Wat is Kerk?

Password: warekerk

KERK OF NIE KERK

Zoom Opname

As kerk is ons nie skaam om betrokke te wees in nie-winsgewende diens en gemeenskap organisasies, lokale regering, skole, en breër gemeenskap nie. Ons glo in ‘n openhartige eerlike liefdevolle inklusiewe onpartydige verby die kerkmure tipe infiltrerende sout-en-lig tipe kerk!! 

Maar vandag wil die HERE ons terugroep na SY eerste AGENDA en FOKUS – KERKWEES! 

“Want so sê die HERE van die leërskare: ‘n Rukkie nog, ‘n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare.” (Hag. 2:6-21) 

Christus is “the desire of all nations” – Hy is wat die mens na soek.  

“DAAR is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer. So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel: Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, as ’n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.” (Jes. 42:1-9)

Nog nooit in die geskiedenis het ‘n politieke party, ‘n nuwe toonaangewende sakeonderneming, of ‘n deernis gedrewe NGO herlewing veroorsaak nie. Herlewing gebeur wanneer mense in die kerk hulle harte na die Here bekeer, en hulle saam God se oplossings vir die wêreld se nood demonstreer! 

Ekonomiese Jubileum waar niemand tekort gehad het nie, inklusiewe nie-rassige liefde en omgee, emosionele en geestelike vervulling, en koersvaste roeping identiteit is eerste deur die eertydse volgelinge van Jesus gedemonstreer!! Om ‘n pragtige kleuterskool te bou en te bedryf is wonderlik, maar beteken niks as ons nie al die kinders gelei het om Jesus persoon te ken en na te volg nie.  Ons demonstreer God se liefde deur mense kos te gee, maar dit help niks as ons hulle nie ook leer om hulleself van geestelike spys te versadig nie.  Ons kan bewusmaking programme aanbied om mense te waarsku oor die gevare van alkohol en dwelm misbruik, maar dit is wanneer mense waaragtig tot inkeer kom, en wedergebore word dat daar verandering plaasvind.  

Die teendeel is ook waar dat die kerk meestal dieselfde boodskap elke week aan dieselfde mense oordra. Ons moet juis betrokke raak by kleuterskole en skole om daar ons boodskap van verlossing te bring en te demonstreer.  

Wat is die verhouding tussen die kerk en die koninkryk van God?

Daar is tans ‘n agenda wat deur sommige as God se hart vir Sy kerk gepromoveer word as Koninkryk gerigte bediening maar in vyandskap teenoor die lokale kerk en gemeente.  Daar word as te ware vereis dat gekies moet word tussen kerk en koninkryk. Volgens Scott McKnight het die term “koninkryk” egter betekenisse aangeneem wat heeltemal in stryd is met wat die Bybel sê en ‘n gonswoord geword het vir sosiale geregtigheid. In sy boek “Kingdom Conspiracy[1]” bied McKnight ‘n skitterende Bybelse korrektief en ‘n radikale visie vir die rol van die plaaslike gemeente in die koninkryk van God. Koninkryk en kerk is nie twee agentskappe nie! Kerk is die agentskap wat God se koninkryk op aarde demonstreer! Sommige kerk het inderwaarheid nie ‘n koninkryk agenda nie, en bou hulle eie koninkryke, maar dit beteken nog steeds nie dat kerk en koninkryk los van mekaar kan staan nie. 

Gedurende die twintigste eeu het die opkoms van die sosiale evangelie en bevrydingsteologie ‘n omgewing geskep waar mense vry voel om die plaaslike kerk te minag terwyl hulle terselfdertyd beweer dat hulle die koninkryk van God dien. Die term koninkryk van God het op sy beurt ‘n baie vae idee geword. In hedendaagse terme beteken Koninkryk ‘n goeie daad deur goeie mense (Christen of nie) in die openbare sektor vir die algemene welsyn van alle mense” (Bl 4). McKnight debateer kerk = koninkryk.  “Koninkryksmissie is kerksending, kerksending is koninkryksmissie, en daar is geen koninkryksmissie wat nie kerksending is nie” (Bl 96). Die koninkryk van God bestaan uit burgers wat die koning dien en volgens Sy wil lewe. Terwyl mense buite die koninkryk baie goeie dinge kan doen – sommige wat selfs saamval met koninkrykswaardes, beteken nie hulle is outomaties burgers nie. Ware koninkrykswerk is nie om sosiale welvaart te verbeter nie.  Dit is juis die kernprobleem van die Sosiale Evangelie: Nêrens word daar ‘n appèl gemaak op mense om hulle te bekeer, te laat doop en gevul te raak met die Heilige Gees nie.  Nêrens word Bybelstudie en inskakeling in ‘n lokale familie om daardeur gementor en verantwoordbaar gehou te word benadruk nie.  

Natuurlik is dit so, dat sommige kerke soms hulle eie koninkryke bou, en dus nie besig is met koninkrykswerk nie, maar proselietmakery tot hulle eiesoortige soms kulturele beperkte aanbiddingsnorm.  Die koninkryk van God boodskap is belangrik, maar verwys na ‘n bepaalde manier van dinge doen.  Ons lei deur te dien. Ons kom eerste deur bereid te wees om laaste te wees. Ons ontvang meer, deur meer te gee. Ons het ons vyande lief. Ons vergewe ons skuldenaars al vra hulle nie vergifnis nie. Ons verwelkom om uit die kalklig te bly, sodat Hy ons sal verhoog op Sy tyd. Ons roem in ons swakheid.  Ons bou ons eie nalatenskap deur in ander te belê. Ons verloën self om deur Hom Sy lewe te ontvang.   Elke gemeente moet dus leer om koninkryksgerig te wees in alles wat hulle doen.  

Heiligheid is nie ‘n verhewe vroom witgepleisterde grafsteen soort lewe nie.  Heiligheid is die teenwoordigheid van ‘n liefdevolle regverdige God tussen Sy mense! 

Watter soort christenskap is die kerk besig om te skep

Die vraag wat Afrika Mhlophe tydens ‘n onlangse Afrika-leiersforum gevra het, het meer diepgaande aandag en dialoog nodig; “WATTER SOORT CHRISTENSKAP IS DIE KERK BESIG OM TE SKEP?” 

Joernaliste, hoofstroom media en films tipeer die kerk in ‘n swak negatiewe lig: Die kerk word beskuldig van: Institusionalisme; Materialisme; Seksuele wanpraktyke; Bedrieglike bediening praktyke, leierskap magsmisbruik, is irrelevant tot sosiale nood. 220 000 NGO’s in SA dryf nou sosiale ontwikkeling programme. Politieke partye word die profetiese stem van aanklag teen ekonomiese ongelykhede.  Para-kerk organisasies dryf gebed, dissipelskap, evangelisasie en versoening, restitusie agendas.  Met die COVID 19 pandemie word al hoe meer mense kerklos!! 

Al hoe meer mense verlaat plaaslike institusionele kerke en verkies hul geestelike dieet op sosiale media. 

Evangelisasie, en behoort aan ‘n plaaslike liggaam van gelowiges is aan die toenemende afname! 

Volgens die Pew Research Center is die “geen godsdienstige affiliasie” die vinnigste groeiende kategorie onder godsdienstige affiliasies op formele gemeenskap statistiek vorms en sosiale platvorms.  Tussen 1972 en 1989 het ongeveer 7% van die Amerikaners hulleself geïdentifiseer as geen formele godsdienstige affiliasie nie, maar tussen 1990 en 2012 het daardie syfer tot 15% gespring.[2] Meer en meer mense wil nie meer met die georganiseerde kerk geassosieer word nie.  

Ek glo ons erken almal dat die stand van die nasie ten opsigte van korrupsie, nepotisme, rassisme en die enorme ekonomiese ongelykheid wat in SA ervaar word, is omdat hierdie vestings steeds in die meeste kerke voortduur. Ons sien die bewys van Christelike nasies soos São Tomé en Príncipe; Kongo; Angola; Rwanda; Seychelle; Ekwatoriaal-Guinee; Lesotho; Namibië; en Swaziland met meer as 90% van hul burgers wat belydende Christene is, maar van die armste lande ter wêreld is.[3]  Suid Afrika is ‘n meerderheid konserwatiewe Christen populasie in ‘n oordrewe sekulêre humanistiese liberale Staatsbestel. Hoe het dit gebeur? Hoekom is die kerk nie meer ‘n bepalende stem in die samelewing nie? 

‘n Onlangse studie wat deur Barna groep gedoen is, het die samelewing se persepsie rakende geloof en Christendom ondersoek.  Die boek Good Faith het hierdie bevindings ontleed en bevind dat die meeste mense toenemend die kerk as ekstremisties beskou.[4] Die 2017 Pew-navorsing is meer spesifiek en toon dat die meeste volwassenes wat ondervra is, hulself steeds as Christene beskou, selfs al gaan hulle selde kerk toe.  Hierdie nie-aktiewe-lidmate se oortuigings oor sake van seks, geslag, nasionalisme, is baie meer liberaal as hoe dit deur die formele Kerk verkondig word.[5] Dit is dus baie duidelik dat die Kerk nie meer verenig is oor kwessies van leerstellings, wêreldbeskouing of beste praktyk lewenstandaarde nie.  Sien veral die polemiek tussen gelowiges oor die aanvaarding van homoseksualiteit, geslagsverandering en aborsie, dan praat ons nie oor die verdeeldheid oor Covid 19 inentings nie! Lees mense hoegenaamd dieselfde Bybel? Hierdie kwessie word in diepte in die hoofstuk oor Bybel interpretasie verduidelik. 

Die negentigste eeu kan as die eeu van evangelisasie bestempel word: Tentdienste en groot byeenkomste, televisie-uitsendings, het gesien hoe miljoene Jesus as persoonlike Verlosser aanvaar deur ‘n sondaarsgebed te bid. Voorbeelde: D. L. Moody, George Whitefield, Jonathan Edwards, John Wesley, Charles Finney, Billy Sunday, en in meer onlangse jare, Billy Graham, Franklin Graham, Luis Palau en Greg Laurie en natuurlik ons eie Suid-Afrikaanse Angus Buchan. En tog, in ‘n 1990-onderhoud met PBS, het Billy Graham self gesê hy glo dat slegs ongeveer 25% van diegene wat na vore kom by een van sy dienste uiteindelike belydende volgelinge van Jesus geword het. In onlangse jare het studies getoon dat slegs 6% van mense wat ‘na vore kom’ by ‘n evangelistiese byeenkomste, ‘n jaar later in hul oortuigings of gedrag anders leef. Natuurlik word beraam dat Billy Graham vir meer as 200 miljoen mense gepreek het, en 6% van 200 miljoen is steeds 12 miljoen. Dit is betekenisvol. 

Klem word altyd op die opvolg aksies geplaas, en plaaslike kerke word versoek om die geleentheid te gebruik om die net in te trek. Doeltreffende opvolg- en assimilasie in dissipelskap programme was nog altyd ‘n problematiese bekommernis. My persoonlike ervaring is: Die kos wat die vis gevang het, is wat die vis sal hou.  Die kos wat die vis aangetrek het, is wat die vis verwag om voorts te gaan ontvang.  Ongelukkig is baie lokale gemeentes ‘n dramatiese teenstelling van wat tydens ‘n evangelisasie byeenkoms beleef is.  As ons nie almal een boodskap leef en verkondig nie, maak dit assimilasie aan ‘n plaaslike gemeente moeilik. Verder, die mees volhoubare groei, is gemeentes wat hul eie lede mobiliseer om dissipels te maak![6]

As gemeente is ons nie skaam om betrokke te wees by nie-winsgewende diens- en gemeenskapsorganisasies, plaaslike regering, skole en die breër gemeenskap nie. Ons glo in ’n openhartige, eerlike, liefdevolle, inklusiewe, onpartydige, anderkant-kerkmure tipe infiltrerende sout-en-lig tipe kerk!! 

Maar vandag wil die HERE ons terugroep na SY eerste AGENDA en FOKUS – KERKWEES! 

Want so sê die HERE van die leërskare: ’n  Rukkie nog, ’n  kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare. (Hag. 2:6-21) 

Christus is “the desire of all nations” – Hy is wat die mens na soek.  

DAAR is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer. So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel: Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, as ’n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit. (Jes. 42:1-9)

Nog nooit in die geskiedenis het ’n politieke party, ’n nuwe toonaangewende sakeonderneming, of ’n deernisgedrewe NRO herlewing veroorsaak nie. Herlewing gebeur wanneer mense in die kerk hulle harte na die Here bekeer, en hulle saam God se oplossings vir die wêreld se nood demonstreer! 

Ekonomiese jubileum waar niemand tekort gehad het nie, inklusiewe nie-rassige liefde en omgee, emosionele en geestelike vervulling, en koersvaste roeping-identiteit is eerste deur die eertydse volgelinge van Jesus gedemonstreer!! Om ’n pragtige kleuterskool te bou en te bedryf is wonderlik, maar beteken niks as ons nie al die kinders gelei het om Jesus as Persoon te ken en na te volg nie. Ons demonstreer God se liefde deur mense kos te gee, maar dit help niks as ons hulle nie ook leer om hulleself met geestelike spys te versadig nie. Ons kan bewusmakingsprogramme aanbied om mense te waarsku oor die gevare van alkohol- en dwelmmisbruik, maar dit is wanneer mense waaragtig tot inkeer kom en wedergebore word dat daar verandering plaasvind.  

Die teendeel is ook waar dat die kerk meestal dieselfde boodskap elke week aan dieselfde mense oordra. Ons moet juis betrokke raak by kleuterskole en skole om daar ons boodskap van verlossing te bring en te demonstreer. 

Wat is die verhouding tussen die kerk en die Koninkryk van God?

Daar is tans ’n agenda wat deur sommige as God se hart vir Sy kerk gepromoveer word as Koninkryk-gerigte bediening, maar in vyandskap staan teenoor die plaaslike kerk en gemeente. Daar word as te ware vereis dat gekies moet word tussen kerk en koninkryk. Volgens Scott McKnight het die term “koninkryk” egter betekenisse aangeneem wat heeltemal in stryd is met wat die Bybel sê en ’n gonswoord geword vir maatskaplike geregtigheid. In sy boek Kingdom Conspiracy[1] bied McKnight ’n skitterende Bybelse regstelling en ’n radikale visie vir die rol van die plaaslike gemeente in die Koninkryk van God. Koninkryk en kerk is nie twee agentskappe nie! Kerk is die agentskap wat God se Koninkryk op aarde demonstreer! Sommige kerke het inderwaarheid nie ’n Koninkryk-agenda nie, en bou hulle eie koninkryke, maar dit beteken nog steeds nie dat kerk en koninkryk los van mekaar kan staan nie. 

Gedurende die twintigste eeu het die opkoms van die sosiale evangelie en bevrydingsteologie ’n omgewing geskep waar mense vry voel om die plaaslike kerk te minag terwyl hulle terselfdertyd beweer dat hulle die Koninkryk van God dien. Die term Koninkryk van God het op sy beurt ’n baie vae idee geword. In hedendaagse terme beteken Koninkryk ’n goeie daad deur goeie mense (Christen of nie) in die openbare sektor vir die algemene welsyn van alle mense (Bl. 4). McKnight debateer kerk = koninkryk. “Koninkryksmissie is kerksending, kerksending is koninkryksmissie, en daar is geen koninkryksmissie wat nie kerksending is nie” (Bl. 96). Die Koninkryk van God bestaan uit burgers wat die Koning dien en volgens Sy wil lewe. Terwyl mense buite die Koninkryk baie goeie dinge kan doen – sommige wat selfs saamval met koninkrykswaardes, beteken dit nie hulle is outomaties burgers nie. Ware koninkrykswerk is nie om sosiale welvaart te verbeter nie. Dit is juis die kernprobleem van die Sosiale Evangelie: Nêrens word daar ’n appèl gemaak op mense om hulle te bekeer, te laat doop en gevul te raak met die Heilige Gees nie. Nêrens word Bybelstudie en inskakeling in ’n plaaslike familie om daardeur gementor en verantwoordbaar gehou te word, benadruk nie.  

