Lofprysing en Aanbidding en die Liturgie van Viering

Musiek is sedert die begin van georganiseerde godsdiens ‘n beduidende deel van eredienste. Gewyde musiek het deur die eeue ontwikkel in styl en vorm soos die mensdom verander eers as ‘n vorm van gebed in sang, eenvoudige dreunsang, beurtsang tussen priesters en gemeente, simfoniese klassieke orkeste, kore, tot hedendaagse kontemporêre lofprysing en aanbidding wat groot skares trek.  Soos die evangelie meer en meer kulture begin kersten het, het die betrokke folk musiek kerk musiek beïnvloed, veral in die tyd toe bekende populêre melodieë gebruik is om preke te toonset.  

Die vraag is wat is die lofprysing waarna die Here verlang? 

Nadat Dawid se eerste poging om die Ark terug te bring na Jerusalem misluk het omdat hy nie die voorskrif  wat God neergelê nagekom het nie, maak Dawid groot voorsorg en stel verskeie families aan om hulle lewe te wy aan die ontwikkeling van lofprysing en aanbidding soos God dit verlang.  (2 Sam. 6) So het Saul ook ʼn duur les geleer, toe hy probeer het om met offerhande sy ongehoorsaamheid te verbloem.  God vra bo alles gehoorsaamheid.  (1 Sam. 15:22-23) 

Want omdat julle in die begin nie by was nie, het die Here onse God teen ons uitgebreek, omdat ons Hom nie gesoek het soos dit behoort nie. (1 Kron. 15:13) 

Dit is dan ons doel om die skrif te ondersoek en presies soos die woord vir ons voorskryf God te aanbid met ons hele hart, krag en verstand.  As gevolg van kulturele invloede en humanisme het aanbidding in die kerk vervreemd geraak met die voorskrifte en voorbeelde wat die Bybel leer.  Ons wil dus ons eie opinies en idees neerlê en soos kinders word sodat die Heilige Gees ons kan leer deur die Woord hoe ons God moet aanbid in Gees en in Waarheid. Ons doel is om in gehoorsaamheid aan God toe te laat dat Hy die vervalle hut en model van aanbidding wat deur Dawid opgerig is te herbou in ons midde. Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. (Hand. 15:16-17)

Nostalgie en Godsdiens

God is alomteenwoordig, maar van tyd tot tyd openbaar Hy homself op ‘n spesiale manier meer sigbaar en tasbaar tydens ‘n samekoms.  Die Bybel is juis ‘n versameling van stories waar mense bonatuurlik God se teenwoordigheid intens as shekinah heerlikheid in die OT, en die uitstorting van die Heilige Gees in die NT beleef het. 

Bono die bekende popgroep U2 se hoofsanger wat ʼn belydende Christen is; sê dat alle musiek ʼn vorm van aanbidding is.  Die een persoon aanbid sy verlore liefde, of ʼn plek, of ʼn persoon ens. ens.  Wanneer ons dan dans en saam hande klap op die ritme van ʼn mooi liedjie waarvan ons hou is ons besig met ʼn vorm van aanbidding.  Wanneer sommige egter God moet aanbid dan voel hulle geïnhibeerd en ongemaklik.  Die probleem is nostalgie, die aanbidding waarmee jy groot geword het in die kerk, is meestal die aanbidding wat jy verkies. Die bekendheid van ‘n bepaalde lied, herinner aan ‘n oomblik wat God deur daardie lied vir jou werklik gevoel het. Jou psige soek weer daardie belewenis, en daarom die by herhaling sing van daardie selfde lied.  

Maar die probleem lê nog veel dieper.  Daar is ‘n duidelike subjektiewe belewenis wanneer mense God beleef, en totaal en al oortuig raak van Sy bestaan, waarop ‘n verhouding voortvloei. Dan is ook ‘n groepering wat nog nie hierdie direkte ontmoeting met God gehad het nie, en dus as toeskouers objektief staan van ander se ervarings.  Die uitstorting van die Heilige Gees vertoon ook hierdie twee perspektiewe: “Kretense en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek (Hand 2:11)”.   “Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. (Hand 10:46)” Hier sien ons die reaksie van toeskouers op ‘n spesifieke groepering se eerste-handse belewenis om gevul te word met die Heilige Gees.  

Die goddelike belewenis is nie ons probleem nie.  Mense wat God waaragtig beleef het in ‘n visioen of ‘n verskyning soos Paulus op pad na Damaskus, Luther in die veld se hele lewe verander radikaal. Dit is die kern punt van ware reformasie! Geen mens sal voor ‘n lewende almagtige God staan en nie op die grond wil neerval en Hom aanbid nie! Lofprysing en Aanbidding in die Bybel is geen probleem of raaisel vir die wat God werklik ontmoet het of beleef het nie. Wanneer jy God persoonlik sien, beleef of ervaar, sal jy Hom loof en prys. Niemand sal jou hoef te leer hoe om dit te doen nie. Dis ‘n spontane reaksie op die werklikheid van Sy bestaan in jou lewe.  

