Sy Gees en aan die ander kant sê God het klaar gepraat nie.  Jy moet kies.  [1] Ek sê God praat vandag nog op verskeie maniere, maar ons moet dit alles toets of dit in lyn is met die Gees van waarheid Jesus Christus, en die leer van die skrif.  

Die leer van ophouding.

Met die reformasie is die leer van die Katolieke Kerk ernstig bevraagteken en gekritiseer, een van die argumente van die Katolieke Kerk was om te verwys na ’n lang lys van wonderwerke en tekens vanaf die tyd van die apostels wat mos die leer van die kerk versterk.  As God dan teen die leer van die kerk was hoekom sou Hy hierdie wonders en tekens in die kerk toelaat?  Dit was ’n moeilike argument om te weerlê aangesien mense veral in hierdie tyd baie opgeneem was met die bonatuurlike en die mistiese.  [2] Is dit dalk die rede hoekom daar in die algemeen onder gereformeerde kringe ‘n agterdog teenoor die bonatuurlike is?  

Die primêre argument van diegene wat glo dat wonderwerke en tekens opgehou het met die dood van die apostels is die volgende:  Jesus kies en roep die 12 apostels met die hoofsaaklike doel om te dien as ooggetuies van Sy lewe, dood en opstanding.  Daarom kies hy hulle vanuit verskeie agtergronde, sosiale stand en selfs kultuur.  Die feit dat daar tekens en wonders was in die vroeër kerk was bloot om die boodskap van die ooggetuies te bekragtig en nie vir die gebruik van elke gelowige nie.  Met die dood van die apostels en die totstandkoming van die Bybel was wonderwerke dus oorbodig en uitgedien.  Ons geloof is immers nie gebou op die sien van wonderwerke nie maar die geloof wat God in ons harte gewerk het om Hom aan te roep.  Nie net wonderwerke en tekens word dus as oorbodig beskou nie maar ook die bediening en werk van apostels.  

’n Skrifgedeelte wat dikwels gebruik word deur diegene wat glo dat die gawes van die Gees opgehou het is; Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees. (1 Kor. 13:8-10)  Laat die teks vir Homself praat.  Dit is duidelik dat Paulus verwys na die einde wanneer die volmaakte gekom het wanneer ons saam met Jesus sal wees.  Dit is logies dat die gawe van profesie en tale dan uitgedien sal wees want ons is perfek en by Hom.  Ons is tog nog nie daar nie, ons verstaan nie alles nie and weet nie alles nie, ons is ook nog nie perfek nie!  In hierdie verband haal Mark Stibbe, Siegfried Schaltzmann aan wat sê; Daar is niks in hierdie hoofstuk of enige ander gedeelte wat deur Paulus geskryf is wat dit duidelik uitspel en aandui dat die bonatuurlik gawes net vir ’n sekere tyd is en net vir sekere individue is nie. [3] So ’n afleiding druis teen die gees van die skrif wat dan duidelik die gawes wil verduidelik en verantwoord in lig van die skrif.  Waarom sou Paulus drie hoofstukke spesifiek wy aan die gawes van die Gees as dit net in gebruik was by die apostels?  Dit is juis omdat die gawes van die Gees algemeen was en ’n prioriteit in die gemeente van Korinte was dat Paulus spesifiek daaroor skryf en Apostoliese Riglyne neerlê.  

Kom ons kyk na skrifgetuienis oor hierdie aspek: Wat is die doel volgens die skrif van wonderwerke en tekens?  

Dit is duidelik dat wondertekens Jesus se karakter en Sy besondere verhouding met die Vader onderskryf en openbaar.  God is met Hom (Joh. 3:2) Jesus kom van God af. (Joh. 3:2; 9:32-33) God het Hom gestuur.  (Joh. 5:36) Hy het die outoriteit om sonde te vergewe. (Luk. 5:24-25) Die Vader is in Christus en Hy is in die Vader. (Joh. 10:37-38; 14:11) Jesus is die Messias. (Mat. 11:1-6; Luk. 7:18-23) Bekragtig Jesus as die Éen wat God gestuur het (Hand. 2:22)

In terme van wonderwerke en tekens wat deur die apostels gedoen is word die doel van wonderwerke beskryf in terme van hulle woorde nie hulle as individue nie.  Wonderwerke getuig dat jou woorde van God is en dat jou getuienis waar is.  (Mar. 16:20 en Hand. 14:3) Die enigste vers wat daarop mag dui dat wonderwerke ’n validasie van apostelskap is, is. (2 Kor. 12:12).  Die kentekens tog van ’n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.  Die vers bepaal tog nie dat die vereiste vir apostelskap wonders en tekens is nie, nog minder dat tekens en wonders jou ’n apostel maak.  Dit beteken bloot dat tekens en wonders Paulus se bediening en woorde onder hulle bekragtig het.  Stefanus het tog ook wondertekens gedoen en hy was nie een van die apostels nie.  