Natuurlik is dit so, dat sommige kerke soms hulle eie koninkryke bou, en dus nie besig is met koninkrykswerk nie, maar proselietmakery tot hulle eiesoortige, soms kulturele beperkte, aanbiddingsnorm. Die boodskap van die Koninkryk van God is belangrik, maar verwys na ’n bepaalde manier van dinge doen. Ons lei deur te dien. Ons kom eerste deur bereid te wees om laaste te wees. Ons ontvang meer, deur meer te gee. Ons het ons vyande lief. Ons vergewe ons skuldenaars al vra hulle nie vergifnis nie. Ons verwelkom dit om uit die kalklig te bly sodat Hy ons sal verhoog op Sy tyd. Ons roem in ons swakheid. Ons bou ons eie nalatenskap deur in ander te belê. Ons verloën die self om deur Hom Sy lewe te ontvang. Elke gemeente moet dus leer om koninkryksgerig te wees in alles wat hulle doen.  

Heiligheid is nie ’n verhewe, vroom witgepleisterde grafsteen soort lewe nie. Heiligheid is die teenwoordigheid van ’n liefdevolle, regverdige God tussen Sy mense! 

Watter soort christenskap is die kerk besig om te skep

Die vraag wat Afrika Mhlophe tydens ’n onlangse Afrika-leiersforum gevra het, het meer diepgaande aandag en dialoog nodig; “WATTER SOORT CHRISTENSKAP IS DIE KERK BESIG OM TE SKEP?” 

Joernaliste, hoofstroommedia en films tipeer die kerk in ’n swak, negatiewe lig: Die kerk word beskuldig van: institusionalisme; materialisme; seksuele wanpraktyke; bedrieglike bedieningspraktyke, magsmisbruik deur leierskap; irrelevant tot sosiale nood. In Suid-Afrika bedryf 220 000 NRO’s nou maatskaplike ontwikkelingsprogramme. Politieke partye word die profetiese stem van aanklag teen ekonomiese ongelykhede. Para-kerk-organisasies dryf gebeds-, dissipelskap-, evangelisasie-, versoening- en restitusieagendas. Met die Covid 19-pandemie word al hoe meer mense kerklos!! 

Al hoe meer mense verlaat plaaslike institusionele kerke en verkies hul geestelike dieet op sosiale media. 

Evangelisasie, en om aan ’n plaaslike liggaam van gelowiges te behoort, raak toenemend onbelangrik! 

Volgens die Pew Research Center is die “geen godsdienstige affiliasie” die kategorie wat die vinnigste groei onder godsdienstige affiliasies op formele gemeenskapstatistiekvorms en sosiale platforms. Tussen 1972 en 1989 het ongeveer 7% van die Amerikaners hulleself geïdentifiseer as deel van geen formele godsdienstige affiliasie nie, maar tussen 1990 en 2012 het daardie syfer tot 15% gespring.[2] Meer en meer mense wil nie meer met die georganiseerde kerk geassosieer word nie.  

Ek glo ons erken almal dat die stand van die nasie ten opsigte van korrupsie, nepotisme, rassisme en die enorme ekonomiese ongelykheid wat in SA ervaar word, bestaan omdat hierdie vestings steeds in die meeste kerke voortduur. Ons sien die bewys van Christelike nasies soos São Tomé en Príncipe, Kongo, Angola,; Rwanda,; Seychelle,; Ekwatoriaal-Guinee,; Lesotho,; Namibië en Swaziland met meer as 90% van hul burgers wat belydende Christene is, maar dis van die armste lande ter wêreld.[3] Suid Afrika se bevolking bestaan uit  ’n meerderheid konserwatiewe Christene in ’n oordrewe sekulêre, humanistiese, liberale staatsbestel. Hoe het dit gebeur? Hoekom is die kerk nie meer ’n bepalende stem in die samelewing nie? 

’n Onlangse studie wat deur die Barna-groep gedoen is, het die samelewing se persepsie rakende geloof en Christendom ondersoek. Die boek Good Faith het hierdie bevindings ontleed en bevind dat die meeste mense toenemend die kerk as ekstremisties beskou.[4] Die 2017 Pew-navorsing is meer spesifiek en toon dat die meeste volwassenes wat ondervra is, hulself steeds as Christene beskou, selfs al gaan hulle selde kerk toe. Hierdie nie-aktiewe lidmate se oortuigings oor sake soos seks, geslag en nasionalisme is baie meer liberaal as hoe dit deur die formele Kerk verkondig word.[5] Dit is dus baie duidelik dat die Kerk nie meer verenig is oor kwessies van leerstellings, wêreldbeskouing of bestepraktyk-lewenstandaarde nie. Sien veral die polemiek tussen gelowiges oor die aanvaarding van homoseksualiteit, geslagsverandering en aborsie, en dan praat ons nie oor die verdeeldheid oor Covid 19-inentings nie! Lees mense hoegenaamd dieselfde Bybel? Hierdie kwessie word in diepte in die hoofstuk oor Bybel-interpretasie verduidelik. 

Die twintigste eeu kan as die eeu van evangelisasie bestempel word: tentdienste en groot byeenkomste, televisie-uitsendings, mense sien hoe miljoene Jesus as persoonlike Verlosser aanvaar deur ’n sondaarsgebed te bid. Voorbeelde: D. L. Moody, George Whitefield, Jonathan Edwards, John Wesley, Charles Finney, Billy Sunday, en in meer onlangse jare Billy Graham, Franklin Graham, Luis Palau en Greg Laurie en natuurlik ons eie Suid-Afrikaanse Angus Buchan. En tog, in ’n 1990-onderhoud met PBS, het Billy Graham self gesê hy glo dat slegs ongeveer 25% van diegene wat na vore kom by een van sy dienste uiteindelik belydende volgelinge van Jesus geword het. In onlangse jare het studies getoon dat slegs 6% van mense wat “na vore kom” by evangelistiese byeenkomste, ’n jaar later in hul oortuigings of gedrag anders leef. Natuurlik word beraam dat Billy Graham vir meer as 200 miljoen mense gepreek het, en 6% van 200 miljoen is steeds 12 miljoen. Dit is betekenisvol. 

Klem word altyd op die opvolgaksies geplaas, en plaaslike kerke word versoek om die geleentheid te gebruik om die net in te trek. Doeltreffende opvolg en assimilasie in dissipelskapprogramme was nog altyd ’n problematiese bekommernis. My persoonlike ervaring is: Die kos wat die vis gevang het, is wat die vis sal hou. Die kos wat die vis aangetrek het, is wat die vis verwag om voortaan te ontvang. Ongelukkig is baie plaaslike gemeentes ’n dramatiese teenstelling van wat tydens ’n evangelisasiebyeenkoms beleef is. As ons nie almal een boodskap leef en verkondig nie, maak dit assimilasie in ’n plaaslike gemeente moeilik. Verder, die mees volhoubare groei, is gemeentes wat hul eie lede mobiliseer om dissipels te maak![6]

Kom ons veronderstel dat alle kerke en bedieninge dieselfde doel het om elke mens ’n volgeling van Christus te maak en in volwassenheid in Hom te laat opgroei! ’n Onlangse studie is voltooi om die geestelike volwassenheid van lidmate te bepaal. Geestelike groei is gekategoriseer tussen:

  1. Die verkenning van Christus – geïnteresseerd, maar nie aktief nie.
  2. Groei in Christus – het hul geloof in Christus uitgespreek, maar nog nie hulle lewenstyl aangepas nie.
  3. Naby aan Christus – hulle kan Sy stem en leiding onderskei, maar is in worstelstryd teen Sy waardes.
  4. Volwasse in Christus – ten volle oorgegee in lewenstyl, waardes, denkpatroon, beroep, gewoontes en karakter. 

Volgens hierdie navorsing is dit nie die kerkprogramme wat groei inspireer nie. Ons het geleer dat die mees effektiewe strategie om mense vorentoe te beweeg in hul geloofsreis, is Bybelse betrokkenheid en voorbeeldige leierskap:

Goeie geestelike leiers:  

  1. Mobiliseer hulle mense tot aktiewe diensbaarheid. 
  2. Grondves alle aksies vanuit die Woord van God. 
  3. Bemagtig mense om eienaarskap te neem. 
  4. Hulle is die herder van hulle gemeenskap asook die plaaslike gemeente. 

Die kern van geestelike groei is nie hoe besig mense met godsdienstige kerkaktiwiteite is nie, maar hoe betrokke hulle met Christus is. Hoe naby leef ’n persoon aan Christus? Is hulle ten volle oorgegee aan Sy wil en Sy leer? Prioritiseer hulle geloof in hulle daaglikse lewe? Groei hulle in hulle liefde vir God en ander? 

In 2004 het Willow Creek Community Church navorsing voltooi wat uiteindelik die REVEAL Spiritual Life Survey sou word. Op grond van die aanvanklike bevindings, sowel as data van meer as 150 000 gemeentes in 500 kerke, het die REVEAL-span ’n manier ontdek om in die harte en gedagtes van gemeentes te sien. Die uitkoms van die studie beklemtoon die belangrikheid van Skrifgebaseerde, reformerende tipe kerke, wat hulself as individue maar ook saam as gemeenskappe toelaat om voortdurend omskep te word in die gelykenis van Christus. Die studie toon dat dit moontlik is, en dit openbaar hoe Christus-gesentreerde groei lyk. [7]

Die uiteindelike doel van kerk en die “Koninkryk van God”-benadering is volwassenheid in Christus. Hoe sien ons die lewe deur Sy oë? Hoe voel ons deur Sy hart? Hoe leer ons om met dieselfde heelheid en genesende liefde op die wêreld te reageer? Dit is waaroor christelike ortodoksie regtig gaan. Dit gaan nie net oor die regte geloof nie; dit gaan oor regte praktyk en leefstyl. 

Hier is die grootste onderskeid tussen diegene wat ’n sosiale evangelie verkondig as God se hart vir Sy Kerk. Geen NRO kan Christus alleen verkondig as die model, metode, fokus en ontwikkelingsprogram nie. Die wetgewing oor vryheid van spraak en sekulêre samelewing laat dit nie toe nie, en sal dit ook nie befonds nie. Die Koninkryk van God kom in Sy volheid hier op aarde soos in die Hemel wanneer almal hulle knie buig voor Sy wil en manier van leef! Meer nog, Sy Koninkryk kom wanneer almal uiteindelik as ’n gemeenskap volwasse word om Sy wil te leef.  

NRO’s en diensorganisasies kan van tyd tot tyd wonderlik bydra tot hierdie ontwikkeling, maar bied nie ’n volledige, stabiele ekosisteem van geboorte tot bejaardheid vir die mens nie. Dit is net die ware Kerk wat dit kan doen, want die Kerk bestaan sedert Christus se Hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees. Die Kerk is ewig! Het baie kerke hierdie roeping verloor, en mis heeltemal die Christus-merk? Sekerlik! Soos geen mens daarop kan aanspraak maak dat hulle volkome en perfek in Christus is nie, is daar ook geen perfekte kerk nie. Daar is egter menige kerke wat wel die merk meer dikwels tref as mis! 

Die logiese progressie vir enige gemeente is dan om hulleself in prediking en aktiwiteite algeheel toe te wy aan wie Christus werklik is. Soos mense saam met Christus op reis ontwikkel en groei, sal hulle hele bewussyn, identiteit, waardes, denkwyse, gewoontes, karakter, beroep en lewe verander om in Hom met mekaar in verbondenheid te leef. Vanuit hierdie Jesus-gesentreerde bestaan reformeer ons elke aspek van die samelewing.  

’n Kerk het ’n multi-fokus bestaan

’n Fundamentele besigheidsbeginsel vir enige suksesvolle organisasie of sakeonderneming is sy enkelvoudige doelgerigte fokus om een enkele ding uitmuntend goed te doen. Hierdie fokus word uiteindelik jou handelsmerk. Die kerk is geheel anders. ’n Gesonde, funksionerende kerk is in al die sektors van die samelewing betrokke. Dink aan die metafoor wat Jesus Sy Kerk gee: Ons is soos suurdeeg, sout en lig. Suurdeeg versprei deur die hele deeg. Sout versprei en verdwyn in die kos. Lig kan nie ingeperk word nie. 

Die realiteit vir die meeste gemeentes is egter dat een plaaslike gemeente onmoontlik nie al die verskillende tipes bedieninge wat beskikbaar is vir die Liggaam van Christus, in een plek kan mobiliseer of finansieel ondersteun nie. Die meeste gemeentes kan skaars hulle predikant bekostig. Dit is JUIS op hierdie punt waar ek glo die Woord van God ons ’n algehele anderse manier van dink uitwys! Wat as ons dit kan sien, ’n geestelike revolusie kan veroorsaak! 

Almal weet dat die kerk in die Nuwe Testament met ’n menslike liggaam vergelyk word. Ons liggame is ’n wonderlike, komplekse simbiose van baie verskillende deeltjies wat almal saamwerk en mekaar dien ter wille van die liggaam. Siekte gebeur gewoonlik wanneer die mikro-organismes werksaam in ons liggaam nie in balans is nie. Ons kan nie die liggaam tot net een deel of funksie reduseer nie. Al die komponente is belangrik en nodig! 

Hier is die God-geïnspireerde gedagte: Verwyder die godsdienstige dualisme tussen gelowiges se beroepslewe en hulle aanbidding in die Heiligdom. Hoekom word daar ’n onderskeid getref tussen aktiwiteite in die kerk en in alledaagse lewe? Ons lewe is aanbidding! Alles wat ons doen moet Hom verheerlik! Iemand wat waaragtig gevul is met die Heilige Gees en lewe vanuit Sy volheid, leef nie in kompartemente nie.

’n Baie dieper vraag wat ons breedvoerig in die laaste hoofstuk gaan behandel, is of kerke egter bereid is om hulle naam en eer te verloor soos hulle lidmate in die gemeenskap assimileer en verandering bring? Sout en suurdeeg word uiteindelik in die deeg of kos opgeneem, en verloor hulle oorspronklik vorm. Soms wil kerke ’n magsbasis behou, en alles moet in die naam van die betrokke kerk en vir die kerk gedoen word. Terwyl Jesus se voorgestelde ekosisteem ’n baie meer subtiele reaksie tot gevolg het. Sommige sien die kerk se invloed as ’n sigbare hamer wat sy gesag moet ten toon stel, terwyl die Jesus-model baie meer subtiel, soos welriekende aroma, die atmosfeer verander. 

Sien die prentjie op die legkaart-boks-perspektief! Die prentjie op die kartonhouer is pragtig en aanneemlik. Elke stukkie van die liggaam van Christus het ’n presiese vorm en skeppingsdoel, soos legkaartstukke. Gooi al die stukke op ’n tafel, en dit lyk verskriklik deurmekaar, en niks soos die prentjie op houer nie. Wanneer mens na die plaaslike gemeente kyk as ’n enkele legkaartstukkie, dan lyk dit bedreig, eensaam, verwyderd, sonder ondersteuning, soos gefragmenteerde en soms onherkenbare entiteite. Sien egter hoe al die stukke byeen kom, en dit vorm ’n pragtige landskap. Soms is een stukkie net een kleur, en mens weet nie waar dit inpas nie. Voltooi egter die legkaart sonder die een verlore stukkie en die hele beeld is geskaad. Dit kos moeite en tyd om ’n legkaart te bou.  