Die veronderstelling sou dan wees dat die tweede groepering wat nog nie so ‘n ervaring gehad het nie, dan die probleem is. MAAR!! Nie alle gelowiges soos die 3000 wat tot geloof gekom het na Petrus se preek, het elkeen ‘n Damaskus ervaring gehad nie. Nogtans het hulle genoeg gesien om tot geloof te kom, en volgelinge van Jesus te word.  Sommige mense wat ‘n bonatuurlike ervaring met die Here gehad het, kan soms vreemde dinge doen en sê, wat nie versoenbaar met die Gees van die skrif is nie.  

Die waarheid is dus: Dit maak nie saak of jy dramaties deur ‘n persoonlike ervaring geraak is nie, of tot oortuiging gekom het deur ‘n goeie skrifgefundeerde preek nie, is jy besig om Jesus te volg? Om iemand te volg impliseer ‘n reeks ervaringe van sagte fluisteringe tot dramatiese aansporings.  Volg jy my! Oppas om God te reduseer tot jou nostalgiese ervaring! 

God is Gees en moet in Gees aanbid word.

‘n Mens kan nie regtig wegkom van die mistiese spirituele aard van lofprysing en aanbidding aan ‘n God was self Gees is nie. Dit impliseer ‘n bonatuurlike vorm van kommunikeer en interaksie. 

(2 Kor. 3:17) Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing. (1 Kor . 14:15b) Daar word ook verder verskeie kere spesifiek verwys na ‘n geestelike vorm van aanbidding.  Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, (Efe. 5:19; Kol. 3:16) Wat beteken in die Gees sing? Hoe klink dit? Hoe is dit anders as om met jou verstand te sing? Laat die skrif self die skrif verklaar.

Die onderskeid tussen om in die gees of in die verstand te sing of bid word in v14 verduidelik “Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.”  Om in die Gees te bid en te sing is dus nie by wyse van ‘n bekende aardse taal nie, maar ‘n hemelse gebedstaal. “Gees bid” word ook op ander plekke genoem: “in die Heilige Gees bid” (Judas 20), en “Geestelike liedere” (Efe. 5:19) Pinkster gelowiges wat in tale praat interpreteer (Rom. 8:26) “die Heilige Gees in my wat met God praat onuitspreeklike sugtinge” om ook na tale te verwys. 

Maar aanbidding in Gees en in waarheid is ook meer as net ‘n bonatuurlik taal. “Maar God het dit aan ons deur Sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.” (1 Kor. 2:10-11). Ons kan God nie begryp, en uitredeneer met ons verstand nie. Ons sien, hoor, verstaan deur die Gees. “Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ’n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Kor. 3:15-18). Petrus moes ‘n persoonlike geestes ervaring hê, soos die Vader Homself aan hom geopenbaar het om te sien wie Christus waarlik is. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.” (Matt. 16:17).

Aanbidding is dus geestelik, en nie net die sing van liedjies nie. Daar is ‘n geestelike konneksie.  God bedien ons as te ware in ons Lofprysing en Aanbidding om ons te wys wie He regtig is.  In hierdie oomblik van openbaring het ons nie altyd die woorde om te beskryf wat ons sien en beleef nie, en word daar op die oomblik ‘n nuwe lied in ons harte en sinne losgemaak. Geestelike liedere vind hulle oorsprong in hierdie oomblikke in die gees. (Ps. 33:3; 40:4; 96:1; 98:1; 144:9; 149:1; Jes. 42:10; Op. 5:9; 14:3). 

Die kern van ons hele aanbidding is om die Heilige Gees se hulp te soek, terwyl ons sing en aanbid. Want niemand kan God werklik aanbid of sien sonder dat die Vader Homself deur Sy Gees aan ons openbaar nie. (Matt. 16:17; Matt. 11:27; 1 Kor. 2:10; Gal. 1:16). 

Individuele aanbidding:

Toe buig die man hom neer en aanbid die Here (Gen. 24:26)

En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan, en dan spreek Hy met Moses. En as die hele volk die wolkkolom sien staan by die ingang van die tent, staan die hele volk op en buig, elkeen aan die ingang van sy tent. Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos ’n man met sy vriend spreek. (Eks. 33:9-34:8)

Korporatiewe aanbidding:

Daarna het Dawid aan die hele vergadering gesê: Loof nou die Here julle God. Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle vaders, geloof; en hulle het gebuig en voor die Here en voor die koning neergeval. (1 Kron. 29:20)

Lofprysing is ‘n geestelike wapen vir ons om moeilike tye te oorwin.

Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. ( 1 Pet 1:6-7) Sien die ryk betekenis van die woord verheug in hierdie vers! 

ἀγαλλιάω agalliáō; contracted agalliṓ, fut. agalliásō, aor. ēgallíasa, from ágan (n.f.), much, and hállomai (G0242), to leap. To exult, leap for joy, to show one’s joy by leaping and skipping denoting excessive or ecstatic joy and delight. Hence in the NT to rejoice, exult. Often spoken of rejoicing with song and dance (Sept.: Ps. 2:11; 20:5; 40:16; 68:3). Usually found in the mid. deponent agalliáomai.(I) Used in an absolute sense (Acts 2:26, “my tongue was glad,” meaning I rejoiced in words, sang aloud; Luke 10:21; Acts 16:34). It is sometimes put after chaírō (G5463), to rejoice, which is of less intense significance, and produces an expression meaning to rejoice exceedingly (Matt. 5:12; 1 Pet. 4:13; Rev. 19:7; see Ps. 40:16; 90:14).(II) With a noun of the same significance in an adv. sense (1 Pet 1:8 with chará [G5479], joy, “rejoice with joy unspeakable”).(III) Followed by hína (G2443), so that, with the subjunctive (John 8:56, “he rejoiced that he should see my day” [a.t.]).(IV) Followed by epí (G1909), upon, with the dat. (Luke 1:47).(V) Followed by en (G1722), in, with the dat. where a simple dat. might stand (John 5:35; Acts 16:34; 1 Pet. 1:16; Sept.: Ps. 13:5; 89:16).