In Hebreërs word na wonderwerke verwys as ’n bekragtiging van die boodskap en nie die boodskapper nie, en die werking van hierdie kragtige dade word nie tot die 12 apostels beperk nie. “hoe sal ons dan ontkom as ons so ’n groot saligheid verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.” (Heb. 2:3-4) 

Wonderwerke kan tog nie die individu bekragtig en valideer nie, want dan maak ons die apostels supermense wat nie foute kan maak nie.  Paulus moes Petrus teregwys oor sy kompromerende gedrag teenoor die Jode.  (Gal. 2:11) 

Die tweede argument teen die bonatuurlike werking van die Gees is vanuit ’n historiese perspektief of bloot uit ervaring.  Ons sien dit nie, en het dit nog nooit beleef nie, en selfs hierdie en daardie hooggeagte geestelike het dit in sy leeftyd nog nooit beleef nie daarom… bestaan dit nie.  Die feit is dat ervarings kan baie subjektief wees veral as jy dit as dogma verkoop dat dit nêrens anders gebeur nie omdat dit nooit hier gebeur nie.  

Die vraag is; as Jesus telkemale ons leer om te doen wat hy doen, Paulus die gemeente beveel om hom na te volg soos wat hy Jesus navolg, hoekom onderskei ons tussen hul bonatuurlike gedrag en natuurlike gedrag.  Ons strewe om soos Hy te wees as mens, maar nie soos Hy te doen nie wanneer dit by wondertekens kom nie.  Nee, sekerlik as Hy ons voorbeeld was in die werking van die bonatuurlike dan is dit reg en redelik dat ons Hom ook in dit navolg.  Daar is geen skrif wat wonderwerke en tekens onderskei en hulle eksklusief maak tot net ’n sekere groepe of persoon nie.   Die enigste voorvereiste is dat ons moet glo.  Miskien is ons ongeloof die rede hoekom daar so min wonders en tekens gesien en gedoen word in sekere geledere.  Jesus kon ook nie wonders en tekens in Galilea doen nie weens hulle ongeloof! (Mat 13:58)  Jesus belowe hierdie gawes aan die wat glo, nie net aan Sy twaalf dissipels nie.  En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, 18slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.  (Mark. 16:17-18). Die woorde “geglo het” word in die afrikaans vertaal in die verlede tyd, tog is die Griek in die sin in die aoristus tyd geskryf, wat beteken; geglo het, tans besig is om te glo en nog sal glo.  

Volgens Dr. Dale A. Robbins is dit duidelik dat geestelike bonatuurlike gawes nie met die dood van die Apostels opgehou het nie.  Hy kwoteer sekere vroeë Kerkvaders Irenanius; (ca. 130-202) “…we hear many of the brethren in the church who have prophetic gifts, and who speak in tongues through the spirit, and who also bring to light the secret things of men for their benefit [word of knowledge]…”. Iranius het ook verder by geleentheid geskryf:  “When God saw it necessary, and the church prayed and fasted much, they did miraculous things, even of bringing back the spirit to a dead man.” Volgens Dr. Robbins het Tertullianus (ca. 155–230) ook dieselfde dinge gerapporteer so ook vir Originus (ca. 182 – 251), Eusebius(ca. 275 – 339), Firmilian (ca. 232-269), and Chrysostom (ca. 347 – 407). [4]

Jesus se lewe was bonatuurlik

JESUS was volkome mens, maar Sy lewe was ook bonatuurlik: Sy geboorte deur ʼn maagd (Luk. 1:34, 35; Jes. 7:13-16; Matt. 1:22-23), al Sy wondertekens en kragtige dade (Matt. 11:20; 13:54; Mark. 6:2), en Sy opstanding (Matt. 16:21; 17:9, 23; Matt. 20:19; 26:32; Mark. 14:28; Luk. 9:22; 14:14; Joh. 2:19-22; 5:21; 6:39-40; 11:1-44; 14:20; 21:14).