Verloor een legkaartstukkie en die hele legkaart is nutteloos. Die samelewing toon duidelik die kleurlose gate waar die kerk sy posisie en invloed geabdikeer het. Die kerk se invloed was nooit bedoel om ’n nasionale magsbasis teenoor die staat te wees soos in die era van die Romeinse Ryk nie. Maar die kerk moet soos ’n vyeboom in die wingerd, ’n Moses in Egipte, ’n Daniel in Babilon, ’n Ester en Nehemia in Persië individue bemagtig en versterk om ’n nie-kompromitterende wesenlike invloed in elke sektor van die samelewing te wees. Ons moet as te ware ons mense so sterk en waterdig maak dat ons hulle kan uitstuur in die oseane van die wêreld, sonder dat water in die boot lek! 

Die plaaslike gemeente is veronderstel om ’n veilige hawe, basis en ankerpunt vir elke gelowige te wees om Jesus se lewe en waardes in elke moontlike beroep wat bestaan te gaan uitleef. 

Die belangrikheid van die gesonde florerende plaaslike gemeente!

Ons land staan op ’n kantelpunt. Die lewendige, verenigde, Gees-vervulde, vrugdraende, gehoorsame kerk wat Sy roeping verstaan en leef, gaan die katalisator wees wat konflik oor ekonomiese en maatskaplike inklusiwiteit en gelykheid gaan ontlont. ’n Jesus-waardesisteem, -denkwyse, -gewoontes en -gesindheid is die enigste oplossing vir ons land.   

Die kerk en gemeentes behoort voortdurend getransformeer te word na die beeld van Christus: die volk van God, die huisgesin van die Vader, die liggaam van Christus en die tempel van die Heilige Gees. Daar is net één kerk, naamlik die Kerk van Christus, wat nog altyd bestaan het en altyd sal bestaan. 

In die Ou Testament word die teenwoordigheid van God geopenbaar deur ’n wolk wat die volheid van Sy heerlikheid simboliseer. Die wolk van heerlikheid – die Shekinah van God – het onder sy volk in die tabernakel kom woon (Eks. 40:34) en later in die tempel (1 Kon. 8:10-11). In Esegiël is daar egter ’n grafiese waarskuwing van hoe God se heerlikheid van Israel wegtrek weens die sonde van die volk (Eseg. 9:3).  

Terwyl Hy hier op aarde was, het Christus vir Petrus, Jakobus en Johannes ’n kykie gegee van Sy heerlikheid toe Hy voor hulle verheerlik is. (Matt. 17:1-6; Mark. 9:1-13; Luk. 9:27-36; 2 Pet. 1:16-18) 

Christus is die volle demonstrasie van die heerlikheid van God. 

God se heerlikheid is nou gesentreer in Christus! Christus is die volheid van God se heerlikheid. Die Ou-Testamentiese  heerlikheid was ’n afskynsel, ’n wolk, ’n brandende braambos, ’n lig, maar God het in Persoon Sy volle heerlikheid in Christus geopenbaar. 

Die kerk is belangrik omdat sy vir Christus belangrik is:

Christus het die kerk gestig. (Matt. 16:18)

Haar met Sy bloed gekoop. (Hand. 20:28)

Identifiseer Homself intiem daarmee. (Hand. 9:4)

Die kerk is die liggaam van Christus (Ef. 1:23; 4:12; 5:23-32; Kol. 1:18, 24; 3:15; 1 Kor. 12:12-27),

Is die woonplek van Sy Gees (Rom. 8:9, 11, 16; 1 Kor. 3:16-17; 6:11, 15-17; Ef. 2:18, 22; 4:4), en die hoofinstrument om God in die wêreld te verheerlik.

Dit is U wat die rol mag neem om sy bande oop te breek want U is doodgemaak, en met u bloed het U mense gekoop uit al die volksgroepe en tale en volke en nasies wat daar is sodat hulle aan God kan behoort. U het hulle konings en priesters van ons God gemaak, en hulle sal soos konings op die aarde wees. (Open. 5:9).

Die hoofrede hoekom nie-winsgewende organisasies, politieke partye en besighede nie God se heerlikheid ten volle kan demonstreer nie, is omdat dit as sekulêre, fidusiêre wetgewende instansies aan hierdie sekulêre wêreld verslag moet doen, en dus ter wille van godsdiensvryheid ’n kompromis moet aangaan wat Christus betref!

Hierdie instansies is belangrik, en deel van ons arsenaal om die wêreld te dien en te help, maar die kerk is ’n heilige instansie, wat God se heerlikheid in Christus moet versprei!! 

Een van die massiewe verskille tussen die lewe met God in die Ou Testament en lewe met God in die Nuwe Testament is dat in die Nuwe Testament al ons bewuste verheerliking van God “in Jesus Christus” moet wees. Ons verheerlik God die meeste wanneer ons Christus akkuraat demonstreer.

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelykte word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. (2 Kor. 3:18)

God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seën ryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. (Kol. 1:25-28)

Ons skuld ons medemens dat hulle Jesus se bloudruk van lewe in ons KERKWEES sal kan sien.  

Elke kerkgroepering soek en streef na hulle eie verstaan van God se heerlikheid en heiligheid. Daar is soveel meer, maar ons stop ongelukkig duskant die VOLLE heerlikheid van God:

Pinkster: ’n Mistiese, bonatuurlike, ekstatiese ervaring tussen God Sy mense. Want God is Gees. 

Charismaties: Elke lidmaat het ’n bediening om deur die gawes van die Gees, die Koninkryk van God te demonstreer. So word God se bonatuurlike heerlikheid prakties in elkeen gedemonstreer.

Gereformeerd: Gelowiges wat deur akkurate leerstellige begrip en voorbeeldige lewe[8] en God se heerlikheid demonstreer. 

Katoliek: Die wêreld word versorg deur die moederkerk. 

Baptiste: Die diepste verlange van die menslike hart kan net ten volle tevrede wees deur God se heerlikheid na te jaag. Trouens, God is die meeste verheerlik in ons wanneer ons die meeste tevrede is in Hom.[9]

Die dissipelskap-gefokusde kerke glo dat die Here die meeste verheerlik word wanneer gelowiges volwasse word deur geestelike mentors en ’n leefwyse kweek wat Jesus reflekteer – in waardes, gewoontes, woord en daad.[10]

Dan is daar die groepering wat meditatiewe, innerlike spiritualiteit beklemtoon en God se heerlikheid beleef in gebed en meditasie, musiek, poësie en kuns. 

Die sosiale reg-beweging sien God se heerlikheid wanneer wetgewing verander en in lyn kom met God se Wet en Voorskrifte.

Die evangelistiese beweging sien God se heerlikheid in die hoeveelheid mense wat gered word, en gedoop word.

Elkeen sien ’n deel van God se heerlikheid en nabyheid, maar ons soek dit alles saam, en nog meer soos God in Sy volheid deur die kerk Sy liefde aan die wêreld demonstreer.

Mense is honger vir die realiteit van God Self.  

’n Wonderlike voorbeeld is die impak van die wêreld se grootste kerk: The Yoido Full Gospel Church, Seoul, Suid-Korea. Gestig deur David Yonggi Cho en Choi Ja-shil in 1958, word die kerk tans gelei deur Dr. Young Hoon Lee. Die grootste Pinksterkerk in die wêreld.[11] Die impak van die kerk op alle vlakke van die samelewing is verstommend!  

Reg oor die wêreld rig die Here geestelike families op, elkeen onder die ouerskap van geestelike leiers en ons dit noem ’n gemeente of kerk. Geen mens sal ooit die volheid van Christus kan demonstreer nie, so ook geen gemeente nie. Net soos wat verskillende mense Christus beperk het deur hulle vrees, vertwyfeling, inhibisie of minderwaardigheid, beperk gemeentes ook die Here. God se heerlikheid begin in ’n individu. Kerk is die vermenigvuldiging van God se heerlikheid soos ons begin saamwerk.  

Kies ’n gemeente in jou plaaslike omgewing, word deel daarvan en begin KERKWEES saam demonstreer!

Geen KERK-familie is perfek nie, en met rede: Sodat ons deur die ongemak volwasse in die Here kan word! Mens groei nie in karakter deur alles volgens jou smaak en gerief te hê nie. Die kerk is die geboorteplek, asook die ontwikkelingsruimte waarin mense hulle skeppingsdoel in Christus ontdek en uitleef. Die kerk verskaf dus die “In Christus”-mensekapitaal tot ’n gesonde samelewing.

Die veelvoudige name van God is die mens se refleksie op en verering van wat God vir elkeen gedoen en beteken het. Hagar, Sara se slavin, noem God El-Roi – die God wat sien (Gen. 16:11-14); Abraham noem God Jehova Jireh – die God wat voorsien (Gen. 22:13, 14); Moses en Josua verslaan die Amalekiete – Jehova Nissi – God ons banier (Eks. 17:15, 16); die bitter water van Mara word drinkbaar – Jehova Rapha – die God wat genees (Eks. 15:25-27). Die werklikheid is: Hoe God Homself die eerste keer aan jou openbaar, raak die raamwerk en soms beperking van hoe jy Hom verstaan. Soek op google die “face of Christ” en die soektog lewer honderde prentjies van Jesus waarmee mens glad nie kan assosieer nie. Die grootste openbaring van die historiese Jesus is die realiteit dat Hy van Joodse, Midde-Oosterse afkoms was, vanuit die Mediterreense streek en dus soos die Arabiese Semitiese mense, bruin oë en krullerige hare sou hê.[12] Die punt is, die mensdom is nog steeds besig om vir hulle afgodsbeelde te maak, na hulle eie beeld. Niemand weet hoe Jesus gelyk het nie, met goeie rede. Ons sou van hierdie afdruk ’n afgodsbeeld met spesiale kragte gemaak het om oral te verkoop.  

Hierdie afgodery-fenomeen het ook ’n direkte invloed op ons begrip van kerkwees. Die kerk bestaan al amper 200 [LT2] eeue. Wikipedia lys die meeste van die verskillende tipes kerke wat bestaan. Die meeste kerke op die lys weet nie hulle is op die lys nie, en sommige sal ernstig redeneer dat sekere groeperinge glad nie gereken moet word onder die naam Christen-kerk nie! Die Katolieke Kerk beskou homself as die een ware kerk en dus nie ’n denominasie nie. Die Oosters-Ortodokse Kerk beskou homself ook as die oorspronklike Christelike Kerk. Om die kompleksiteit verder te bemoeilik, was die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse kerke histories een en dieselfde, maar het later verdeel as gevolg van kwessies oor regering en leerstellige praktyke. Dit illustreer die punt dat kerke nie net uit godsdienstige of teologiese kwessies kan ontstaan nie, maar ook politieke en kulturele verdelings. Daar is ’n groot groepering kerke wie se aanhangers nie hulleself as ’n denominasie beskou nie, inteendeel, hulle bestaansreg is juis uit protes ’n wegbreekaksie uit georganiseerde strukture. Hierdie groeperings desentraliseer en het geen formele kerkstruktuur, kerklike gesag of rekordhouding buite die plaaslike gemeente nie. Verskeie groepe binne die Restourasie-beweging en “Immergent”-kerke val in hierdie kategorie.[13]

Ek het pastoor J. John se grappige opsomming van kerk geniet toe hy op TBN vertel: “Mense sê dikwels vir my: ‘J. John, wat doen jy?’ Dit is moeilik om te weet wat om te sê. Want as ek vir jou sê dat ek ’n dominee is, wat ek is, roep dit sekere beelde in mense se gedagtes op oor wat ek kan wees. Ek hou daarvan om ’n bietjie kreatief te wees om mense te vertel wat ek doen. Ek het langs hierdie dame op ’n vliegtuig by die Heathrow-lughawe gesit en ek het gesê: ‘Hallo’, en sy het gesê: ‘Hallo’. Toe sê ek vir haar: ‘Waarheen gaan jy?’ en sy sê: ‘Ek gaan na Singapoer’. En sy het vir my gesê: ‘Waarheen gaan jy?’ en ek het gesê: ‘Ek gaan Australië toe’. Ek het gesê: ‘Wat doen jy?’ en sy het vir my gesê; toe sê sy vir my: ‘Wat doen jy?’ en ek sê: ‘Wel … ek werk vir ’n globale onderneming. Ons het afsetpunte in byna elke land van die wêreld. Ons het hospitale, aftreeoorde, en skuilings vir haweloses, ons doen huweliksberading, ons het weeshuise, ons het voedingsprogramme, opvoedkundige programme. Ons doen allerhande geregtigheid- en versoeningsaksies. Basies, ons kyk na mense van geboorte tot dood, en ons spesialiseer in gedragsverandering.’Sy het oorbluf en luid ‘Sjoe!’ uitgeroep. So hard, haar ‘Sjoe!’ het baie mense laat omdraai en na ons kyk. ‘Wat word hierdie onderneming genoem?’ Ek het gesê: ‘Dit word die kerk genoem … het jy nie daarvan gehoor nie?’ Maar ons is nie net wêreldwye organisasies nie, dit is ’n intergalaktiese beweging, want dit sluit almal in wat vooruit gegaan het en nou by die Here is!!! [14]

Deur die eeue heen het die kerk verskeie vorme aangeneem soos wat die verskillende aspekte van kerk vir individue en later hulle groeperinge openbaring geword het. Die verskillende aksente en fokuspunte is alles deel van wat ware kerk behoort te wees. Ons reduseer egter dikwels die volheid van kerk tot dié deel van kerk wat ons verstaan.  

Die fokus van hierdie boek is egter die plaaslike Gemeente: 

Die plaaslike gemeente word dikwels geïsoleer van die groter geheel omdat die verskeidenheid fokus-elemente van aksente en bediening óf deur die groter denominasie gehanteer word óf die plaaslike gemeente maak bloot ’n statutêre oorbetaling tot ondersteuning van ’n bediening, maar beleef self nie die seën van daardie bedieningsfokus nie. Byvoorbeeld sending: Baie gemeentes is nog glad nie betrokke in die sendingveld nie, buiten miskien in die vorm van maandelikse finansiële steun. Die gewone lidmaat is onbetrokke en was nog nooit deel van enige sendingaksie nie. Die individu loop dus die wonderlike geestelike groei, verryking, seën en impak van sending mis.  

Sending is ’n belangrike onderafdeling van die kerk se aktiwiteite en moes nooit uit die sfeer van die plaaslike gemeente uit beweeg het nie. So het aspekte soos jeugwerk, gebed, die kunste, sending, evangelisasie, berading en nog vele meer, buitekerklike aktiwiteite geword, terwyl dit belangrike aspekte van ware kerk is. 

Sekerlik kan daar nasionale organisasies wees wat mense oplei en help, maar dan as diensorganisasies aan die kerk. Sodat hierdie aktiwiteite weer deel kan word van die plaaslike gemeente!  

Soos die kerk reformeer en bewus raak van ’n spesifieke klem soos gebed, nuwe uitdrukkings van lofprysing en aanbidding of omgee vir die armes, is daar soms teenstand van die bestaande beweging teen hierdie nuwe veranderinge. Die plaaslike gemeente kan baie keer nie hierdie mense akkommodeer nie as gevolg van hulle eie sisteme en regulasies, of vrees om inkomste te verloor. Dit bring frustrasie by beide die groeperinge wat, as dit nie reg hanteer word nie, daartoe lei dat die aanhangers van die nuwe die bestaande struktuur verlaat. Die gevaar is dat hierdie wegbreekgroep dan soms buite die beskerming en leiding van die breër kerk staan en vatbaar word vir leerstellige misleiding.  