Verder is dit interessant om te sien, dat lofprysing iets te doen het met toegang, ‘n hek, ‘n poort, ‘n deur, ‘n ingang! “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.” (Psalm 100:4) “Maak oop vir my die poorte van die geregtigheid; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here loof.” (Psalm 118:19) Lofprysing bied ons dus ‘n poort na die geesteswêreld om iets van die hemel te beleef hier op aarde. In die boek openbaring word van die 12 poorte van pêrel gepraat. “En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.” (Revelation 21:21) 

‘n Pêrel is ‘n klein, ronde verdikking wat deur weekdiere rondom sandkorrels of ander vreemde voorwerpe wat in die dier se liggaam of tussen sy liggaam en die skulp beland, gevorm word. Die belangrikste bron van pêrels is die pêreloesters, en pêrels wat hieruit gevorm word, is baie gesog in die juweliersbedryf. pêrels gevorm word wanneer ‘n vreemde voorwerp soos ‘n sandkorreltjie in die dier se liggaam of tussen die liggaam en die skulp van ‘n weekdier beland. Die weekdier reageer op die prikkel of irritasie deur skulpmateriaal daaromheen af te skei, wat ‘n verdikking veroorsaak en in ʼn tempo van 0,3 tot 0,6 mm per jaar tot ‘n pêrel uitgroei. Die lofprysing wat ons vir die Here bring wanneer dit juis swaar gaan, is baie spesiaal! Die irritasies in ons lewe, die doring in ons vlees, die swaarkry kan uiteindelik die instrument word waardeur die pêrel van God se heerlikheid in ons vorm aan neem. Die lyding is tydelik, maar die glorie is ewig! Daarom loof ons die Here, ten spyte van al die swaar! Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. (Hand 5:41) Lofprysing is ‘n manier hoe die Gees van die Here ons help om ons fokus van die probleem af te haal! Wanneer ons die Here begin loof, ten spyte van die boosheid, sleg, verkeerd, onreg, en oormag gebeur daar iets in ons gemoed. Ons verkry weer geloof! Ons kry weer hoop! Ons sien dinge vanuit God se perspektief! Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, (Rom 8:28) Hier is ‘n voorwaarde tot hierdie vers: “dié wat Hom liefhet. 

Die primêre manier hoe ons die Here kan wys dat ons Hom liefhet is deur ons gehoorsaamheid en deur ons lofprysing! Te veel mense wat hulleself christene noem is toesighouers!! Dis lekker om na ander se lofprysing te luister! Maar die krag lê juis daarin, om self die Here te loof! ‘n Boer loop in sy vrugteboord wat swak presteer en begin die Here ekspressief loof! Terwyl hy die Here loof begin Hy profeteer oor die bome. Daardie jaar presteer daardie bome beter as al die ander! Loof die Here!! Dis wonderlik om saam met gelowiges die Here te loof! Die kern van lofprysing gaan nie oor ons gerief, gemak, of om lekker te voel nie. Die kern van lofprysing is ‘n geloofsdaad waardeur ons die Here loof elke dag, heeldag, ten spyte van enige omstandighede! Die aanbidding van die Een, voor die aangesig van die Een!

Daar is bitter min inligting in die evangelies oor hoe Jesus aanbid het. Daar is een enkele vers dat Hy gekniel het. “Hy het toe ‘n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid.” (Mark. 14:35) Tydens die Pasga-maal het Jesus saam met Sy dissipels die gebruiklike Hallel (Ps. 114-118) gesing. “Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.” (Matt. 26:30) In een van die mooiste oomblikke van Jesus se aanbidding was toe die dissipels terug keer en getuig van die kragtige dade wat hulle ook kon vermag. “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit U genadige bedoeling.” (Luk. 10:21). Die woord “jubel”wat hier gebruik word is: ἀγαλλιάω agalliáō; to leap. “To exult, leap for joy, to show one’s joy by leaping and skipping denoting excessive or ecstatic joy and delight. Hence in the NT to rejoice, exult.”

Wat ‘n mooi prentjie, Jesus jubel lof tot die Vader!

Jesus was natuurlik duidelik gekant teen aanbidding net om deur mense gesien te word. “Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.” (Matt. 23:5).

Die een kerk kompeteer met die ander oor wie se aanbiddingstyl die beste is en die meeste mense trek. Aanbidding behoort egter Godgerig te wees. Watter aanbidding is vir God die aanneemlikste? Sekerlik is Jesus se lewe ons standaard omdat Hy die perfekte uitvoering van die wil van God is.