Indien jou soeke is om meer soos Jesus te leef, kan jy nie Sy bonatuurlike bediening ignoreer nie. Dit staan sentraal tot wie Hy op aarde was. Ons verkies egter altyd die dele van Jesus se lewe waarvan ons hou en wat ons dalk self kan regkry! Ons vermy die onmoontlik-vir-self aspekte! Dit is juis hierdie dele van Sy lewe wat deur die eeue die meeste kontroversie veroorsaak het. Sommige vervals die bonatuurlike en gebruik dit, soos die geldwisselaars, om mense te trek en meer geld te maak. Die verdraaiing, vervalsing en uit verband trek van die bonatuurlike is waarom sommige kerke en gelowiges dit eerder vermy.

“The secret is, there is no formula, no mathematical progression, no tradition that can reproduce the supernatural all the time. We have to get it by faith from the spiritual realm according to the plan and purposes of God the Father and of our Lord Jesus Christ, communicated to us through the blessed Holy Spirit”. (Dr. André Pelser) .

Dis die vyand se eeue oue strategie om ons weg te draai van God se voorsiening. Omdat ons dan uitgehonger raak vir Sy volheid, soek ons versadiging op ander plekke en op ander maniere. So is seksuele intimiteit ʼn wonderlike, vervullende voorsiening vir ʼn man en vrou in die huwelik. Deur satan se verdraaiing, besoedeling en onbehoorlike gebruik van God se voorsiening, draai ons teen hierdie voorsiening, ons verwerp dit, ons raak onkundig en onbeholpe, en veroorsaak nog meer skade. Goddelike, vaderlike, heilige leierskap is ʼn wonderlike voorsiening vir die mensdom, maar die korrupsie van vals leiers bring verskrikking en verwoesting. Beplanning, administrasie en harde werk is ʼn wesenlike deel van God se voorsiening, maar ons verdraai dit in absolute beheer en slawerny.

Ons het veral nodig dat Christus weer die plek en verstaan van die bonatuurlike goddelike element van die evangelie in ons harte sal benadruk, ons sal reformeer en geloof in ons harte sal bewerk omdat Hy graag met ons sal wil saamwerk.

We are all immersed in a vast sea of unseen forces. Can you see radio waves? Or, for example, the magnetic fields by which the stars keep their ancient places? All around us, even going through our very bodies, are powerful emissions which we can detect only by instruments. Some radiation could destroy us before we ever felt it. Human perceptions are very limited. Even your cat can hear what you can’t. A snake can sight its prey in the pitch darkness. The first words Jesus said to His disciples were “Come and see!” (John 1:39). He came to make us see and see in the dark. The great theme in John’s Gospel is “inner sight”, seeing more than meets the eye. Spiritual reality belongs to a different order. Physical eyes can’t discern the spiritual. John mentions that some witnessed Christ’s miracles and made nothing of them. The visible displays invisible – “the heaven’s declare the glory of God”, but not to those without faith. Another thing is that at present the world lies in wickedness and spiritual darkness. The unseen is doubly unseen. Faith in God is like a lamp, which is of no use in daylight. The only chance faith will ever get is now, in a world of darkness, sin and trouble. It can’t operate in heaven where the Lamb is the light. “Now we see through a glass, darkly, but then face to face, (but) now remains faith” (1 Cor. 13:12,13). God bless you.” (Reinhard Bonnke).

Jesus Se Lewe Was Bewese Bonatuurlik

Genesings, wonderwerke en bevryding van die bose was deurentyd deel van Sy bediening! “Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. En berigte oor Hom het deur die hele provinsie vanSirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.” (Matt. 4:23-25; Luk. 6:17-19).

“Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” “Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.” (Mark. 1:32-39;Matt. 8:16- 17; 4:23; Luk. 4:40-44).

“Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Ook bose geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is.” (Luk. 4:40- 41).

“… met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.” (Hand. 10:38).

“Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy sê toe vir Sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir Sy oes.” (Matt. 9:35-38).

“Hulle het toe vertrek en van die een dorp na die ander gegaan om oral die evangelie te verkondig en siekes gesond te maak.” (Luk. 9:6).

“Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.” (Luk. 11:20).

Elke keer as ek hierdie verse lees word ek gekonfronteer om die Here se aangesig te soek vir die krag van die Heilige Gees en werkinge in my bediening.  