Soos ’n groepering begin fokus op ’n bepaalde aspek van kerkwees, vind daar verbondenheid, ontwikkeling en groei plaas. Hierdie groepering word dikwels ’n sub-kultuur en sukkel om met die groter geheel te assosieer. Dit is soos sportmense wat uitblink in een tipe sportsoort, maar swak is in ’n ander. Hulle raak later so goed dat hulle eie familie en vriende die sportsoort nie langer saam met hulle kan beoefen nie. Natuurlik moet elkeen sy bediening vind en hom- of haarself daarin uitleef. Wat ek voor pleit, is dat dit alles binne die konteks van die plaaslike gemeente bly. Maak almal sterk, eerder as net die een. Dink liggaam, eerder as net aan “my” bediening.  

Ons moet ook onthou dat die apostels in die eerste kerk, nie hulleself as net hoof van een gemeente gesien het nie, maar rondgereis het na al die gemeentes, om te verseker hulle bly in die Waarheid.  

’n Boer soek nie net groei aan net een loot nie, hy wil hê die hele boord moet saam ’n goeie oes lewer. Daarom:  Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.Die loot wat ook te veel vrug dra, moet soms teruggesny word sodat lewensap na al die takke kan versprei. 

Die ander kant van die saak is ook ’n probleem, want baie plaaslike gemeentes perk diversiteit en andersheid in. Ons het nodig om weer die plaaslike gemeentes sterk te maak. Soos met enige liggaam, begin siekte en virusse altyd die swakste skakel in ons gesondsheidsketting aan te val.  

Daar is nog so baie waartoe die liggaam van Christus in staat is! Hoeveel ongebruikte talent lê nie opgesluit in die plaaslike gemeente nie? Kunstenaars, digters, sangers, akteurs, dansers en so meer. Hierdie mense sal dalk nooit waag of goed genoeg wees om in ’n mega-gemeente of in die sekulêre mark op te tree nie. Sou die plaaslike gemeente egter kunste erken as ’n legitieme medium om die evangelie te verkondig en om mense te leer, kan al hierdie mense tot hulle reg kom. Honderde van die gewilde kunstenaars van ons dag, het hulle eerste sangbelewenisse voor ’n gehoor in die kerk ontvang, byvoorbeeld Whitney Houston, Justin Bieber, Kate Perry.  

’n Baie kragtige sektor ten opsigte van kommunikasie is die kunste. Die kerk het in ’n groot mate uit hierdie sektor verdwyn, terwyl ons glo dat elke gemeente kuns, musiek en dans moet bevorder as deel van die weeklikse samekoms. Ek droom oor ’n plek van samekoms, vol van verskillende kunswerke en ’n biblioteek. 

Daar is soveel aspekte en dimensies van kerk, ons kan dit nie verwoord nie. Geen enkele mens kan dit begryp nie! Maar die wêreld wag met reikhalsende verlange na die openbaarmaking van die Seuns van God. Sy Kerk! (Rom 8:21) 

Kerk of nie kerk nie?

Die hoofrede hoekom ons moet bid vir reformasie in die kerk is omdat daar so baie mense uit die kerk uit stroom en hulle eie antwoorde op ander plekke begin soek. Nie net is die getalle van gereformeerde kerke besig om af te neem nie, maar ook in charismatiese kerke stroom mense by die voordeur in maar net so vinnig by die agterdeur uit. Meer en meer mense sê hulle is moeg vir kerk. Die hele konsep van kerk is vir hulle negatief. Gewoonlik is dit omdat die program of wyse van hoe dinge gedoen word in ’n spesifieke kerk hulle nie aangestaan het nie, of deurdat hulle op watter wyse ook al seergekry het. Ander voel ontnugter en glo die kerk het hulle mislei, die kerk het ernstige foute gemaak, en hoe kan ons dus die kerk nog vertrou? Verder maak kerkleiers en sogenaamde godsmanne hulleself skuldig aan misdrywe wat nie eers onder sondaars genoem word nie. Ten afgryse van die kerk in sy geheel moet ons toekyk hoe Sondagkoerante kerkleiers se sondes openbaar maak. Natuurlik is almal nie hieraan skuldig nie, maar dit doen nie veel vir die kerk se beeld in die geheel nie.  

Meer en meer mense wil die Here in die veiligheid van hulle huise dien en nie meer deel wees van ’n plaaslike gemeente nie. Christen-televisie en mega-gemeentes gee diesulkes toegang tot die beste preke en Woordbediening ter wêreld, so wat het ek nou meer nodig? Ek het tog ’n uitverkose Christen-vriendekring reg oor die wêreld, so hoekom het ek ’n plaaslike gemeente nodig? Die huisgroep/-kerk-konsep wat in die meeste groeiende gemeentes gebruik word, is vir die meeste mense genoeg. Terwyl die kleingroep tot groot seën vir mense kan wees, is daar ook vele gevare wanneer dit ’n plek raak vir Bybelstudie en -lering. Dit is veronderstel om ’n omgeegroep te wees, waar mense leer om te getuig, vir mekaar te bid, en Nagmaal te vier. Lering moet deur gesoute en ervare leraars aangebied word.  

Ons konsep van kerk:

Die meeste mense sien kerk as ’n struktuur, ’n gegewe, geregistreerde entiteit en fidusiêre organisasie, ’n gebou, ’n geestelike leier en sy of haar aanhang. Die waarheid egter is dat die hele konsep van kerk soveel fasette het en dat God se plan van kerk so wonderlik en veelvoudig is dat ons nie in een boek die volle impak en volheid van kerk sal kan bespreek nie. Soos Dr. Pelser in sy boek God’s genius verduidelik: Hy het op ’n dag ’n vlugtige blik in ’n visioen kry van wat kerk werklik moet wees, en het uitgeroep: “If that is true, church must be your genius!”  As dit waar is dat God se plan vir kerk Sy meesterstuk aan die wêreld is, dan kan geen enkele mens die volheid daarvan begryp nie. Nog minder sal ’n administratiewe, sekulêre sakeondernemingspesialis enigiets verstaan van wat God se Hart vir Sy Kerk is. Alleenlik die somtotaal van dit wat God in ons elkeen belê het, saamgevoeg volgens die spesifieke voorskrifte van hoe die Kerk moet bestaan soos uiteengesit in Sy Woord, sal ons die hele prentjie gee. 

Kerk is God se plan vir die mensdom. Die konsep van bruid, koninkryk, Jerusalem, Sion, familie, tempel is alles wisselterme van dieselfde ding, Sy Kerk. Wanneer ons net aan een aspek van kerk aandag gee, en groot seën daaruit put, beperk ons die Here om aan ons die volheid van kerk te toon. So fokus ’n sekere groep op sending en word daar wêreldwye sendingorganisasies gestig, maar in wese is sending die opdrag van die kerk. Sulke organisasies moet dan weer op hulle beurt baie tyd mors om befondsing en hulpbronne van die kerk te kry omdat soveel kerke passief staan teenoor sending. Dieselfde geld vir gebedsorganisasies, leierskap- en menslikehulpbronorganisasies, jeugorganisasies ensovoorts, ensovoorts. 

Net so kon die fariseërs nie die skrifte verstaan wat voor hulle oë vervul word nie, en nie sien dat die hele Skrif gegee is om God se plan van redding aan die mensdom te toon nie. Met ander woorde, elke skrif vanaf Genesis tot Maleagi is ’n heenwysing na die Messias wat sou kom. So sien ons nie dat God se hele plan met Christus was met die oog op Sy Kerk nie. Ons wil dus net soos die mense in die tyd van Jesus die Kerk kruisig en doodmaak, omdat dit nie aan ons verwagtinge voldoen nie! 

Ons moet eerder bid dat die Here Sy Kerk sal reformeer en in lyn bring met Sy Woord sodat ons die skrifte oor die kerk kan begin vervul soos wat Jesus die skrifte vervul het.

Die probleem is dat ons elkeen ’n legitieme stuk van die Kerk in ons hand mag hê, maar ongelukkig nie die groter geheel sien nie. In ons stryd om ons stukkie te verdedig en te behou, skend ons baie keer die geheel en kom ons geensins nader aan die groter volle waarheid nie.  

Jesus begin ’n beweging – nie ’n formele struktuur nie

Die getal Christene het in die eerste eeue besonder vinnig gegroei.[15] En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke. (Hand. 19:10). Volgens Dreyer se historiese perspektief op kerkwees was die eerstehandse betroubare getuienis, bonatuurlike gawes, die sending-gedrewe fokus en die bereidwilligheid om opofferings te maak (selfs gemartel te word), die hoofredes vir hierdie groei. Verder is die waardestelsel van die Christelike geloof wat Jesus Sy dissipels geleer het, nie in geskrifte bewaar nie, maar uitgeleef. Waardes soos barmhartigheid, wedersydse ondersteuning, selfbeheersing, respek vir lewe en liefdevolle omgee het talle mense oortuig dat die Christelike geloof van waarde is. Een van die kenmerkende waardes van die vroeë Christene was hulle respek vir lewe as ’n gawe van God. Hulle het nie deelgeneem aan praktyke soos kindermoord, aborsie of die verkoop van kinders aan slawehandelaars nie. In die eerste eeue na Christus was dit algemene gebruik om ongewenste kinders buite die dorp weg te gooi sodat wilde diere hulle opvreet. Die eerste volgelinge van Jesus se leefstylwaardes was:

  • Doen goed aan mekaar.
  • Vermy boosheid soos diefstal, bedrog en jaloesie.
  • Betoon gasvryheid aan vreemdelinge.
  • Versorg mekaar en deel kos met mekaar.
  • Bewys barmhartigheid teenoor alle mense.
  • Behartig die versorging en verpleging van siekes.
  • Huishoudings getuig van waardigheid, verantwoordelikheid, pligsbesef, eerbaarheid en gehoorsaamheid.
  • Etniese verskeidenheid word aanvaar.
  • Vroue, kinders en slawe word met respek behandel.
  • Respek vir lewe voorkom aborsie en kindermoord.
  • Martelaarskap en die bereidheid om “jou kruis op te neem”.[16]

Die term “christelik” is vandag ’n verwronge verdraaiing van hierdie eertydse waardes van die volgelinge van die Weg. Soos met ’n telefoonspeletjie se boodskap wat verwronge raak in die oordrag, moet mens die regte boodskap van die oorsprong af kry. 

Jesus kies twee nuwe Griekse begrippe in daardie tyd: moderne begrippe om die nuwe beweging wat Hy inisieer, te verduidelik. 

Apostoliese Sending

Die Griekse woord apostel kom 81 keer voor in die NT. Die woord kom nie in die OT voor nie, want die woord het toe nog nie bestaan nie. Dit beteken ambassadeur, agent, gesant, boodskapper gestuur, op ’n missie, diens, sake, opdrag of geregtelik, draer van ’n kommissie. 

Ekklesia

Die tweede nuwe woord en begrip wat Hy gebruik is die woord ekklesia en kom 115 keer voor in die NT: “uitverkiestes.” Direkte vertaling van die woord ekklesia is “ek – vanuit” en “kaleo – roep”. Die fokus van die woord ekklesia is gerig op die rede waarom mense saam is eerder as waar hulle saamkom. Die oorsprong van hierdie woord kom van Caesar se groep spesialiste wat doelbewus bymekaargeroep is om die wil van die keiser te vervul. Die woord het sy oorsprong in Griekse kultuur en het oorspronklik ’n vergadering beteken wat deur die magistraat of deur ’n wettige gesag uitgeroep is. So word die woord ekklesia in Handelinge19:32 en 40 gebruik om die oproerige skare te beskryf. 

In die OT word daar na die volk verwys as die vergadering (1 Kron. 29:20); gemeente van God (Neh. 13:1); … was daar in die vergadering van die volk van God. (Rig. 20:2); Hulle moet van Sy grootheid getuig in die volksvergadering. (Ps. 107:32); … die vergadering van Sy troue dienaars. (Ps. 149:1).  

Per definisie verwys “ekklesia” na die kollektiewe byeenkoms van individue met die doel om die wil van God te vervul.  

In Matteus se evangelie word die woord “die koninkryk” 36 keer gebruik. Ander terme word ook gebruik: Christus se huisgesin (Matt. 10:25); die sout en lig van die wêreld (Matt. 5:13, 15 ); Christus se kudde (Matt. 26:31; Joh. 10:15 ); sy lede is die takke wat op Christus die Wingerdstok groei (oh.. 15). Die woord kuriakos (κυριακός) beteken “Behoort aan die Here”. Wat net twee keer in die NT gebruik word, is “Die dag van die Here” (Open. 1:10) en “nagmaal van die Here” (1 Kor. 11:20). Die woord kuriakos sou in latere vertalings, veral die Duitse vertalings, met Kirche vertaal word, waar ons ons woord “kerk” vandaan kry.  

Dit is dus baie insiggewend dat Jesus se beskrywing en benaming van hierdie nuwe beweging en revolusie bloot samekoms/vergadering is. Die bekende godsdienstige woorde en begrippe wat Sy luisteraars sou verstaan, was: nasie, volk, uitverkorenes, oorblyfsel, tempel, tabernakel, Sion, sinagoge, ensovoorts. Jesus gebruik hierdie bekende terme min, en gebruik eerder ’n nuwe woord om ’n hele nuwe begrip te verwesenlik. Hierdie is die algemene modus operandi van die wetenskap van maatskaplike ontwikkeling. Alvorens ’n organisasie en struktuur tot stand kom, is daar eers agente van verandering wat saamgeroep word met ’n gemeenskaplike visie en fokus.  Strukture en sisteme kom tot stand om die nuwe te beskerm en volhoubaar te hou nadat die eerste sameroepers nie meer daar is nie.  

Jesus benadruk dus eerste die krag van verskillende samekomste, vergaderings en byeenkomste wat in Sy Naam byeen geroep is: Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde. (Matt. 18:20) “… as julle saamkom in die gemeente” (1 Kor. 11:18); Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ’n psalm of ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n uitlegging — laat alles tot stigting geskied. (1 Kor. 14:26). 

Die wese van kerk is die SAMEKOMS van gelowiges in eenheid onder Sy heerskappy!! Kerk is ’n heilige moment! 

Daar is verskillende samekomste in ’n gegewe area soos Galasië gehou (1 Kor. 16:1). Die woord ekklesia of “samekoms” is later vertaal met “gemeente”: Aan die gemeentes in Galasië (Gal. 1:2). Die gemeentes van Christus in Judea (Gal. 1:22). Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes geestelik versterk. (Hand. 15:41). 

Miskien sal ons minder verdeeldheid hê as ons verskillende kerke bloot net as verskillende byeenkomste reg oor die wêreld sien, met een visie en mandaat – Om op te groei in volwassenheid in Christus.[17]

Ongelukkig probeer die vyand al sedert die eerste tabernakel om die volgelinge van God deur godsdienspleging weg te lei na ’n statiese gebou en ’n onpersoonlike, mensgerigte instansie. 

So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die Here. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord. (Jes. 66:1-3). 

Thomas More se kritiek teen Tyndale is hoofsaaklik weens die manier waarop Tyndale vyf woorde vertaal het. 

  • Hy het  presbuteros as elder (ouderling) vertaal in plaas van “priest” (priester). 
  • Hy het ekklesia as congregation (gemeente) vertaal in plaas van “church” (kerk). 
  • Hy het metanoeo as repent (berou hê) vertaal in plaas van “do penance” (boete doen). 
  • Hy het exomologeo as acknowledge or admit (erken) vertaal in plaas van  “confess” (bely). 
  • En hy het agape as love (liefde) vertaal eerder as “charity” (liefdadigheid/welwillendheid).[18]

Tyndale se gebruik van die woord “gemeente” eerder as “kerk” is betekenisvol. “Gemeente” verwys na ’n dinamiese samesyn van eenheid, terwyl die woord “kerk” blyk meer ’n statiese betekenis te hê. Ons verwys na geboue sonder mense as ’n kerk. Ons verwys na ’n instansie as ’n kerkgenootskap, wat meer die dop beskryf, terwyl die verwysing na “gemeente” direk op die mense werksaam in die gebou dui.  