Jesus toon dat lof en aanbidding ‘n leefwyse is, en nie net iets is wat jy net in die kerk aan meedoen nie. Aanbidding is tussen mense, in die alledaagse, in die natuur. Reeds in die OT word daar melding gemaak dat God nie verheerlik word deur die bou van geboue nie. Eerder: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir My woord.” (Jes. 66:1-2). Jesus wys ons dus dat aanbidding ’n permanente leefstyl is en nie ’n plek waarnatoe jy gaan nie. My lewe, wandel, doen en late is Sy heiligdom (1 Kor. 3:16; 6:19; 2 Kor. 6:16). 

Jou Werk Is Aanbidding.

Ek onthou tydens ons besoek aan Pennsilvanië, waar die Amish-mense leef en boer, hoe beïndruk ons was met die netheid, presisie en pragtige, gesonde mielie- en koringlande. Ons staan tog net so in verwondering oor God se skepping. Mag die mensdom ook in verwondering staan oor ons skeppings, kreatiwiteit, kundigheid, werk-vrugbaarheid en diens! Ons werk is ook ’n preek!

Jesus kies om 90% van Sy lewe daaraan te wy om die Vader te aanbid en te verheerlik in ’n baie aardse, gewone alledaagse bestaan, tussen gewone mense. En Hy doen dan ook ’n beroep op ons om dieselfde te doen: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matt. 5:15). Buiten dat Jesus in hierdie tyd hard moes werk, leer Hy ons dat Hy en die Vader ook werk. “Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Joh. 5:17).

Die idee dat werk ook aanbidding is, kom van die Hebreeuse woord vir werk en aanbidding wat van dieselfde kernwoord afkomstig is: Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk (abad: skep, bewerk, arbei, vrugbaar, en diens) en op te pas (samar: om op te pas, te hou, te preserveer, te beskerm, versigtig, wag te hou – Gen. 2:15). Hierdie opdrag om te werk is voor die sondeval gegee en toon dat ons geskape is om te werk en rentmeesters te wees.”

Dis verder interessant hoe baie Jesus verwys na die landbou en om dinge te plant en te laat groei – Groei is ons lof aan die Here. Ons is geskape om te groei, vrugbaar te wees. Ons verheerlik die Here die meeste wanneer ons Sy skeppingsdoel uitleef! Die gelykenis van die saaier (Matt. 13: 1-23), die koring en die kaf: (Matt. 13:24-30, 36-43), die mosterdsaad (Matt. 13:31-32). Jesus sê ook vele kere dat ons soos ’n gesonde boom moet vrug dra (Matt. 3:8-10). Dat daar nie twee verskillende tipe vrugte uit een boom kan groei nie (Matt. 7:16-20). Ons moet siele gaan wen en die oes insamel; kyk, die oes is alreeds wit. Hy vervloek die vyeboom wat nie vrug dra nie. (Matt .21:18-20). Die Koninkryk is soos saad wat groei en vrug dra. (Mark. 4:26-29).

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” (Joh. 12:24).  Die offer van ons hart is dus ons hoogste lof! 

Jesus sien dus ons vrugbaarheid as ‘n vorm van aanbidding. Die twee gelykenisse en ook die vermenigvuldiging van die ponde (Luk. 19:11-27) en die talente (Matt. 25:14-30) gaan oor getrouheid en nie hoe goed ons goed oppas nie. Dit gaan oor hoe goed ons woeker met dit wat ons alreeds ontvang het.

Toe die Here die aarde geskep het, het Hy gesê dit was goed. Wat skep ons wat goed is? Hy word verheerlik deur wat ons skep. Sommige mense skep divisie, wanorde en verdeeldheid. Soos die skepping getuig van Sy heerlikheid en wie God is, so getuig die werke van ons hande.

Wanneer ons op die regte manier sake doen, word ons besigheid ’n manier om mense te bemagtig en op te rig. Daar word dikwels na ’n rassegroep verwys as sleg, en tog bestaan daar ’n Mercedes Benz-fabriek in Port Elizabeth wat aan Europese standaarde voldoen, met meestal Afrikane. Tans word Kigali beskou as die skoonste stad in Afrika. Dis nie die mens wat sleg of vuil is nie. Ons besigheidsmodel maak van mense óf slawe óf rig mense op. Korrupsie is nie net ’n heenwysing na slegte mense nie, maar ook die bewys van ’n swak stelsel.

Die hoogtepunt van die tuin-tema in Jesus se prediking is: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.” (Joh. 15:1-10). Jesus is hier baie reguit en op die man af: “Die wat My lief het, sal my gebooie bewaar.”

Reg leef in ’n goddelose wêreld is hoe ons God die meeste verheerlik. Sien Daniël, Nehemia, en Mordegai en Ester!

’n Godsvrugbare lewenstyl is hoe God die meeste verheerlik word. “Om geregtigheid en reg te doen, is vir die Here verkiesliker as offers.” (Spr. 21:3)

Sonder geloof kan ons God nie behaag nie.

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6) Die Pinkster Kerk is sinoniem met handeklap, hande opsteek en ekspressiewe lofprysing. Daar is in die ou dae soms na hulle verwys as die “Happyclappies”. Die Bybel maak direkte verwysings na ekspressiewe uitdrukkings van lofprysing: Inteendeel die gereformeerde geloof is die enigste godsdiens waar aanbidding nie-ekspressief is. Dink maar aan Boeddhisme, Islam, en al die oosterse gelowe, almal is ekspressief en sluit liggaamlike bewegings in.