Sy Dissipels Is Beveel Om Dieselfde Te Doen

“Gaan verkondig: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.” (Matt. 10:7-8).

Die Boodskap Moet Met Demonstrasie Gepaard Gaan

“Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.” (1 Kor. 2:4-5).

Mense plaas hulle geloof in metodes, resepte, tegnieke, mense, godsdiens en eiegeregtigheid eerder as om hulle hoop volkome en alleenlik in Christus te plaas! HY soek ons hart, nie ons godsdiens-speletjies nie! Sommige predikers gebruik aanhalings van bekendes, slim stories met power point-voorstellings, maar dit het geen mag en vermoë om mense, vasgevang in sonde, vry te maak nie! Jou prediking moet gepaardgaan met ʼn bewese demonstrasie en aktivering van geloof in mense se harte. “Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God” (1 Kor. 2:4-5). “Die koninkryk van God is immers nie ʼn saak van praatjies nie, maar van krag.” (1 Kor. 4:20).

Inligting verander nie mense se gedrag nie. Dit kos ʼn radikale ingryping van verlies, siekte en ʼn konfrontasie met Waarheid. Mag die Heilige Gees Jesus in ons midde openbaar en ons lei na die Vader. BEIDE die verantwoordelike prediking van die Woord en die demonstrasie van die Gees is noodsaaklik. Die een kan nie sonder die ander nie. Die Woord bied die roumateriaal en die Gees bied die lewe.

Die Woord sonder die Gees is dood (2 Kor. 3:6). Maar die Gees sonder die Woord, lei tot wanorde en selfgerigtheid (1 Kor. 14).

“Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God.” (Rom. 15:18-19).

“Want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ʼn blydskap wat van die Heilige Gees kom (1 Thess. 1:5).

“Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het. Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.” (Heb. 2:3-4).

“God bevestig nie die persoon nie, Hy bevestig Sy Woord. Die woord van ons getuienis.” (Op. 12:10).

Die verkondiging van die evangelie van verlossing wek geloof vir mense om gered te word. Op dieselfde manier wek ons getuienisse van genesing, geloof in mense vir hulle eie genesing en bevryding.

Die Here Wil graag Sy Woord deur ons bevestig

“Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.” (Mark. 16:20).

“En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.” (Hand. 4:29-31).

“Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.” (Heb. 2:4).

Die Krag Van Jesus Word Op Vyf Maniere Gedemonstreer:

Die krag van Sy woord: “Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat.” (Matt. 7:28, 29; Matt. 7:28; 13:54; 19:25; 22:33; Mark. 1:22; 6:2; 7:37; 10:26; 11:18; Luk. 2:48; 4:32; 9:43). “Verslae”; “verslae”; “baie verslae”; “verslae”; “verslae”; “verslae”; “uitermate verslae”; “uitermate verslae”; “verslae”; “verslae”; “verslae”; “verslae”; “verslae” (OAV). Verslaentheid is sonder uitsondering die reaksie. Die Griekse woord‘eksplessomai’ beteken: “Ek is verstom/oorbluf, verbysterd” (Souter). “Verwonderd . . . oorweldig (lett. uit jou verstand uitgeslaan)” (Arndt en Gingrich).

Die krag wanneer ons Hom gehoorsaam. Die transformerende krag van Jesus om ons nuwe mense te maak. Jesus verander water in wyn. Dit wat jare neem om te verouder en kwaliteit aan te neem, doen die Here in ʼn sekonde toe hulle Hom gehoorsaam (Joh. 2). 

Die krag van Sy aanrakingToe steek Jesus Sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg (Matt. 8:3). “En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.” (Luk. 6:19). Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” (Mark. 5:30).  Daar is waardevolle krag in opregte liefdevolle aanraking. 

Die krag van Sy vergifnis. Jesus vergewe die vrou wat in die daad van egbreek gevang is (Joh. 8:10,11). Toe Jesus die geloof van die mense sien wat die verlamde man deur die dakteëls laat sak, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe”(Luk. 5:20). Die vrou wat ʼn sondige lewe gelei het, kom breek die duur albaste fles met olie op Sy voete (Luk. 7:36-50). Jesus sê: “Jou sonde is vergewe!” (v. 48).  Wanneer ons ons skuldenaars en oortreders vergewe word krag ontsluit vir ons eie genesing.  