Die klem op mense is belangrik, want die gebou mag argitektonies simbolies na Jesus wys, soos die ou katedrale wat in die vorm van ’n kruis gebou is, maar ’n gebou kan nie siele wen nie! ’n Gebou kan nie tot bekering kom nie! Die struktuur wat Jesus bou, word gevorm deur menseharte!! Daarom lees ons in Paulus se skrywes die aanmanings om in Christus te bly (Gal. 4:19, Kol. 1:28-29; 2 Kor. 11:2; 1 Kor. 2:2; 2 Pet. 1:8; Ef. 4:13). Elke kerk, gemeente, organisasie, bediening, aksie en beweging van die Liggaam van Christus is vanuit die Hoof, Christus (Ef. 1:22-23). Wanneer Jesus werklik in ons harte regeer, sal ons geboue, tuine, strate, dorpe en werksaamhede getuig van Sy waardes en manier van leef.  

Geboue is belangrik en ondersteun ons missie en opdrag, maar is nie hoekom ons bestaan nie. Tydens ’n besoek aan ’n museum, sien ek ’n koffietafelboek oor ’n gemeente se honderdjarige bestaan. Opgewonde blaai ek daardeur. Nêrens in hierdie boek word daar enige verwysing gemaak oor hoeveel nuwe bekeerlinge hulle gewerf het,  of hoeveel sendingaksies van stapel gestuur is, of hoeveel nuwe gemeentes geplant is nie. Alle aktiwiteite het vir ’n honderd jaar gesentreer rondom die instandhouding van die gebou! 

Die volgelinge van Die Weg

Die eerste benaming van hierdie beweging was: “Dié van die Weg” (Hand. 9:2; 24:14, 22). Dit impliseer ’n uitkenbare, anderse lewenstyl. Vandag word kerke uitgeken aan hulle kerkgebou, tipe musiek, leerstellings en benaming. Miskien sou die kerk meer aftrek onder mense gekry het as die onderskeiding bloot ons lewenstyl sou wees. Ons praat vandag ook so van die aanhangers van ’n nuwe dieet. Die prentjies van vóór en ná die dieet, is die bewys van die dieet se sukses. Ons leefstyl moet Jesus-gesentreerd wees! 

Die kerk van die eerste eeu was ’n organiese eenheid. Dit was ’n lewende organisasie wat homself heel anders uitgedruk het as die institusionele kerk van vandag. En daardie uitdrukking het Jesus Christus op hierdie Aarde bekend gemaak deur die manier waarop elke lid van Sy Liggaam funksioneer.[19]

God se ewige plan was nog altyd Sy Liggaam

Radikaal anders as formele godsdiens:

Die groei was organies, gesentreer rondom die geloof in die opstanding van Jesus Christus (Joh. 2:22; Luk. 24:33-35; Joh. 20:8,18, 26-28; Hand. 2:32; 3:15; 4:33; Fil. 3:10; 1 Kor. 2:2).

Die eerste kerk het in mense se huise byeengekom, nie in ’n heilige tempel nie (Hand. 20:20; Rom. 16:3, 5; 1 Kor. 16:19). 

Die groei-netwerk was verhouding-gesentreerd. Jy is ontvang omdat ’n bekende jou aanbeveel het. (Sien bv. Filemon.) 

Hulle het gereeld nagmaal as ’n maaltyd saam geniet (1 Kor. 11:21-34). Nagmaal versoen spreekwoordelik die brood van armes, en die wyn vir die rykes in een maaltyd, in gemeenskap, verbondenheid en omgee.  

Almal het deelgeneem tydens byeenkomste (1 Kor. 14:26; Heb. 10:24-25).

Elkeen het volgens hulle geestelike gawes en bedieninge mekaar opgebou (1 Kor. 12-14). 

Hulle het hulleself as ’n gesin en familie gesien (Gal. 6:10; 1 Tim. 5:1-2; Rom. 12:5; Ef. 4:15; Rom. 12:13; 1 Kor. 12:25-26; 2 Kor. 8:12-15). 

Leierskap was gepolariseerd en divers (Hand. 20:17, 28-29; 1 Tim. 1:5-7). 

Leierskap was nie volgens ’n hiërargiese piramiedestelsel nie (Matt. 20:25-28; Luk. 22:25-26).

Reisende apostels en profete het gemeentes bedien en versterk (Hand. 13-21; derhalwe apostoliese sendbriewe).

Hulle het as een eenheid in ’n gebied gefunksioneer (Hand. 8:1, 13:1, 18:22; Rom. 16:1; 1 Tess. 1:1). 

Hulle het nie titels en benamings vir posisies van aanstelling en gesag gebruik nie, maar bloot as funksies van hulle rolle. Dit was in teenstelling met die ander godsdienste van daardie tyd, waar priesters hulle eie uitkenbare kleredrag gehad het. Die apostels en leiers van die Jesus-beweging moes meestal in die geheim beweeg a.g.v. vervolging en kon nie hierdie onderskeid maak nie (Matt. 23:8-12).  

Die Liggaam van Jesus

Een van God se primêre voorsienings aan ons, behalwe die uitstorting van die Heilige Gees, is die Liggaam van Christus. Vir God om mens te word, het Hy ’n liggaam nodig gehad (Heb. 10:5). Die alomteenwoordige, almagtige en alwetende God kom woon in ’n menslike liggaam! Dis Sy eerste groot liefdesdaad aan ons! Sy inkarnasie! (Heb. 4:14-15) Hy het ’n liggaam nodig gehad om aan die mensdom goed te kan doen, siekes te genees, die mag van die bose te verslaan en vir die wees, die weduwee en armes om te gee. 

Jesus word vandag vlees deur Sy Kerk. Die Kerk is Sy Liggaam. Die volheid van God is geopenbaar in Sy Liggaam (Ef. 4:11-16; Ef. 5:30; Ef. 2:19-22; 1 Kor. 12:12). 

Ons het ook ’n liggaam nodig om God se wil te doen. Ons kan nie die Koninkryk van God op aarde laat kom soos wat dit in die hemel is sonder ’n liggaam nie. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir die werk wat hulle in Sy diens moet doen. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op. (Ef. 4:11-16). 

… omdat ons ledemate van Sy liggaam is. (Ef. 5:30). 

Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huis wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is. Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur Sy Gees woon. (Ef. 2:19-22). 

Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam. (1 Kor. 12:12). 

ʼn Mens bou nie ’n verhouding met mense deur kerkaktiwiteite by te woon nie

God se sisteem van menslike ontwikkeling is familie. Wanneer die kerk die karakter van ʼn familie verloor, verloor ons die waarde en krag van Sy Koninkryk. God verduidelik Sy Koninkryk aan ons in terme van familie, vaders, jongmense en kinders (1 Joh. 2:12-14). God drie-enig is Vader, Seun en Heilige Gees – ’n familie. 

Net so is die liggaam soos ʼn familie met mekaar verbind. Inteendeel, die gemeente waaraan jy behoort word jou ware familie! Baie van ons wat tot bekering kom, voel nie meer so tuis en gemaklik rondom ons bloedfamilie nie, omdat ons hart in wese verander het. Selfs Jesus het Sy geestelike vriende en dissipels Sy ware familie genoem teenoor Sy eie ma en broers (Matt. 12:46-50). 

Dit behels dat jy betrokke moet raak in mense se lewens. Jy moet bereid wees om agter die maskers te kom en te leer om mekaar sonder voorgee lief te hê. Jy moet ook bereid wees om jouself bloot te lê, jouself te ontmasker en oop te maak. Daar is ʼn wonderlike dinamika wat begin geld as mense wat die Here dien in mekaar se lewens betrokke raak: Ons sien Christus in mekaar en dit spreek ons baie keer meer aan as wat ʼn preek ooit sou kon doen. 

Ons groei ook deur die groei in mekaar te erken. Verhoudings is kompleks en is nie altyd net positief nie. Vir verhoudings om te verdiep, moet die verhouding verskeie toetse deurstaan. Dit is soms juis in hierdie negatiewe aspekte van verhoudings waarin ons die meeste kan groei. Baie mense sien nie daarvoor kans nie en hardloop weg voordat die negatief omgedraai is in ʼn positief. Konfrontasie en deursigtigheid, egtheid en eerlikheid is die agente wat ons deur hierdie negatiewe prosesse help en begelei tot volwassenheid in Christus.  

Daar is net een Liggaam

Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. (Ef. 4:4). 

Die heerlikheid van God is opgesluit in Sy Liggaam. Ons kan nie die volheid van God verwesenlik hier op aarde sonder Sy liggaam nie! Geen enkele mens kan weer die volheid van Jesus beliggaam nie.  

Ons kan net in die volheid van hierdie heerlikheid leef wanneer ons die Christus in mekaar raaksien en die gawes in mekaar ontsluit. Soos Jesus gebore is in ’n liggaam wat moes opgroei alvorens die tyd sou aanbreek vir Sy bediening, so is die kerk in ’n proses van voorbereiding vir die finale uur van haar glorie! Net soos mense Hom nie wou erken of aanvaar nie en uiteindelik kruisig, sal die Kerk haar grootste heerlikheid in haar donkerste uur bereik. Mag God jou oë soos Petrus s’n open om die verlossing in Sy kerk raak te sien! 

Die één-liggaam-waarheid beteken ook dat die mense wat aan jou bekend is in die plaaslike deel van die Liggaam waarvan jy deel is, nie die enigste Liggaam is nie. ’n Groot deel van Jesus se Liggaam is onbekend aan jou, maar tog wesenlik deel van jou en kan op ’n betrokke dag wederkerig tot seën wees. Alhoewel mens inskakel en deel moet wees van ’n betrokke deel van die liggaam, soos ’n tibia deur die knie verbind is aan die femur, is daar ander funksies in die liggaam waarvan ons nie eers weet nie. Tog ontvang die been lewe en voorsiening vanaf die hele liggaam. 

Die Liggaam as die tempel van die Heilige Gees

Daar is drie verse in die NT wat verklaar dat ons die tempel van die Heilige Gees is. Wanneer ʼn mens hierdie skrifgedeeltes in konteks lees, dan praat Paulus elke keer met ʼn ander gehoor: 

• In 1 Korintiërs 3:16 praat hy met die Korinte-gemeente oor sektarisme en divisie, met ander woorde, die kerk op ’n betrokke plek. 

• In 1 Korintiërs 6:19 praat hy met die individu wat hoereer. 

• In 2 Korintiërs 6:16 praat hy met die gemeente van die Korinte, maar Hy is eintlik besig om met die universele kerk te praat: Hulle moet hulle weerhou van afgodery en moet heilig wees. 

Al drie hierdie aspekte van kerk is nodig om volledig kerk te wees.

By die Fees van Tabernakels lig die priester ʼn etrog (sitrusvrug) in sy hand op en wys dit in die vier windrigtings, die hemel en aarde, en verklaar die heerskappy van God oor alles. ʼn Etrog is ʼn unieke vrug want dit is ʼn sel binne-in ʼn sel, binne-in ʼn sel. Die Jode verduidelik dat die etrog ʼn simbool van die kerk is – Jood en heiden is saam verenig in ʼn nuwe entiteit. 

Kerk is dus jy as individu. Maar jy is deel van ʼn liggaam in jou gebied of dorp en saam is ons kerk in die universele Liggaam. Wanneer ons die een misken, is daar nie meer eenheid nie. ’n Gemeente waar mense lidmate is sonder dat hulle waarlik weergebore is, lei tot ’n sakralistiese stelsel. ʼn Gemeente wat hulself isoleer van die groter Liggaam van Christus staan die gevaar om sekte te word. ʼn Individu wat hom of haarself van ʼn plaaslike Liggaam isoleer is sonder beskerming en veiligheid. Elke gelowige moet hom-/haarself onderwerp en deel wees van ’n Liggaam wat nie perfek is nie, want in die proses groei ons geestelik. Om vir welke rede ook al jouself te isoleer, is ʼn vorm van trots en meerderwaardigheid, en ʼn soeke na eie gewin (Spr. 18:1). Die groei vind plaas wanneer ons deur ons verskille werk en voortdurend kies om by mekaar te bly.  

Die Heilige Gees is die asem van Sy Liggaam

Die ontstaan van Jesus se Liggaam het op Pinksterdag plaasgevind toe God deur Sy Gees – hierdie keer nie in een mens, Adam, nie – maar kollektief in Sy liggaam, bruid, priesterdom, nasie, volk, verteenwoordigers blaas.  

Die Fees van Weke, of Pinksterfees soos die meeste Christenkerke dit noem, is die tweede belangrikste fees op die Joodse kalender. Die fees gedenk die tyd toe Moses die Wet op die berg Sinai ontvang het. Dit het op die vyftigste dag geval, sewe volle weke nadat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan is (Deut. 16:9). Die getal 50 word bereken as die aantal dae wat dit geneem het om van die verlossing uit Egipte tot by Sinai te trek (Eks. 19:1), waar hulle die Wet ontvang het. Hulle het hierdie dag bereken vanaf die tweede dag van die Paasfees. Die naam Pinkster kom van die Griekse woord hè pentekostè wat die vyftigste beteken. Die fees word deur die Here ingestel en die voorskrifte van die fees word aan Moses deurgegee (Lev. 23:15-21). Hierdie fees is op die vyftigste dag na die opstanding vervul toe die Heilige Gees uitgestort is op dié wat in die bovertrek gewag het op die vervulling van die belofte (vergelyk Hand. 1:5, 8 en Matt. 3:11). Dit is op hierdie dag wat die Heilige Gees die nuwe verbond vervul het en die wet nou op ons harte skryf (Jer. 31:31-34). 

Die ooreenkomste tussen die gebeurtenis by Sinai en dié in Handelinge 2 is baie interessant 

Eksodus 19:16-18: Toe die Here op die berg aan die volk verskyn … donderweer en weerlig … rook en vuur … die berg het geskud;  …geluid van baie sterk basuin...;  en in Handelinge 2: …geluid soos van ’n geweldige rukwind; omdat die Here in ’n vuur daarop neergedaal het– tonge gesien soos van vuur

In Eksodus 32:28 word 3 000 mans doodgemaak as straf vir hulle vrees, ongeloof en die maak van ’n valse god. Na die uitstorting van die Heilige Gees kom 3 000 mense tot bekering! 

Tydens Moses se tyd op Sinai, volg instruksies oor die bou van ’n tent van samekoms. Later word die volk opgeroep om vrywillige offers te bring vir die oprigting van ’n heiligdom (Eks. 25:1). Ook moet hulle vir my ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. (Eks. 25:8). Ná die uitstorting van die Heilige Gees word na ons as gelowiges verwys as die tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 3:16; 2 Kor. 6:19; 2 Kor. 6:16; 1 Kor. 6:19). Die Kerk van Jesus Christus word die gebou en tempel van God, gebou met lewende stene (Ef. 2:21).

Die gebruik om twee brode voor die Here te wuif is baie interessant. Veral as jy in aanmerking neem dat die meeste offers aan die Here nie suurdeeg mag bevat het nie (Lev. 2:11). Maar in hierdie geval word die twee brode gebak van die opbrengs van die oes, met suurdeeg, en voor die Here gewuif. Die Jode sien die twee brode as die Jode en die heidene. Hierdie is ’n geheimenis wat eers later deur Paulus verduidelik word dat God deur Christus die middelmuur tussen Jood en nie-Jood verwyder het. (Ef. 2:11-22). Onthou, toe die Jode uit Egipte gevlug het, was daar dié van gemengde bloed wat saam uitgetrek het (Eks. 12:37, 38). Met ander woorde, almal wat die woord gehoor het en in geloof en gehoorsaamheid bloed aan die deurkosyne gehad het, is gespaar. God se hart is dat al die nasies gered sal word (Ps. 72:11; Matt. 28:19; Open. 22:2). Maar heiden sowel as Jood het ’n inherente hartprobleem met sonde. Albei is vasgevang in die mag van sonde en kan nie hulself bevry nie. Op Pinksterdag hoor elke nasie wat onder die hemel is hoe die dissipels in hulle eie taal getuig oor die wonderdade van God!