  • Hande Klap – Ps. 47:2; Jes. 55:12
  • Juig, toejuig, uitroepe – Esra 3:11; Ps. 95:1-2
  • Sang – Ps. 100:4; Ps. 101:1; Ps. 105:2
  • Op jou aangesig lê – Gen. 17:3
  • Kniel en neerbuig – Ps. 95:6; Esra 9:5; Ef. 3:14
  • Staan – Gen. 18:22
  • Ophef van hande – Ps. 63:5; Ps. 28:3; 1 Tim. 2:8; 1 Kon. 8:54
  • Beurtsang – (Weerklink, eggo) Ps. 107; 136; Neh. 12:31, 40-42

Die gevaar is egter dat hierdie bewegings bloot robot bewegings word wat almal slaafs navolg. God soek geloof! Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Wanneer ek dus my hande klap, is daar ‘n doelgerigtheid, geloofsmotief daaragter. Byvoorbeeld: Om juis die Here te loof in dans, as my hele gemoed hartseer is en ek gekrenk voel oor slegte gebeure, is ‘n geloofsdaad! Om hande te klap en God juigend te aanbid, wanneer dit sleg gaan is ‘n geloofsdaad! Dit nie bloot bewegings nie. Net soos die Drie-eenheid, een Godheid is, so wil God ook dat ons gees, siel en liggaam in eenheid kom aanbid. My hele wese, hart, gedagtes, wil, intellek, liggaam is in harmonieuse eenheid en oorgawe voor God in my aanbidding.

Die hoogste vorm van aanbidding is ons geloofsvertroue in God.

God aanvaar Abel se aanbidding omdat hy geglo het. “Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ‘n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.” (Heb. 11:4) Toe hulle Jesus direk vra: “Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?” Jesus antwoord en sê vir hulle: “Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” (Joh. 6:28-29). “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6).

Selfs twee heidene, ’n Romeinse offisier en ’n Kanaänitiese vrou, word deur Jesus vereer vir hulle groot geloof: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ’n groot geloof teëgekom nie.” (Matt. 8:10).

“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond (Matt. 15:28). 

Dit is baie duidelik uit bostaande Skrifgedeeltes dat God die meeste behaag word deur ons geloof! Lofprysing en aanbidding verg geloof. “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.” (Gal. 5:6).

Daar is aanbidding en lofprysing-offers wat mense bring wat nie vir God aanneemlik is nie:

Lees die volgende verse en merk die weersin wat die Here het in valse of geveinsde lofprysing! 

 “Die Here het Abel en sy offer aanvaar, maar nie dié van Kain nie. Daaroor was Kain baie kwaad en neerslagtig. “Hoekom is jy so kwaad?” vra die Here vir hom. “Hoekom hang jou gesig? Is daar nie aanvaarding vir jou as jy reg optree nie? Maar as jy weier om reg te doen, moet jy oppas! Sonde sit reg by die deur om jou te oorweldig, maar jy moet dit oorwin.” (Gen. 4:4)

“Bring maar julle dankoffer van suurdeegbrood. Spog gerus openlik met julle vrywillige offers! Julle Israeliete hou mos daarvan om dit te doen!” (Amos 4:4-5)

“Ek wil liewer ’n vloed van regverdigheid sien, ’n eerlike leefwyse soos ’n stroom water wat nie ophou vloei nie.” (Amos 5:23)

“You sing trivial songs to the sound of the harp and fancy yourselves to be great musicians like David.”  (Amos 6:5)

“Wat het Ek aan julle baie offers? vra die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van voerbeeste; die bloed van bulle en lammers en bokke staan My nie aan nie. As julle kom om voor My te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap? Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het ’n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. Julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek. Hulle is vir My ’n las, Ek is moeg daarvoor. As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.” (Jes. 1:11-15) 

“Daar is liere en harpe, tamboeryne, fluite, en wyn by hulle fuifpartye. Maar van wat die Here doen, neem hulle geen notisie nie, sy dade sien hulle nie raak nie.” (Jes. 5:12)

“So het die Here gesê: “Hierdie mense sê hulle behoort aan My. Hulle eer My met hulle monde, maar hulle harte is ver van My af. En hulle aanbidding bestaan uit niks meer nie as menslike opdragte en tradisies.” (Jes. 29:13; Matt. 15:9)

Opregte Liefde – God Soek Jou Hart

Loof die Here met jou alles, die hele mens is betrokke. Liefde is die rigting van my hart. Soos ‘n man nie sy liefde vir sy vrou kan namaak nie, sy sien deur sy valsheid van blomme koop, maar jy praat hard en vat hard aan my. God soek ook ons opregte, ongeveinste, heelhartige liefde.

“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.” (Luk. 10:27). Dit impliseer eenvoudig dat jy die Here moet liefhê met jou gedagtes, jou emosies, jou liggaam, jou alles! Ons hele menswees is teenwoordig en betrokke om God voluit lief te hê. God is dus die fokus van ons hart. Ons alles, ons wil, ons lewe, ons begeertes, ons drome, ons passies, ons gedagtewêreld is gerig om God te loof en te prys. Geen dualisme (verdeling in opponerende kompartemente) nie.