Die krag van Sy voorsiening. Vermeerdering van die brode: Met vyf brode en twee vissies voed Hy 5 000 mans en 12 mandjies bly oor (Mark. 6:35-44). Met sewe brode voed Hy 4 000 mense en daar was sewe mandjies oor (Mark. 8:1-10). Jesus betaal Sy en Petrus se tempelbelasting deur ʼn muntstuk gevind in die bek van ʼn vis (Matt. 17:26-27). 

Wat Ontsluit Die Bonatuurlike Werking Van Die Gees?

Deernis (compassion):

The Bible says, “And when Jesus went out He saw a great multitude; and He was moved with compassion for them, and healed their sick” (Matt. 14: 14). Notice that the miracle of healing was a by-product of compassion. This is the Greek word splagchnizomai, which means to be “moved in one’s bowels” or “seat of love”. Compassion is the divine ability to empathize with the pain and suffering of others. Jesus always walked in compassion.[5]

“Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.” (Matt. 14:14). Geloof:

“Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.” (Mark. 16:17).

“These signs will follow those WHO BELIEVE” (Mark 16:17). 

Nabyheid (proximity):

Nabyheid, gebed, gehoorsaamheid, samehorigheid, eenheid. Bly in my (Joh. 15). Allerhande wonderwerke het gebeur deur die handelinge van die apostels, omdat daar eenheid was (Hand. 1:14; 2:1; 46; 4:24, 32; 5:12; 8:6; 15:25).  “And the power of the Lord was [present]with Him to heal them.” (Luk. 5:17).

Die Geestelike Aard van die samekomste

Watter rol speel die fisiese samekoms egter dan tot ons volgehoue gesondheid, geestelike welstand en weerstandbiedende immuniteit te tye van die Covid 19 pandemie.  Die pandemie het verseker ‘n bepalende rol gespeel in mense se gewoontes en waardes.  In sommige gevalle het mense getuig dat tydens die inperking tydperk, het hulle eie persoonlike verhouding met die Here verdiep, en die waarde van gesinwees verhoog.  ‘n Negatiewe faktor is dat mense skynbaar minder ‘n behoefte het aan ‘n fisiese samekoms, veral groter getal byeenkomste.  Mense put seën uit aanlyn preke, podgooie en sosiale media inspirasie.  

‘n Pastoor merk onlangs aan my op: Is sosiale media nie besig om die persoon en werk van die Heilige Gees te vervang, in baie mense se lewens nie? Die Heilige Gees is soos ‘n duif, en oordonder nie die mens met masgvertoon nie. Die Heilige Gees “nudge” en “Prompt” ons deur ‘n fluistering, ‘n ligte impuls om die Woord te leef.  Ons word nou daagliks toegegooi met sosiale media “notifications” wat ‘n appèl maak op ons aandag.  God is groter as dit alles, en gebruik sosiale media ook.  Ons het nodig om as kerk ons invloed te laat geld op hierdie platforms omdat ons so baie het om vir die mensdom te bied.  

Die beroep is egter, dat dit nie ten koste sal wees van die fisiese samekoms nie.  Mense leef al hoe meer fisies geïsoleer in ons huis boksies. Saam leef, werk en handel gebeur sporadies op ons terme, wat beteken toerekenbaarheid aan mekaar val omtrent heeltemal weg.  

Paulus het nieteenstaande die feit dat mense sy briewe sou kan lees, verkies en verlang om fisies by die gemeentes besoek te kon aflê.  Want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my (Rom 1:11). 

Wat is dus die geestelike, psigiese en liggaamlike gesondheidsvoordele van die fisiese samekoms van gelowiges? 

In hierdie vers word daar direk na ‘n spesifieke geestelike genadegawe gepraat, wat net deur fisiese aanraking en kontak oorgedra kan word. God het nie in die hemel gebly en met ons uit die hemele gekommunikeer nie. Hy het vlees geword en onder ons kom woon. Jesus se vleeswording impliseer die sintuiglike ontmoeting en aanraking tussen God en mens.  Dit is die nommer een manier om ‘n belangrike boodskap oor te dra.  Selfs aanlyn bemarkers verstaan dat ketting eposse nie regtig werk sonder die fisiese kontak tussen agente en mense nie, juis te meer as die konneksie deur ‘n vriend plaasgevind het.  Paulus verwys hier egter na ‘n geestelike geskenk, versterking en aanmoediging wat in die geestesrealm gebeur wanneer ons fisies byeenkom as gelowiges. Die wederkerige opbouing en aanmoediging is ook kenmerkend hier, dat beide die spreker en ontvanger seën uit die ontmoeting geput het.  Natuurlik impliseer die fisiese ontmoeting ook ware omgee. Mense gee spontaan tot ‘n nood wat hulle kan sien. Wanneer ons nie meer mekaar sien nie, is dit moeiliker om deernis te hê.  Die fisiese besoeke van Paulus was dan ook om gewoonlik offerandes wat bymekaar gemaak is op te tel, geskenke en pakkies uit te ruil.  