Die skrywer van Hebreërs werp nog meer lig op die vervulling van die fees en hoe God Sy ware bedoeling van wat by Sinai moes gebeur, op Pinksterdag verwesenlik. Anders as die Israeliete wat by Sinaiberg gekom het toe God sy Wet vir hulle gegee het, het hulle nie by ’n fisiese berg aangekom met brandende vuur, donderwolke, donkerte, stormwind, trompetgeskal en ’n stem wat praat nie. By Sinai het dié wat dit gehoor het, gesmeek dat God nie verder met hulle moes praat nie. God se opdrag dat selfs ’n dier wat die berg met sy poot aanraak doodgegooi moes word, het hulle laat terugsteier. Ja, so angswekkend was die aanskoue van alles dat Moses uitgeroep het: “Ek is absoluut verskrik, ek bewe van angs!” (Heb. 12:18-21). God wou Homself persoonlik aan ’n groep mense, Sy volk, Sy uitverkorenes openbaar, maar die mens kon die heerlikheid nie uitstaan of hanteer nie. In vrees en ongehoorsaamheid gaan maak hulle vir hulleself ’n afgodsbeeld. Op Pinksterdag kom stort die Here Sy Gees in ons uit, en vind die kulminasie van honderde jare se belofte en goddelike verwagting plaas toe die mens God van aangesig tot aangesig sien en ervaar. Dit is die hoogtepunt en ware betekenis van wat gebeur tydens die vervulling met die Heilige Gees.

Die eerste volgelinge se wesenlike ontmoeting met die lewende God is die geboorteplek van die kerkbeweging wat die wêreld sal verander. 

Nee, julle het aangekom by Sionsberg, by die stad van die lewende God! Julle het aangekom by die hemelse Jerusalem, by die miljoene engele wat juigend feestelik bymekaar is, en by die gemeente van God se kosbare kinders wie se name in die hemel opgeskryf staan. Julle het gekom by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die verlostes in die hemel wat nou volkomenheid bereik het. Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en Sy mense, en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van vergifnis getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het. (Heb. 12:18-24).

Die heerlikheid van die Liggaam is ’n eenheid van gekompliseerde diversiteit

Elkeen het ’n ander bediening, fokus en bestaansreg, maar alles ter wille van die Liggaam. Die oog bestaan om te kan sien ter wille van die liggaam. Dis juis hierdie andersheid wat die meeste groei in ons bewerk. 

Die persoon van wie jy soms die minste hou, is die werktuig wat God gebruik om jou die meeste te verander. Soms wil die oog die liggaam oordeel omdat hulle nie sien nie, maar hulle het bes moontlik ’n ander funksie. Laat elkeen sonder murmurering hulle funksie vervul. Ons voel soms: “Net ek maak opofferings!” Moet eerder nie vergelykings tref nie, maar dien net die Here (Joh. 21:22). Daar is geen manier hoe jy jou van die Liggaam kan afskei en distansieer nie. Alleenlik sonde en iemand wat verdeling saai en van die gesonde leer afwyk, moet vermy word. 

Geen sel in die liggaam kan buite die liggaam bestaan nie. Ons het mekaar nodig. Lees gerus hierdie pragtige artikel, ’n opsomming van een van die hoofstukke in Macolm Gladwell se boek, Outliers, oor die Rosetta-effek wat handel oor ’n klein Italiaanse gemeenskap in New York wat as gevolg van die diepte geslote gemeenskap feitlik geen hartkwale aanmeld nie.[20]

God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: “Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.” (Kol. 1:27, NV). 

Die woord “julle” is ’n kollektiewe voornaamwoord en kan vertaal word met “Christus onder julle en in julle”. Christus is in jou maar daar sal nooit weer ’n Christus in Sy volheid in een persoon gemanifesteer word nie. Christus se volheid kan alleenlik deur ’n liggaam van mense verheerlik word. Die kerk is Sy Liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul (Efe. 1:23). 

“As the new wine is found in the cluster, And one says, “Do not destroy it, For a blessing is in it.” (Jes. 65:8).  God soek ‘n heilige gemeenskap! 

Die bewuswording en openbaarmaking van die Heilige Gees in groepsverband.

Geskiedenis word gemaak wanneer die regte mense saamkom en ’n besluit neem. Bewegings en revolusies het ontstaan by ’n samekoms van mense wat dieselfde sentimente en waardes handhaaf en nastreef. Gemeenskap is dus nie een soort samekoms nie. Dis elke keer wanneer ons saamkom. 

God se heerlikheid word óf in jou as individu (die tempel van die Heilige Gees) óf die samekoms van gelowiges geopenbaar. God se heerlikheid rus op die samekoms, nie die institusie van kerk nie. God seën ’n liggaam van gelowiges omdat hulle saam Sy wil op aarde doen. Maar die kerk as organisasie is bloot ’n naam om ’n versameling gelowiges te identifiseer. Jy ontvang geen voordeel as jy net in naam deel van ’n kerk is en nooit enige aktiwiteite bywoon nie. 

“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” (Heb. 10:25). 

 “…deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word…”

“As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, as twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”  (Matt. 18:16, 19-20). 

Eenheid is ononderhandelbaar.

Die Nuwe verbond se glorie is ons EENHEID! 

Ons eenheid as kerk is wesenlik belangrik! “… sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Joh. 17:21).

Jy kan nie eenheid met God hê sonder om in eenheid met Sy Liggaam te wees nie. Eenheid en verbondenheid met mekaar is eenheid met God. Die werking is wederkerig en absoluut! (1 Joh. 4:20). 

Dit is ontsettend belangrik vir God se Gees om in die samekoms te werk dat ons in eenheid met mekaar is. Die Handelinge-kerk se krag was in hulle eenheid.  

“Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed.”  (Hand. 1:14).

“Hulle was almal op een plek bymekaar.” (Hand. 2:1).

“Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom en van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou.”(Hand. 2:46).

“En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo.” (Hand. 5:12).

“Die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus.”  (Hand. 8:6).

“Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê…”  (Hand. 4:24).

“Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel.” (Hand. 4:32).

“Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur.”  (Hand. 15:25).

Die Nuwe Testament benadering met betrekking tot ons posisie teenoor die Godheid, begin in Hom, eenwording! Ons vertrekpunt is dus altyd eenheid! Die uitdaging is om hierdie eenheid wat Hy bewerk het, te behou en in stand te hou.  Eenheid is die bewys en seën van die geskenk en genadewerk van Sy geregtigheid.  Waar die Here teenwoordig is, is daar eenheid!  Dit is wanneer ons wegdraai van die Here, dat eenheid met Sy liggaam in die slag bly. 

God se ewige plan was nog altyd Sy Liggaam

“Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid.” (1 Tim. 3:15). 

Die kerk is dus die grondslag van die Waarheid wat Christus is. Net soos die tempel in die OT sentraal gestaan het tot die Israeliete se lewe, is die kerk sentraal tot ons lewe. Die volle verloop van ons lewe, van babatyd, opvoeding, werk, trou, kinders hê, hulle groot maak, tot ons oudag is verweef in die kerk.  

Ons kan nie Jesus as Hoof hê sonder om in Sy Liggaam vervleg en verbind te wees nie.

Toe Paulus die kerk vervolg, sê Jesus:  “Ek is Jesus wat jy vervolg.” (Hand. 9:5).

Jy kan nie die hoofskap van Christus hê sonder Sy Liggaam nie. “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Efe. 1:22-23).

“…soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.” (Efe. 5:25; Hand. 20:28).

Die Ewige Kerk:

Ons hoor so baie wat verkeerd met die kerk is, maar wat is die onwankelbare realiteit van kerk wat nie geskud kan word nie? (Heb 12:21-29) Die mense verwesenlik organisasies, maar die Here belowe: “op hierdie rots sal ek my kerk bou en die hekke van die hel sal nie daarteen kan stuit nie” (Mat 16:18)  Hierdie rots was nie Petrus nie, maar wel die openbaring wat hy gehad het dat Jesus waarlik die messias is. Sedertdien het miljoene mense al tot hierdie openbaring gekom dat Jesus regtig is wie Hy sê Hy is.  

Die gedeelte in Hebreërs is die klimaks van die boek. Die hele boek verduidelik dat ons ‘n beter hoop het waardeur ons nader (Heb. 7:19) deur ‘n beter verbond (Heb. 7:22) deur ‘n beter hoëpriester en middelaar (Heb. 8:1) van meer uitnemender beloftes (Heb. 8:6) deur beter offers (Heb. 9:23) deur ‘n nuwe en lewende weg (Heb. 10:19) en dan die absolute hoogtepunt: Maar julle het gekom!!! Julle het dus nie meer nodig om enige offers te bring nie!!! Julle begin nie buite nie, julle begin binne in Christus! 

Sion, die stad, nuwe Jerusalem, die bruid, engele, feestelike vergadering, geeste van volmaakte regverdiges is alles metafore vir julle is in EDEN! Julle is verenig met die geestelike realiteit van die hemel. Jesus het verklaar; “Die koninkryk “God se realiteit” het nou naby gekom! Julle is dus in Christus, op grond van Sy geregtigheid en genade wat julle nie kon verdien nie, naby gebring, binne-in gebring, in die heerlikheid van die Godheid! 

Die waarskuwing dat mense nie gehoor gee aan die Waarheid van God se plan nie, word ‘n paar keer herhaal in die Boek Hebreërs, en die ernstige gevolge uit gewys! 

Hier is ook ‘n finale vyfde waarskuwing: Pas op dat julle Hom wat met julle praat, nie ignoreer nie. (Heb. 21:25) 

Vandag wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard nie (Heb. 3:7-8) 

Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. (Heb. 3:12)

omdat julle traag geword het om te hoor. (Heb. 5:11) 

hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? (Heb. 10:29) 

Hierdie bogenoemde verse dui aan, dat ten spyte van hierdie HEERLIKHEID so wonderlik geopenbaar in Christus, is daar altyd diegene wat dit nie WIL sien nie, en hulle harte verhard teen die waarheid!!! 

God is ‘n Vader, en soos enige Vader wil Hy Sy kinders onderrig en voorberei om die lewe in oorwinning te leef. Dit impliseer dat Hy ons toets. Uiteindelik is alles wat ons daagliks beleef ‘n toets om te sien of die “container” die gewig van Sy heerlikheid kan dra.  (2 Kor. 4:7) Hy wil sonder beperking Sy Gees en volheid deur ons laat werk, soos Hy Sy dissipels getoets het: honger skares, storms op die see, muntstukke in vis se bek, toets HY ons om hierdie lewe vanuit die HEMELSE REALITEIT IN ONS hart te hanteer! 

In Hom is daar ewige onveranderlike liefde, vrede, heilsaamheid, voorsiening, verbondenheid. In hierdie wêreld is daar tekort, verlies, agteruitgang, verwoesting, teenstand, probleme, verdeeldheid, beperkinge! IN CHRISTUS is ons tot alles in staat! (Fil. 4:13) Meer as oorwinnaars, (Rom. 8:36) ver bo alles wat ons bid of dink (Eph 3:20) Groter is Hy wat in my is as Hy wat in die wêreld is (1 Joh. 4:4) Die vyand kom met die realiteite van hierdie wêreld… het God regtig gesê?? Kinders van God het egter alreeds tot ‘n hemelse realiteit in Christus GEKOM!!! 

In hierdie Geestelike Hemelse Koninkryk realiteit hou ons alreeds fees! In Christus is ons verenig met alle gelowiges wat geleef het, en nog gaan kom. Ons is vrygemaak van die skaamte, veroordeling en houvas van sonde! Ons kruip nie meer vir God weg nie!! Ons is in Christus Jesus, met God en met die familie van God versoen, saam met die Heilige Engele!! 

God kan nie die volheid van Sy heerlikheid op een slag in ons losmaak nie, ons sou dit nie kon hanteer nie. In ons geloofsreis met die Here, bou Hy ons kapasiteit om vanuit Sy heerlikheid te dink, te praat en te leef!!! 

MOET NET NIE JOU HART VERHARD NIE, Moenie rebels raak nie! Moenie ongehoorsaam bly nie! Elke keer in elke krisis gaan Hy vir ons ‘n hemelse realiteit uitweg en uitkoms bewerk. Ons moet net fyn luister en presies doen wat Hy vra. Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword.  (Heb 5:8) Jesus het net soos ons aardse beperkings getrotseer! Tog het Hy gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het. Die hemelse realiteit is onderstebo, agterstevoor en anders as die wêreld. Jy leer om te gee as Jy wil hê, om jouself te verloën om te lewe, om te rus as jy voel om te baklei, om te dien as jy voel om te lei, om laaste te gaan staan as jy voel om voor te loop, om te vergewe eerder as om te vergeld! Elke keer wanneer ons hierdie toetse deur Sy genade slaag wat Hy in ons werk, bou ons kapasiteit om meer heerlikheid glorie en gewig te dra.  

Behou jou vrede! Moenie reageer in die vlees nie! Uiteindelik bou Hy in ons onsigbare hemelse realiteite wat nie geskud kan word deur dié wêreld se verganklikheid en wanorde nie.  Kain het Abel se lewe geneem, omdat Hy nie Sy broer se beskermer wou wees nie. Jesus word die beskermheer van die mensdom om almal se sonde op Homself te neem, en ons te versoen met die Vader en met mekaar.  

Die kerk, bruid, liggaam, heilige priesterdom is dus baie meer as net ‘n denominasie, kerkgenootskap of gebou! Dis baie meer as ‘n samekoms, of die te kort aan saamwees. Ons is in Christus Jesus verenig, verbind, saamgevoeg, ingeënt, gegrondves as lewende stene in Sy gebou! Ons is deel van mekaar, die bekendes en die onbekendes! Die wat ons gereeld mee kuier, en die wat ons een keer per jaar sien, die wat ons vooruitgegaan het, en die wat nog gebore gaan word. Ons is die ewige heilige uitverkorenes van God wat Christus Jesus ontvang het, en elke dag soos drankoffers uitgegiet word tot Sy eer!   

Die Voordele Van DEEL WEES Op Elke Vlak

Beskerming: “Sonder goeie leiding stort ’n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê.”  (Spr. 11:14).  Daar is soveel beskerming om besluite te neem binne in ʼn liggaam omdat mens so maklik jou eie hart kan mislei (Jer. 19:9).

Sterker saam: Ons geveg teen die owerhede “principalities” in ʼn sekere gebied kan nooit as individue plaasvind nie, maar alleenlik deur ʼn liggaam van gelowiges (Mat. 16:18; Efe. 3:10). Dis ’n eeue oue beginsel dat vyf ʼn honderd vyande laat vlug, maar ʼn honderd man sal tien duisend laat vlug (Lev. 26:8). Die akkurate kerk, soos enige ander organisasie, benodig ʼn kritiese massa mense om werklik ʼn verskil in ʼn omgewing te maak. Let wel dat ons nie hier van gemeentes praat wat duisend mense as skare trek maar net honderd lidmate is medewerkers nie. ’n  Akkurate gemeente, waar elke lidmaat sy rol en bediening verstaan en uitleef, is ʼn kragtige wapen in God se hand.  