Jesus laat toe dat die sondares sy voete was (Luk. 7:36-50; Joh. 12:1-11). Hierdie spontane liefdesgebaar raak die Here diep. Albei hierdie vrouens het hulle eie reputasie, en dit wat mense gaan sê, in die wind geslaan om hulle geloof en liefde in die openbaar te bely! Hierdie skaamtelose intieme liefdesdaad het die Here verseker behaag! Hulle het hulle alles gegee.

Spontane onbeplande aanbidding.

“Die volgende dag het ’n groot menigte feesgangers, toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom, palmtakke geneem en uitgegaan Hom tegemoet en geroep: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.” (Joh. 12:12-19). Dit staan in kontras met die vorm of godsdienspleging van die feesvieringe wat in dieselfde tyd deur die tempelleierskap gehou is. Is ons tog nie ook so, dat ons eerder die spontane liefdesgedig van ‘n kind, of wederhelf waardeer as dat hulle iets van ‘n papier aflees wat iemand anders geskryf het nie?

Verskillende Hebreeuse en Griekse woord verklarings en uitdrukkkings van lof.

Wanneer mens jou Bybel Woordeboek van en elkeen van hierdie woorde bestudeer, wat in die afrikaanse vertaling in die meeste gevalle net met een woord vertaal word, omdat ons bloot nog nie die woordeskat het om hierdie ou taal se diversiteit en diepe te beskryf nie.   Dan besef jy dat Lofprysing en Aanbidding is die emosionele reaksie op ‘n wonderlike, ondeurgrondelike, misterieuse, sovereine, onbeperkte, almagtige God! 

Samach                       to brighten up, be gleesome, cheer up, to be glad (Deut. 16:13)

Süws                            to be bright, cheerful, to be glad (Ps. 40:16)

Sâmeach                      blithe or gleeful, glad, joyful (Ps. 96:11)

Ranan                          to creak or emit a sound, i.e. to shout joyfully (Ps. 98:4)

Simchâh                      blithesome, exceeding gladness, pleasure (Jer. 31:13)

Güwl                           to spin around under the influence of violent emotion (Ps. 89:15-16)

Âlat                             to jump for joy (Ps. 9:2)

Alal                             to leap for joy, wave joyously (Job. 20:18)

Giyl                             joy exceeding, gladness greatly (Ps. 32:11)

âlaz                             to jump for joy ( Ps. 68 :4)

Sâchaq                        to laugh in pleasure, to play, make merry (Spr. 31:25)

Mâsôws                       delight (Isa. 8:6)

Alliyz                           to jump for joy (Jes. 13:3)

Chairo                         be cheerful, happy (Matt. 5:12 – in persecution; Fil. 3:1)

Sugchairo                    to rejoice with (Luk 15:6, I Kor. 12:26)

Agalliao                      to jump for joy (Joh. 5 :25, I Pet. 1: 6-8)

Euprano                      to put in a good frame of mind (Rom. 15:10, Gal. 4:27)

Kauchamaômai           to vaunt, to boast (Rom. 5:2, Fil. 3:3)

Kauchesis                    boasting whereof I may glory (2 Kor. 1: 12, I Tess. 2:19)[1]

God juig oor ons.

Die Here jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel. (Sef. 3:17) Suws = om bly te wees, vreugdevol, verblydend, vrolik en opgeruimd.  Rinnah = jubel, ‘n skril geluid, van blydskap of rou, uitroep van vreugde en blydskap, proklameer.  

Intersessie en aanbidding.  

Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed (tephillah) vir al die volke. (Jer. 56:7) Tephillah is ‘n gesang wat as ‘n gebed aan God gesing word.  Die Bybel is vol voorbeelde van hierdie tipe gesange.  Ps. 7, 9, 10, 11, 17, 55, 57, 70.  So is ook ons klaagliedere en versoeke aan God gesing.  Ps. 22, 94, 102, 109, 140. Verder is mense bemoedig en versterk deur die gebede sowel as God se antwoord op daardie gebed.  Ps. 66, 100, 103, 113, 114, 150.  

Profeteer deur instrumentale musiek.

Ek glo een van die redes hoekom die vervalle hut van Dawid se lofprysing herbou moet word, is omdat hy so ver gevorderd was om lofprysing en aanbidding ‘n voltydse beroep vir die musikante te maak.  Briljante musikante het die vermoë om deur hulle instrumente te kommunikeer.  Dawid en die amptenare in beheer het die seuns van Asaf, Heman en Jedutun vir ’n besondere diens afgesonder. Hulle was mense wat onder begeleiding van liere, harpe en simbale as profete opgetree het. Hier volg besonderhede oor die manne wat ’n funksie gehad het in hierdie diens. (1 Kron. 25:1) Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld, geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm! My mond sal louter wysheid spreek, en die oordenking van my hart is net verstand. (Ps. 49:2-4)  Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ’n getuie teen die kinders van Israel kan wees. (Deut. 31:19) Maar bring nou vir my ’n siterspeler. En toe die siterspeler op die snare speel, het die hand van die Here op hom gekom, (2 Kon. 3:15) Then Hezekiah commanded them to offer the burnt offering on the altar. And when the burnt offering began, the song of the Lord also began, with the trumpets and with the instruments of David king of Israel. (2 Kron. 29:27) 

Dit is interessant dat in die tyd van die groot komponiste was die kerk in baie gevalle die donateurs agter hierdie persone, om hulle finansieel te versorg, sodat hulle hulleself ongestoord aan hulle musiek kon wy.  Die groot kerke in Amerika, Australië en Engeland wat dieselfde doen, pluk die vrugte van wêreldwye aansien.   