Groepsdinamika 

Wetenskaplikes is dit eens dat daar verskeie groep transformasies plaasvind in ‘n skare wat vir dieselfde doel byeen gekom het, soos ‘n kerkbyeenkoms teenoor ‘n skare mense by ‘n lughawe. Mense hou op om hulle te gedra in terme van hul idiosinkratiese oortuigings en gee voorkeur aan die hand van gedeelde norme, waardes en begrip. Mense prioritiseer wat gesien word as waardevol vanuit die groepsperspektief.  Verder sien mense anders in die skare as deel van die uitgebreide ‘self’ eerder as ‘n “ander”. Dit lei tot groter intimiteit en baie navorsing toon hoe gedeelde identiteit groter vertroue, respek, samewerking, wedersydse invloed, hulp en verwagtinge van ander se hulp tot gevolg het.  

Mense geniet die hegte en ondersteunende verhoudings van ‘n groep waarmee hulle identifiseer as gevolg van gedeelde identiteit. Meer nog, sulke hegte verhoudings in ‘n groep stel mense in staat om saam te werk en meer doeltreffend te wees om hul gedeelde doelwitte te bereik. [6]

Selfs al preek ek dieselfde preek, die bepaalde gehoor vir wie ek preek trek iets anders uit my uit.  Daar is dus ‘n ander dinamika en voordele wat in ‘n groepering plaasvind as tydens persoonlike Bybelstudie.  Persoonlike gebed, bybelstudie en aanbidding is belangrik om daardeur volgemaak te word, om tydens die samekoms vir mekaar tot seën te wees.  

Die oordrag, getuienis gee, en verkondiging van wat met my persoonlik gebeur het, is wesenlik belangrik tot my eie verdieping in dat wat ek verkondig.  Daarom was die NT byeenkoms gevul met geleenthede vir almal om te kan deelneem en vertel.  Dit was nooit God se plan, dat net een prediker tydens die hele byeenkoms alleen sou praat nie.  Natuurlik het Paulus soms so lank gepraat dat mense aan die slaap geraak het, maar dit was nie die norm nie. Paulus was ‘n reisende apostel, en wanneer hy sou opdaag by ‘n gemeente sou almal graag net na hom wou luister. Ek glo egter dat daar tog saam gepraat en gedeel is op die ou einde. Wat daar is waarde om self te vertel!! Sommige mense voel skaam, en is teruggetrokke in persoonlikheid en aard.  Nieteenstaande maak Jesus gedurig die beroep op die mense: om te getuig en hulle nie vir die evangelie te skaam nie.  Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele. (Mark 8:38; Luk 9:26) 

Gerief bring nie noodwendig geestelike groei nie

Dawid verklaar na die sonde oor die sensus wat hy van die volg gehou het: “Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” (2 Sam. 24:16-25) Felix wys die boodskap van Paulus van die hand, omdat dit nie nou gerieflik is nie, en mis die ewigheid. (Hand. 24:24-25) Ons almal hou van gerief, niemand wil meer wasgoed was met ‘n skrobplank nie! Daar is egter ook ‘n gevaar dat gerief ‘n afgod kan raak. Fisiese oefening, regte kos keuses, leer om nee te sê, is onombeerlik tot liggaamlike gesondheid en gewigsverlies. Jy kan nie video’s van ander mense se fiksheid kyk en dink jy gaan gewig verloor en fiks word nie.  

Mens ontdek die waarde van lofprysing, wanneer jy opstaan en met jou hele hart, siel en liggaam die Here begin loof!  Lofprysing is nie vir toeskouers nie.  Netso al die ander geestelike pligte: Gebed en intersessie, bybelstudie, dissipelskap, besoek die wees en die weduwee, lê jou hande op die siekes, en funksioneer in die gawes van die gees moet fisies uitgevoer word.  Hierdie take is natuurlik ook baie makliker wanneer ons dit saam verrig.  Die geestelike reis van die gelowige is gekenmerk deur self verloëning en gehoorsaamheid. (Matt. 16:24) Daarom kan ons nie net bestaan rondom dit wat gerieflik is nie, gehoorsaamheid vra by implikasie iets van jou.  Alles wat ons saam deurgaan is beter, makliker en meer behoudend – gedeelde smart – gedeelde lag.  