Die versorging van mense in die NT is nie die werk van die predikant alleen nie: …“maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra” (1 Kor. 12:25), “…uit wie die hele Liggaam die groei van die Liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” (Efe. 4:16).  Hierdie Liggaam is goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel. Dit is in hierdie kerk waar daar geen tekort was nie. Hoekom? Omdat almal alles wat hulle besit het met ander gedeel het. Weerhouding van om deel te wees van ʼn plaaslike Liggaam verswak die kerk se vermoë om werklik effektief in hierdie doel te wees. Dit behels ook die aspek van jou bydraes aan die kerk. Om God se werk en Koninkryk op globale skaal te bevorder kos geld. Die meeste kerke beleef dat maar net 20% van die lidmate hulle tiendes betaal. Weereens verswak dit die kerk se vermoë om effektief te gee, te dien en te help! As almal maar net besluit om nie deel te wees van ʼn plaaslike Liggaam nie en hulle eie ding doen, rig ons uiteindelik skade in ons eie geledere aan. Elkeen se betrokkenheid, selfs jou verskille met ʼn sekere kerk, is nodig vir groei.  

Daar vind ʼn spesiale “deelagtigmaking” (“impartation”) plaas wanneer ʼn samekoms deur die Heilige Gees gedryf word. Dit kan op geen ander manier bekom word as om daar te wees nie. “Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning (impart) bring om julle in julle geloof te versterk.” (Rom 1:11).  Dit geld veral wanneer ons dienste beleef soos wat Paulus in 1 Kor. 14:26 aan die kerk voorskryf: “Wanneer julle bymekaar kom dan het elkeen…”  ʼn Mens kan die deelagtigmaking van ʼn sekere begaafde prediker deur DVD bekom, maar nie die deelagtigmaking van ʼn Liggaam nie.  

Daar is in elke huis ʼn sekere inherente bemagtiging en veiligheid asook ʼn spesiale genadegawe wat God aan ʼn spesifieke gemeente gee wat nie verkry kan word sonder om deel te wees van hierdie gesin nie. Jy kan dienste besoek, maar die genade en goddelike vermoë kom deur deel te wees van die spesifieke gesin. Ons het al so dikwels gesien hoe sekere mense ʼn mate van beskerming in die gemeente beleef, en wanneer hulle eendag die gemeente verlaat en hulleself afsny, dan val alles deurmekaar en uitmekaar in hulle lewens. Om deel te wees van ʼn dinamiese gemeente gee ook aan elke individu ʼn doelgerigtheid. Jy voel jy bestaan nie net nie, jy is deel van ʼn plan en die uitvoering van daardie gesamentlike plan en visie!  

Die vinnigste groeitydperk in my lewe het gekom deur korreksie. Ek het leiding ontvang. “I have been discipled.” So baie gelowiges kom tot bekering en leef maar net op hulle eie voort waar hulle die preke en insette waarna hulle wil luister van TBN kan kies, maar nooit deur ʼn geestelike pa of ma gelei word en persoonlik in die waarheid geleer word nie. Hierdie is ʼn groot gebrek in die kerk en ook een van die redes waarom so baie Christene vir jare in ʼn kerk sit en nog steeds nie wasdom bereik nie.  Weereens: God se model is familie en gesinne. Dis immers ook hoe die natuur werk. Almal is in families gegroepeer en funksioneer binne ʼn spesifieke familie. Ons het baie instrukteurs in die Gees maar nie baie vaders nie (1 Kor. 4:15). Die gevolg is dat ons ʼn klomp kop-kennis het wat nog nie deel geword het van ons waardestelsel en leefwyse nie.  Want ʼn pa stap met jou ʼn pad, hy leer en korrigeer jou die heeltyd! Die belangrikste is egter dat ʼn pa jou WYS hoe! Mentorskap en bemagtiging. 

Konfronteer saam boosheid: Net satan wen as mense nie deel wil wees van ʼn gemeente nie. Daar is nie so iets soos ʼn perfekte gemeente nie.  Elke gemeente funksioneer soos ʼn betrokke gesin en jy voel inherent deel daarvan of nie. Daarom is dit belangrik dat jy ʼn gemeente vind waar jy deel voel, gemaklik is en weet dat jy ʼn bydrae sal kan lewer. Kry ʼn huis! Daarom is daar so baie kerke, almal met ʼn verskillende fokus en mandaat. Hoor by God waarheen Hy jou gestuur het. Waar het God jou bygevoeg, want mens word nie net deel van ʼn gemeente en “join” ʼn kerk nie (Hand. 2:47; 5:14; 11:24). “’n Mens wat hom eenkant hou, lewe net vir homself. Hy het ’n afkeer aan gesonde oordeel.” (Spr. 18:1). 

Die kerk kan nie die kultuur van die dag konfronteer sonder die invloed en momentum van gesamentlike en gefokusde optrede nie. Dit is die kollektiewe getal ware gelowiges wat werklik elke dag soos Jesus leef wat ’n gemeenskap/dorp/stad verander. Dit is ons grootste wapen, en ook die rede hoekom satan so hard probeer om die kerk in diskrediet te bring.

Selfs Jesus was onder gesag, en so moet ons onsself ook onder gesag stel (Efe. 5:21). Hoekom die aanmoediging aan leiers om mooi en waardig om te sien na die mense onder hulle as niemand meer gelei wil word nie? Ons moet hulle respekteer (1 Thess. 5:12-13), en eer (1 Tim. 5:17), en aan hulle gehoorsaam en onderdanig wees (Heb. 13:17). Die tydsgees van ons dag fokus op die self: ons leef om lekker te voel en wil nie voorgesê word nie. Selfs Jesus was tot die ouderdom van 30 aan aardse ouers gehoorsaam. Goeie leiers sal nie oor hulle mense heers nie (1 Pet. 5:3). Jesus was ook hierin vir leiers ’n voorbeeld.  

Om aan ’n gemeente te behoort en betrokke te raak, vereis dat jy jouself sal verloën. Selfverloëning is nie maklik of gemaklik nie, dit kos jou jou lewe, jou alles. Ons is bang vir hierdie tipe “commitment”. Ons ken die prys. Die waarheid is egter dat die opstanding na die dood die prys en opoffering verreweg oortref. Die vreugde en tevredenheid van deel-wees, versorg wees, liefde en omgee, oortref verreweg die opoffering. Die dinamika van gemeenskap het in wese ’n ongeskrewe reël: Dit wat jy insit is wat jy uitkry. As jy liefde gee, omgee, help laste dra, ingestel is op ander, dien, help en ondersteun, sal jy nooit ’n tekort hê aan dit wat jy weggegee het nie. Jou belegging is gemaak in ’n ewige bankrekening. En as jy in nood is en onttrekkings moet maak, sal jy vind daar is in oorvloed.  Mens kan nie die voordeel trek deur ’n TV-prediker se dienste op Sondag te kyk nie. Jy moet iewers betrokke wees. Groei gebeur nie in die versameling van inligting of inspirasie nie, dit is die uitvoering, oefening en vervolmaking wat jou laat groei. 

‘n Geestelike Adres – Ons almal weet ons is gees, siel en liggaam.  So is daar weereens verskillende belewenisse in kerk. Jy het ‘n verhouding met die Here, en hoor self Sy stem, maar indien jy nie aan ‘n liggaam behoort in jou lokaliteit nie het jy nie ‘n geestelike adres nie.  Kerk gee aan jou ‘n liggaam waardeur en waarmee jy in hierdie wêreld op legitieme wyse kan beweeg en interaksie hê met ander kerke.  Jou bediening moet dus geanker wees.  Wanneer verskillende gemeentes in ‘n dorp saamwerk, is dit maklik as jy weet waar is elke persoon ‘n lidmaat.  Daar is orde en ‘n bepaalde verantwoordbaarheid as dinge skeef loop. 

Berading en genesing – Pastorale beraad het vandag ‘n spesialiteitsberoep geraak. Maar weereens is die kerk nie noodwendig beter daaraan toe nie.  Berading is niks anders as woordverkondiging op individuele vlak nie.  Mense beland in probleme omdat hulle nie die Woord toepas nie.  Sekerlik moet ‘n individu bedien word en begelei word na heling maar binne die raamwerk van die gemeente as geheel.  Want sou ‘n individu deel wees van die hele meganisme van kerk en al sy fasette sal persoonlike berading tot die minimum nodig wees.  Wanneer ‘n kerk gerugsteun word deur die vyfvoud bedieninge en namate lidmate volwasse word volgens die vlakke uiteengesit in die Woord naamlik kinders, jongmanne en vaders sal ‘n individu wat emosioneel geskend is weer heel word en sterk word sodat hy of sy weer op hulle beurt iets vir iemand anders kan beteken.  Berading is nie verkeerd nie, die waarheid is dat sommige persone afhanklik raak van berading en nooit heel nie, hulle gaan van berader tot berader want hulle is heelwaarskynlik ook nie werklik deel van ‘n ware kerk nie.  

Verantwoordbaarheid – Wanneer jy op jou eie staan, wie gaan jou gedrag of handelinge kan korrigeer.  Wie gaan jou woorde beoordeel.  Wie sal jou teregwys indien jy verkeerd handel.  Indien ons teregwysing verstaan binne ‘n gegewe outoriteitsbasis, onder wie se outoriteit staan jy?  

Familie – Die enigste model of struktuur wat deur God bepaal is, is die familie.  God die drie-eenheid funksioneer soos ‘n familie, Adam en Eva was die eerste familie.  Ons sien die uitgebreide familie in die Stam struktuur van Israel. Die God van Abraham, Isak en Jakob.  Familie is vir God belangrik en gee aan ons die model oor hoe ons uiteindelik een met Hom moet word.  Die dinamiek van familie is die basis en platform van die kerk.  

Gebed – Almal weet dat ons moet bid, maar wanneer ‘n gemeente saam bid en oor ‘n saak saamstem word daar krag in die hemel ontsluit wat ons nooit op ons eie sou kon regkry nie.  Die hekke van die hel sal nooit kan standhou teen die kerk nie!  Dis deur die kerk wat die veelvoudige wysheid van God aan die heerskappy van die duisternis bekend gemaak word.  (Efe 3:10) Sekerlik het sekere mense die gawe ontvang om in te tree, maar dis die werk van die kerk om as geheel in te tree.  Die dinamiek van gebed en al sy fasette moet weer in die kerk ontsluit word en die leiers moet begin bid.  Jesus as leier was vir sy dissipels ‘n voorbeeld oor hoe gebid moet word.  Uit jou voorbeeld moet die leier die mense leer.  

Gemeenskap – Gemeenskap gaan veel verder as net om mense te ken en saam te kuier.  Maar daar is geheimenisse wat deur die Gees oopgesluit moet word in die kerk, sodat ons deur die Gees gelei dinge sal doen en weet wat nie deur ‘n mens aan ons opgedra is nie.  Dis dan wanneer mense onder leiding van die Heilige Gees mekaar bedien en help en aan mekaar voorsien sonder dat iemand dit georkestreer het.  Elkeen doen net dit wat natuurlik kom en sonder enige menslike beheer en manipulasie word daar aan almal se behoeftes voorsien.  Iemand het vir my gebid en ek is gesond maar ek weet nie wie dit was nie.  Iemand het hierdie kos hier neergesit, ons weet nie wie nie.  Wanneer jy aan die liggaam behoort hoef jy nie eers te sê wat verkeerd is nie, die liggaam voel dit aan! 

Gesag – Wanneer jy deel is van ‘n kerk of liggaam het jy ‘n groter stem en gesag.  Want jy spreek namens ‘n groot groep mense wat in eenheid is oor ‘n saak.  Net ‘n kerk wat akkuraat is en weet wat hulle doen kan die owerhede en prinse van duisternis verplaas met die heerskappy van die Lig.  Individue kan daarvoor bid, maar hulle het nie die outoriteit om uiteindelik te doen wat nodig is nie.  So kan gebedsgroepe bid en dinge verklaar in die gees, maar dis ‘n gemeente en ‘n kerk in sy geheel wat die outoriteit ontvang het vir ‘n sekere lokaliteit en God se septer staan maak in ‘n gemeenskap.  

Groei – ‘n boom groei vanself sodra hy geplant word.  Mense wat nie in ‘n kerk geplant is nie, is soos bonsai boompies of kwekeryplante wat gedurig rondgeskuif word maar nooit geplant word waar dit kan groot word en volwassenheid bereik nie.  Die groot misleiding van die vyand is dat ons dink groei van ons afhang.  Jy moet op die regte plek in jou natuurlike habitat geplant word dis al.  Die groei is afhanklik van genoeg, water, sonlig, bemesting, snoeiwerk en insekbestryding.  Hierdie dinge gee die Here deur Sy kerk.  Jy kan dit nie self produseer nie.  Daarom is daar so baie verskillende kerke, met verskillende funksies, jy moet net die regte habitat kry, soort soek soort.  Waar hoort jy?  Waar het God jou geroep?  Vir watter span speel jy?  Kerke is soos voertuie.  Daar is allerlei soorte en gebruike vir verskillende soorte voertuie.  Sekere motors is gebou vir spoed en lang afstande, ander kan weer op enige tipe terrein ry, maar is nie so vinnig nie.  Min voertuie kan in al jou behoeftes voorsien.  Iewers moet jy kies, daar is nie ‘n perfekte kerk nie.  Een kerk blink uit op een gebied maar vaar swak in ‘n ander gebied.  Soek dus ‘n kerk wat jou gaan uitbring by jou bestemming en volgens jou roeping.  Sommige mense wil egter nie ‘n voertuig besit nie, en eerder van publieke vervoer gebruik maak.  Maar so vra elke keuse goed of sleg ‘n prys.  

Ko-operatiewe identiteit – Om deel van ‘n kerk te wees, gee jou ‘n identiteit.  Jy staan vir ‘n saak!  Jy is nie maar net daar nie.  As die liggaam gesien word as ‘n weermag, in watter korps is jy? 

Kultuur – Elke nasie volk en taal in sy diversiteit is deel van die kerk waar kulture verlore raak in die besef van ons nuwe identiteit in Christus, waar elke volk sy gawe kom deel maak van die groter geheel.  Multi-kulturele gemeentes wie se invloed weier strek as die grens van ‘n dorp, streek of nasie is kenmerkend van ‘n ware kerk wat besig is om op te staan.  Dit is in die Jesus Kultuur van ‘n geestelike familie, waar ek bevry word van die beperkings van kulturele norms en standaarde wat beperkend en teen die Woord van God. Dink aan byvoorbeeld die Labolla tradisie wat baie kinders van die Here finansieel gevangene hou, totdat hulle deel raak van die Kerk familie wat vir hulle sorg.  

Leiding – Dank God dat terwyl ware geestelike leiding ‘n skaars kommoditeit geword het in ons dag, het God leiers opgerig wat duidelik en soos die rigters van ouds presies die weg aandui.  God het nie die kerk weerloos gelaat nie, maar het individue opgerig wat elkeen baie duidelik die pad aanwys.  Diesulkes weerspreek nie die Woord van God nie en bou nie op hulle eie fondament nie, het nie noodwendig die grootste kerk nie, want dit gaan nie oor hulle as persoon nie.  Hulle is eerste maar ook laaste.  Hulle loop voor en breek ‘n pad oop sodat die res maklik kan volg en weet hoe om te loop.  Hulle doelwit?  Christus?  Want uiteindelik moet ons almal gelyk word aan Sy beeld.  

Lofprysing – Oor lofprysing en die krag van lofprysing en die verskillende fasette van lofprysing kan boeke vol geskryf word.  Wanneer jy jouself uitsluit van hierdie bemiddeling en heerlikheid van God kom jy ‘n belangrike en integrale deel van God se plan vir sy kerk kort.  Daar is ʼn oneindige en heerlike voorsiening, krag en rykdom opgesluit in gesamentlike lofprysing waar elkeen deelneem en nie net toeskouers is nie.