Musiek is in wese geestelik, en maak ‘n appèl op ons emosies en selfs onderbewussyn soos geen ander kommunikasie medium nie.  

Die Liturgiese ruimte en feesviering.

Wat gebeur as gelowiges wat per definisie geestelike mense is byeen kom, vir ‘n geestelike byeenkoms? 

Die verwagting sou tog logies en direk wees, daar moet iets geestelik en bonatuurlik plaasvind. Tydens ‘n boekklub ontmoeting word daar voorgelees, by ‘n handewerk klas word iets gemaak, by ‘n studiegroep leer ons iets.  Wat gebeur tydens ‘n geestelike byeenkoms? 

As gelowiges het ons ‘n unieke geestelike band wat ons saambind. “en in verbondenheid met Hom deel julle in Sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag” (Kol 2:10) Ons deel dus in Sy volheid!!! Wat ‘n wonderlike verklaring! Ons deel in die volheid van Christus, “die hoof oor elke mag en gesag”!

Ons aanbid ‘n onsigbare God, wat ‘n Gees is. (2 Kor 3:17) Ons is geesvervulde mense wat deur die Heilige Gees die vermoë ontvang het om bonatuurlike dinge te vermag volgens 1 Cor 12 & 14. Die NT gebruik telkens die woorde “vol”, “gevul” “gedoop” met die Heilige Gees, ‘n oorvloedsbegrip om aan te dui dat mense se lewe nou deur die Gees beheer word.

Jesus se lewe was vol bonatuurlike kragtige dade, as ons soos Hy wil wees, hoekom sien sommige gelowiges die bonatuurlike as onnodig, nie vir almal, en nie vir vandag nie?

Ek pleit nie vir vreemde manifestasies waar mense in ‘n staat van vervoering en wegrukking vreemde gedrag toon nie. Alhoewel sekere geestelike ervarings en ontmoetings nie altyd verduidelik kan word nie.  Paulus sien ‘n lig en val op die grond. (Hand. 9:4) Tydens die uitstorting vd Heilige Gees, beskou die toeskouers hulle as vol soetwyn. (Hand 2:13) Die dinge van die gees maak nie sin vir die natuurlike mens nie. “dit is dwaasheid vir hom” (1 Kor 2:14) 

Die punt is: Ons byeenkomste moet inherent ‘n geestelike dinamiek en karakter hê, waar die oorsprong van wat gebeur nie vooraf beplan, bepaal, voorberei, en geoefen kan word nie.

Die teksvers in 1 Cor. 14:26 is die enigste vers in die Nuwe Testament wat ’n uitleg gee van die wyse waarop die program van ’n groep Nuwe-Testamentiese gelowiges se byeenkoms verloop het.

Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank, ’n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop  (1 Kor. 14:26 – NAV).

Let op hoe elke lid vir die byeenkoms moet voorberei om ‘n geestelike bonatuurlike bydrae te kom lewer. “. . . het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer”. ELKEEN HET. Dit beteken dat die vergaderings redelik lank geduur het: “. . . as julle saamkom om nagmaal te vier, wag vir mekaar” (1 Kor. 11:33); daar is getuig en gebid (1 Tim. 2:1, 8); daar is vir siekes gebid (Jak. 5:13-16); daar is teenoor mekaar belydenisse gedoen (1 Kor. 11:27-31). Dis baie duidelik; Christenskap in die Nuwe Testament is nie ’n toeskouer-geleentheid nie. Almal neem deel.

Kom ons ontleed hierdie vers (1 Kor.14:26) woord vir woord: 

ψαλμός psalmós: ’n Lied: die lied is met musiekbegeleiding gesing. Die jongste betekenis is in die Septuagint aanvaar. Dit verwys na alle waarskynlikheid na die psalms in Efesiërs 5:19 en Kolossense 3:16.  Sien die verskeidenheid met betrekking tot die oorsprong van hierdie liedjies. Psalms – bekende deuntjies en liedjies, Gesange – gewyde, poëtiese toewyding liede, Geestelike liede – waar die woorde vanuit die gees kom (1 Kor. 14:15 en “making melody in your heart” Waar die deuntjie ook vanuit die hart kom, dus spontaan, en impromptu.

διδαχή didachḗ: Om te onderrig. In ’n praktiese sin beteken dit die handeling van onderwys gee, onderrig, les gee (Mark. 4:2; 1 Kor. 14:6, 26; 2 Tim. 4:2). Heb. 5:11-6:2. Soek ’n “gesonde leerstelling”: 1 Tim. 4:6; 2 Tim. 4:3; Tit. 1:9; 2:1 (vgl 1 Tim. 6:3; 2 Tim. 1:13). Die skrifgeleerdes en fariseërs was kenners en studente van die Woord, maar het ongelukkig geval in die leringe en tradisies van die mens. (Mat 15:1-9) Die woord van God, is soos swem, jy leer nie om te swem op die grond, en in boeke nie. Jy leer om te swem, deur in die water te klim, en die instrukteur na te volg.  Lering is dus nie die oordra van kennis nie, maar om mense te inspireer om te hoor en te doen! Dit gebeur net, as die leraar self ook meedoen.