Ons kom nie bymekaar om net te ontvang nie maar om te gee

Julle het verniet ontvang, gee dit ook verniet. (Matt. 10:8) Niemand kan stry hoe lekker dit is om te kan gee nie! Geestelike groei is ‘n wederkerige wisselwerking van ontvang en gee, soos asemhaal.  Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ‘n bydrae om te lewer: ‘n psalm, ‘n onderwysing, ‘n openbaring, ‘n ongewone taal of klank, ‘n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop. (1 Kor. 14:26) Hierdie vers verduidelik NT liturgie. Elkeen bring iets om te gee! Dis die grootste onderskeid tussen aanlyn byeenkomste en fisiese samekomste. D.m.v. die aanlyn materiaal ontvang ons, maar by die fisiese samekoms kom ons om te gee.  Die grote van die samekoms speel natuurlik ook ‘n rol, hoe meer mense, hoe minder kan almal deel. 

Daar is waarde in die huiskerk en ook die groter samekoms. Elke gelowige moet deel wees van ‘n geestelike gesin! Hier bedoel ek ‘n huiskerk.  Want ‘n huiskerk is jou geestelike gesin, waar jy verantwoordbaar gebou word, en waar verhoudinge en omgee vir mekaar kan verdiep. Die Jesus beweging was in die eerste 200 jaar uitsluitlik ‘n huis-gesentreerde beweging. (Hand. 2:2, 46; 5:42) Die gesamentlike liefdesmaaltyd was wesenlik tot die eerste gelowiges se oorlewing. Saameet en vir mekaar sorg was hoe hulle vervolging kon weerstaan.  Geen mens weet hoe nodig hulle ‘n geestelike gesin het, totdat hulle en nodig het nie. TV en aanlyn bedieninge is waardevol maar die predikers kan jou nie in die hospitaal besoek, vir jou kos bring, of hulle motor vir jou leen nie.  Ons het mekaar nodig. Lojaliteit aan ‘n klein groep van mense raak die opvoedingsplek tot gebalanseerde geestelike volwassenheid.  

Ondersteunende toewyding 

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg. (Hand. 2:46-47) Almal weet hoe moeilik dit is om te gereeld te oefen. Daarom is saam oefen net soveel meer doeltreffend! Gelowiges wat gereeld saamkom, vorm ‘n band van omgee, aanspreeklikheid, verantwoordbaarheid, liefde en heiligmaking wat nie moontlik is op jou eie nie.    

Geestelike outoriteit en gesag 

Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.(Efe. 3:10) en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. (Mat 16:18) Ons elkeen het geestelike gesag ontvang om ons persoonlike demone te verslaan. (2 Joh. 2:14) Daar is egter sekere geestelike magte in die geesteswêreld wat net gesamentlik deur ‘n groep gelowiges wat gehoorsaam is in ‘n lokaliteit verslaan kan word.  Dit impliseer die gemeentes wat saamwerk in ‘n gemeenskap onder die hoofskap van Christus. (Efe. 1:22-23) Die kerk verstaan nog nie die heerlikheid en krag van God wat deur ‘n groepering in ‘n lokaliteit kan werk nie. Die solidariteit, wisselwerking, diversiteit wat net moontlik is deur die Heilige Gees verander gemeenskappe. Dink net aan die uitstorting van die Heilige Gees op die 120 in die bo-vertrek: het ‘n massiewe sosio-ekonomiese impak gemaak. Jubeljaar het in die hart begin! 

Ervarings is beter as inligting

Die Bybel is ‘n versameling van mense se ervarings met die Godheid. Niemand het soos ‘n joernalis hierdie ervarings gedokumenteer nie.  ‘n Mens vergeet nie sommer wat jy self beleef het nie. Aanlyn inligting is nie genoegsaam om hierdie tipe impak te maak nie. Ons moet dit wat ons gehoor het, gaan toepas en uitleef.  Die samekoms van gelowiges is die lanseer platvorm van groter dade van geloof en sending. Dink maar aan die uitstorting van die Heilige Gees, by 2 geleenthede. Die uitstuur van Paulus en Barnabas. Die gelowiges wat saam gebid het vir Petrus in aanhouding.  Die samekoms is ‘n sensoriese gebeurtenis, en het daarom meer ‘n blywende impak om ons menswees.  

Daar is navorsing gedoen oor die effek van oogkontak. Ons verhoudinge verdiep, en ons verbintenis met mekaar deur mekaar in die oë te kyk. Kommunikasie is ook baie meer effektief a.g.v. oogkontak, gesigsuitdrukkings en stemtoon.[7]Aanlyn kommunikasie is kragtig, maar beperkend. 

Aanraking is seker die mees onder ontwikkelende aspek van ons geloof. Aanraking word as die diepste sintuig beskryf.  Ons vel is ook die grootste sintuiglike orgaan. Natuurlik is aanraking nou bemoeilik met die vrees vir virusinfeksie oordraging.  Aanraking het ook ‘n baie lang geskiedenis in verskeie kulture.[8] Ons gaan nie gesond bly sonder aanraking nie, ons moet net nuwe gesonde manier vind om wel aan mekaar te raak. Soos om jou hand op iemand se skouer of rug te hou.  Die vyand het aanraking verdraai deur seksuele ondertone, en nou ook die gevaar vir infeksie. Tog is aanraking deel van die evangelie van Jesus, wat melaatses, dooies en siekes gesond gemaak het deur aanraking. 

Die balans tussen individu en liggaam.

Die boodskap en demonstrasie van die koninkryk van God bestaan om die realiteit van God se wêreld sigbaar te maak in hierdie wêreld. Hierdie demonstrasie van goddelike heerlikheid gebeur gelyktydig tussen die wisselwerking van die inspraak in die individu as tempel van die Heilige Gees, en dit wat hierdie tempels saam verwesenlik.  Die een kan nie sonder die ander nie. Mens raak nie deel van die liggaam deur aan ‘n gemeente te behoort nie, maar deur wedergeboorte en die aanneming en lewe vanuit Christus se geregtigheid.  Ons kan derhalwe ook nie as eilande funksioneer nie.  Die individuele ontmoeting met God, raak uiteindelik ‘n kollektiewe ontmoeting.  Soos selle in ‘n liggaam die liggaam laat leef, is die twee realiteite van sel en liggaam albei dié Liggaam. Selle wat hulleself van die liggaam afskei, is ‘n vorm van kanker, wat teen die liggaam begin veg.  Maar die liggaam kan nie sonder die selle nie.  Sien en ontwaak tot die belangrikheid van die kollektiewe bymekaarkoms, plek van ontmoeting! Die samekoms van gelowiges is meer as net een persoon wat ‘n preek. Dit is meer as net ‘n paar liedjies saamsing as toeskouers! Dit is God se mense wat met hul God ontmoet!! Dit is ‘n geestelike ontmoeting, want God is GEES wat ‘n behae het daarin om tussen Sy kinders te wees. Dit is Christus in en onder ons die hoop op heerlikheid. Dit is ‘n genesende, herstellende, regeneratiewe, versoenende ruimte van bevryding en vryheid! Dit is ‘n plek waar die HEILIGHEID van God die oorhand kry en alles in almal vul! Dit is ‘n plek van LIG! Dit is ‘n plek van samesyn, verbondenheid en eenheid! Dit is die hemel op aarde!


[1] www.reformed.org.za/afrikaans/lektuur/Traktate/trakt_openbaringsgawes.htm – Nico vd Walt

[2] Surpriced by thy Power of the Spirit. Dr. Jack Deere Pg 100.  Taken from the institutes of Christian religion, Prefatory address, 3 Calvin. 

[3] A Pauline theology of the Charismata, 1989, Peabody, Hendrikson, pg78. 

[4] http://en.wikipedia.org/wiki/Pentecostalism

[5] Bridges, K. (2014). Power of unlimited faith. [Place of publication not identified]: Destiny Image Pub. 

[6] https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S2210600615000635

[7] Manusov, Valerie. “Effects of Gaze on Hiring, Credibility, Attraction and Relational Message Interpretation.” Journal of Nonverbal Behavior (1985). 

[8] [3] Classen, C., 2012. Back In Touch The Deepest Sense. A Cultural History Of Touch. Urbana, Chicago, and Springfield, IL: University of Illinois Press.