γλῶσσα glṓssa: Kwalitatief nuut; om nuwe tale te praat wat hulle voorheen nie geken het nie; dit beteken hulle het in tale gepraat wat nie hul moedertaal was nie (Mark. 16:17; Hand. 2:4; 10:46; 19:6; 1 Kor. 12:30; 14:2, 4-6, 13, 18, 23, 27, 39). Dit is betekenisvol dat talespraak en die uitleg daarvan as een van die hoofgebeure by ’n samekoms van Nuwe-Testamentiese gelowiges beskou is. Asof dit daardeur beklemtoon word. Dus, as jy wil deelneem, word gevul met die Heilige Gees deur in tale te praat (1 Kor. 14).

ἀποκάλυψις apokálupsis: om te onthul. Openbaar, blootlê, aan die lig bring, bekend maak. Die openbaring van geheimenisse verwys na Goddelike doelwitte en leerstellings wat voorheen onbekend en bedek was (Rom. 16:25; 1 Kor. 14:6, 26). Openbarings van God die Vader of Christus (2 Kor. 12:1, 7; Gal. 1:12; 2:2; Ef. 3:3). In Ef. 1:17 beteken “die Gees van . . . openbaring”  ’n gees wat die diep geheimenisse van God kan deurgrond en bekend maak. Openbaring is wesenlik vir ons om te weet wat, wanneer en hoe ons iets moet doen. Mense kan net dit doen wat hulle werklik verstaan. 

ἑρμηνεία hermēneía: om te interpreteer. Interpretasie, verduideliking (1 Kor. 14:26); dis ’n metoniem vir die vermoë om te interpreteer, as ’n charisma (1 Kor. 12:10), ’n geskenk. Alhoewel die woord “interpreteer” in hierdie geval spesifiek verwys na die uitleg van tale, is ek van mening dat die meeste van die aktiwiteite ’n vorm van interpretasie is. Die woord “hermeneutiek” word gebruik deur teoloë wat die wetenskap van Bybel-interpretasie beoefen. Visioene, drome en geestelike ervarings moet geïnterpreteer en beoordeel word (1 Kor. 14:29).

Alle dinge is uiteraard geestelik; gebede aan God wat ’n onsigbare Gees is (Joh. 4:24); ons eenheid en band as gelowiges (1 Kor. 12:26); geestelike oorlogvoering (Ef. 6:12). Dit is waarom ’n persoon wat optree vanuit ’n godsdienstige oogpunt, stelle reëls en liturgieë, nie kan funksioneer in ’n Nuwe-Testamentiese kerk wat uit Geesgevulde gelowiges bestaan nie. Dit is twee totaal verskillende bedryfstelsels.

Die belangrikste punt wat mens egter moet onthou, is: dit beteken nie net almal kry ‘n spreekbeurt nie! Dan kan dit ‘n baie lang uitgerekte vervelige byeenkoms word. (Mens het maar die geneigdheid om dwars van ander te wees) 

Die klem is dit wat die Gees wil!!

“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde” (Matt. 18:20). Paulus het selfs gesê hy is in die gees teenwoordig, al is hy liggaamlik afwesig (1 Kor. 5:3-4). Dit dui op ’n onsigbare draad, band, verbondenheid, naatlose kleed met die Gees van Christus soos dit in Sy Liggaam met Hom as Hoof  onthul word (Ef. 1:22). Die eenvoudigste manier is om die draad van die byeenkoms op te tel, met die vloei te verbind, na mekaar te luister en te resoneer, te harmoniseer. As die boodskap wat jy voorberei het nie pas nie, los dit – dis nie vir nou nie.  Luister fyn, en maak jouself leeg, sodat die Gees jou kan inspireer met dit wat Hy wil sê.

Stel jou in op die Gees van die byeenkoms. Van die eerste lied af let ons noukeurig op wat die aanbidding geopenbaar word , die voordansers resoneer en spieelbeeld met hul liggame simbolies dit wat gesing word en terwyl ons almal as liggaam daarop inskakel, ervaar ons ’n oop, hemelse openbaring en geestelike insig. Dan, wanneer ons dit wat ons sien en ervaar bekend maak, word die visioene duideliker en verstaanbaar. Hierdie godspraak te midde van Sy kinders was God se oorspronklike plan, om tussen Sy mense te wees. (Heb 12:18-24). Hy wou op die Sionsberg sy volk ontmoet, en self met hulle praat maar hulle was te bang.  Maar ons het gekom, by die Heilige Berg, ‘n geestelike byeenkoms, waar God deur ons almal praat, nie net deur een mens nie.


[1] Vir ‘n meer breedvoerige studie oor lofprysing sien gerus Miracle Bible Training Centre se kursus in hierdie verband. https://miraclebibletc.orgHarvester o.l.v. Pr Nola Pelser, Chantal Pelser, & Aje Pelser word wyd gereken as voorlopers in die oopbreek van Profetiese Lofprysing en dieper Intersessie deur musiek.