Mandaat – God gee aan elke kerk ‘n mandaat.  Hierdie mandaat is die basis en grondslag vir alle aktiwiteite.  Elke kerk gaan ook verantwoording doen saam met sy leierskap of hierdie mandaat vervul is of nie.  Weereens om buite die kerk te staan sny jouself af van die gegewe plan en werking van God vir ‘n sekere gemeenskap, streek of nasie.  Geen persoonlike mandaat kan in elke geval sonder die liggaam en in isolasie vervul word nie.  

Oorlogvoering – Wanneer die kerk as geheel in die oorlog gewikkel is, en hulle plek in die stryd verstaan en doen dit wat God hulle beveel om te doen word geweldige aanslae gemaak op die vestings van die bose in ‘n sekere lokaliteit. Geeneen veg in sy persoonlike oorlog nie.  Ons is almal in dieselfde stryd gewikkel en wanneer God opdragte en voorsiening gee vir ‘n sekere saak moet ons deel wees van die operasionele span.  By elke diens word sekere dinge verduidelik en aan die lig gebring om ons in die stryd vir die week te help.  Sou ons dit mis, is ons ook nie gereed vir die komende week nie. 

Ondersteuning – Soveel mense wat al iets van die ware kerk ervaar, getuig oor hierdie een ding.  Die ondersteuning van die liggaam is ongelooflik!   Ek het dit nou al sou baie gehoor waar kerke volgens die voorskrifte van God se woord funksioneer en mense net nie uitgepraat kan raak oor die ondersteuning, fisies, emosioneel en geestelik wat hulle by ‘n sekere gemeente beleef nie.  

Sekuriteit – Daar is veiligheid, want ons almal veg in die selfde stryd, maar in ‘n kerk word die wat nog swak is beskerm teen die felle aanslae van die bose.  Daar is veiligheid in die raad van wyse gelowiges wat die swakkes help.  Elkeen doen nie sy eie ding nie, en geen daad word in isolasie gedoen nie. 

Sending – ‘n gemeente wat bou op die fondasie Christus en wat die gawes wat God aan die kerk gegee het erken en aanvaar, kan nooit inwaarts dink nie.  In teen deel, feitlik alle aktiwiteit is met die oog op ‘n uitwaartse aksie.  Die kerk is tog immers gegee om elke gelowige toe te rus vir hulle dienswerk.  

Span – In ‘n groter span, kan elkeen fokus op die gawe wat hy of sy ontvang het, want alles kom nie meer op een persoon neer nie.  In die liggaam van Christus het elkeen ‘n bepaalde funksie en kan ons nie sonder mekaar funksioneer nie.  As elkeen doen waarvoor hy of sy geroep is, dan is die las lig en is ons werk nie ‘n stremming en ‘n te swaar verantwoordelikheid nie.  

Versorging – Wanneer die liggaam reg funksioneer en nie om ‘n sekere leier sentreer nie, dan is daar voldoende versorging vir elke lid in die liggaam.  Niemand sal ooit iets kortkom nie. 

Viering – Sommige mense leer dat die basis van kerk net die kleingroep of familie is.  Sekerlik is daar waarheid in hierdie punt maar niemand kan die krag en dinamika van viering misken nie.  Wanneer gelowiges saamkom en saam aanbid word daar ‘n kollektiewe krag en bemagtiging ontsluit.

Daar is geen perfekte kerk op aarde nie.  

Die kerk waarvan die Bybel praat is die kerk van die  berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel. (Heb. 12:21-24) 

Dr. Pelser vertel waar die Here hom eendag ‘n boek gewys het waarin al die name van elke kerk wat bestaan en bestaan het voorkom.  Die Here sê toe aan hom; “Nie een van hierdie kerke is gelyk aan My kerk nie, elkeen het dalk ‘n aspek of deel daarvan maar My Kerk kom nie in daardie boek voor nie.” Woorde tot nadenke.  Ons wil so graag glo ons het die hele waarheid.  

Maar dis waar, want die kerk van die Bybel het nie ‘n naam nie.  Moet ons dan nou almal ons kerke bedank en ontbind en eerder net as gelowiges bekend staan?  Nee, nie letterlik nie.  Maar in ‘n mate moet ons die waarde wat ons aan ons eie heg opgee om mekaar raak te sien as medegelowiges in ‘n sekere lokaliteit, elkeen geroep tot ‘n sekere funksie en doel.  Ons moet die grense wat tussen ons is laat vaar en verstaan dat ‘n verskillende groepering dalk ‘n ander aksent en taak mag hê, maar dat samewerking en wedersydse respek ‘n voorvereiste is sodat God se koninkryk kan kom hier op die aarde soos wat dit in die hemel is.  Is daar immers in die hemel nog kerkgenootskappe?  Sekerlik moet ons ‘n entiteit wees en elkeen moet ons ding doen maar nie teenoor mekaar en sonder mekaar nie.  

Daarom hoe vinniger mense uit kerke uitloop en nie weer ooit deel wil wees van ‘n kerk nie hoe langer gaan dit vat om die gegewe opdrag of mandaat vir ‘n gemeenskap uit te voer.  Wees deel van ‘n kerk!  As jou kerk nie hierdie leer verkondig nie en daar geen ander kerk is wat dit in jou gemeenskap doen nie, soek die Here dat daar wel so ‘n kerk mag kom, wat Koninkryk sien en instrumenteel kan wees om die ander kerke te beïnvloed en aan te spreek om of te verander of heeltemal van die toneel te verdwyn.  Want Kerke wat nie gaan reformeer nie sal stagneer, verouder en bloot monumente word vir toeriste om te besoek.  

God het nie plan ‘B’ nie.  HY wil Sy kerk bou en die hekke van die hel sal nie daarteen standhou nie.  Daar is genoeg organisasies wat nie kerk wil wees nie die meesterplan van God vir kerk mis.  Sy kerk is nie net een faset nie, maar is ‘n multidimensionele, organiese, volkleurige heerlikheid wat nou besig is om aan die Wêreld geopenbaar te word as jy dit kan glo.   

Hierdie Nuwe Beweging Het Dit Nie Maklik Gehad Nie

Vervolging: (Hand. 8:1; 11:19; 20:23; Rom. 8:35; 2 Kor. 12:10), 

Dwaalleringe: (Fil. 3:2; 1 Tim. 1:15-16;  2 Tim. 2:2),

Faksies: (1 Kor. 11:19), 

Afvalligheid: (1 Tim. 4:1),

Wedywering: (Fil. 1:16-18), 

Heiligmaking: (1 Kor. 5). 

Tog was hierdie beweging aantreklik, en dit het gegroei en in ’n baie kort tydjie die hele bekende wêreld volgelinge van Jesus gemaak. 

Die Einde Van Godsdiens

Die kerk as instelling kan egter nie dieselfde sê nie. Lande wat eers christelik was, is vandag sekulêr of aanbid ander gode. In die naam van godsdiens is mense vervolg, tot die dood veroordeel en daar is vir eeue in twis en tweedrag oorloë gevoer.  

Watter van die eerste kerke, Efese, Galasië, Jerusalem, Alexandrië, Konstantinopel, Antiochië, Rome, is vandag nog Jesus Christus-gesentreerde, missionêre, geesvervulde gemeenskappe? Soos die beweging geïnstitusionaliseerd geword het, het dit mens-gedrewe en mens-gesentreerd geword. Om nie eens te praat van Tertullianus se werk in Noord-Afrika, Philippus van Serene in Kartago, wat vandag heeltemal met Islam vervang is nie.

Soos reeds genoem: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Rom. 8:19). “ For (even the whole) creation (all nature) waits eagerly for the children of God to be revealed” (Amp.)  Daar is ‘n honger wêreld daar buite, wat smag na waarheid, leiding en oplossings.  

Dis aan ons as kerk/liggaam van Jesus Christus gegee om deur ons woorde, lewens en voorbeeld, Jesus aan hulle te toon. Dis méér nog as dit:  dis ons plig en verantwoordelikheid, want Jesus het reeds alles gedoen en gegee om dit moontlik te maak! Al wat dit van ons vra, is dat ons deur die geloof, Sy voorbeeld sal volg in alles wat ons doen en sê.  Lééf Sy lewe!

“So now through the church the multifaceted wisdom of God (in all its countless aspects) might now be made known (revealing the mystery) to the (angelic) rulers and authorities in the heavenly places” (Eph. 3:10).

In die Kerk se donkerste uur kom sy heerlikste lig!

Terwyl die prentjie donker gekleur is oor wat dan in die sogenaamde kerk aangaan, is God besig om sy ware kerk op te rig en die Wêreld sal verstom staan oor haar heerlikheid.  Dis nie in getalle, strukture of organisasies nie. Dis nie in groot name, groot visies en planne nie.  Dis nie in groot katedrale en magtige geboue nie.  Dis nie die werk van ‘n mens nie maar God se meesterplan wat stadig aan die Wêreld omvou word om die finale en laaste deel van Sy doel met die mens te verwesenlik, naamlik dat ons hom sal sien soos hy werklik is want ons is gereed gemaak deur Sy Gees om as Sy bruid uit te roep Kom Here Jesus KOM! 

My GEBED! 

Mag ons getuienis onder mense in elke lokaliteit wees dat ons liefdevolle, sagte spontane mense is. Mense wat geestelike diepte het en standvastig is in hulle geloof. Mense wat jy kan vertrou, en deur wie God se Gees kragtig werk. Betroubare, getroue en opregte mense op wie jy kan staatmaak. Pilare in die gemeenskap wat hulle invloed gebruik ten bate van die wat onderdruk en minder bevoorreg is. Mense wie se karakter en woorde 100% op-lyn en waar daar geen valsheid te vinde is nie. Mense wat jou nie net seën met hulle woorde nie, maar wat daadwerklik jou help en ondersteun totdat jy weer op jou voete is. Mense wie se besigheid en werksaamhede getuig van godsvrug: op tyd wees, deugsaamheid, netheid, kreatiwiteit, gehalte werk en akkuraatheid. Mense vol van genade, geloof en vryheid! Tog spreek hulle lewe van eenvoud, innerlike tevredenheid en kalmte. Jy hou daarvan om by hierdie mense te wees want hulle is gemaklik, uitgesorteer mees en emosioneel volwasse. 

Hulle geniet die lewe sonder om te sondig en leef die lewe voluit! Hulle is vrygewig en heg meer waarde aan ewigheidswaardes as aardse besittings, roem of aansien. Hulle rykdom is in Jesus se karakter wat elke dag meer en meer duideliker word in elkeen. Hulle is nie te trots om saam met kinders op die vloer te speel en uitbundig te lag nie. Hulle is kinderlik, spontaan en het weinig vrese of inhibisies. Hulle erken gou hulle foute en menslikheid sonder skaamte, want hulle weet hoe afhanklik hulle van die Here is. Hulle is “bold” en passievol oor hulle geloof, en is nie skaam oor God se liefde en nabyheid nie. Hulle teenwoordigheid maak jou veilig voel, en hulle bring Goddelike perspektief en wysheid na elke moeilike situasie. Hulle is konstant en gebalanseerd maar tog nie vervelig nie.

Hulle ingesteldheid getuig van lewenslus en geloof in die onmoontlike, hulle is optimisties maar nie ligsinnig of oppervlakkig nie. Hulle grappies getuig van goeie smaak en eerbied vir alles mense. Hulle is in alles dankbaar en godvresend, meer as wat hulle bang is vir wat die mense gaan sê of dink. Hulle is nie ingestel op die opinies en sake van mense nie, en praat nooit oor mense wat nie teenwoordig is nie. Hulle is bidders en ken en verstaan die wil en hart van God. Hulle is in frekwensie ingestel met wat die Gees van die Here tans mee besig is in die Wêreld. Jy sal dieselfde fokus optel by gelowiges regoor die wêreld, want hulle leef in die Wil van God. Jy voel altyd ʼn beter mens as jy van hulle weggaan. Jou geloof is gebou en jy voel opgebou en gestig om ook meer soos Jesus te lewe. 

Hulle is aangename en vriendelike mense, sonder veroordeling en kritiek, negatiwiteit en gemeenheid. Tog is daar geen kompromie by hulle te vind nie, en voel dit asof die ligte aan is wanneer jy by hulle is. Wanneer hulle jou bedien is dit met liefde, maar ferm en in waarheid. Sonder bybedoelings of selfsugtige motiewe. Hulle lewe daag passiwiteit en valse verskonings uit. Hulle bring dinge aan die lig, sodat daar lig en groei kan kom. Hulle is wetsgehoorsaam, en wys respek en eerbied vir alle mense. Hulle neem verantwoordelikheid vir die foute wat hulle maak en maak reg waar verbrou is. Hulle lewe spreek van orde en dissipline sonder om rigied of wetties te wees. Hulle handhaaf gesonde roetines en gewoontes in hulle private sowel as publieke lewe. Hulle is eerlik en sonder fieterjasies, ongekunsteld en vol van die teenwoordigheid van die Here. 

Hulle is ‘kerk’!

 


[1] “Kingdom Conspiracy: Returning to the Radical Mission of the Local Church” by Scot McKnight. 

[2] Nicolaou, C. (2019). A None’s story : searching for meaning inside Christianity, Judaism, Buddhism, & Islam (eBook, 2016) [WorldCat.org]. [online] Worldcat.org. Available at: https://www.worldcat.org/title/nones-story-searching-for-meaning-inside-christianity-judaism-buddhism-islam/oclc/964290564 [Accessed 17 Aug. 2019].

[3] Nag, O. (2019). African Countries Where Christianity is the Largest Religion. [online] WorldAtlas. Available at: https://www.worldatlas.com/articles/african-countries-with-christianity-as-the-religion-of-the-majority.html [Accessed 17 Aug. 2019].

[4] Pew Research Center’s Religion & Public Life Project. (2019). Being Christian in Western Europe. [online] Available at: https://www.pewforum.org/2018/05/29/being-christian-in-western-europe/ [Accessed 17 Aug. 2019].

[5] Schor, A.M., 2009, ‘Conversion by the numbers: Benefits and pitfalls of quantitative modelling in the study of early Christian growth’, Journal of Religious History 33(4)Pg 478. 

[6] Rainer, T. (2009). Surprising insights from the unchurched and proven ways to reach them. Grand Rapids, Mich.: Zondervan.

[7] Hawkins, G. and Parkinson, C. (2011). Move: what 1,000 churches reveal about spiritual growth. 1st ed. Zondervan.

[8] https://www.baptistpress.com/resource-library/sbc-life-articles/the-church-a-display-of-gods-glory/

[9] https://www.desiringgod.org/about-us

[10] http://www.forgeinternational.com/resources#our-books

[11] https://www.youtube.com/watch?v=25Jpdfip8-4 

[12] https://www.mirror.co.uk/news/world-news/true-face-jesus-scientists-use-7008460

[13] https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_Christian_denominations

[14] J. John, How To Explain What You Do, When You’re A Pastor, YouTube, Trinity Broadcasting Network interview, 13 Nov 2014 (Youtube). 

[15] Stark, R., 2007, Discovering God: The origins of great religions and the evolution of belief, Harper Collins, New York. Bl 161-162  Barna, G., 2005, The state of the church, The Barna Group, Ventura, CA. Bl 246-250 Hirsch, A., 2006, The forgotten ways: Reactivating the missional church, Brazos, Grand Rapids, MI.  Bl 18-22

[16] Dreyer, W., 2011. Praktiese ekklesiologie en bedieningspraktyk met verwysing na die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (Afrikaans).

[17] Everett Ferguson the church of Christ a biblical ecclesiology for today Bl 129 – 134

[18] Geoffrey W. Bromiley, The International Standard Bible Encyclopaedia, Revised, vol. 2 (Grand Rapids: Eerdmans 2002), Bl 85.

[19] Pagan Christianity?: Exploring the Roots of Our Church Practices by George Barna.

[20] http://yocuzlawyers.com/2011/06/the-roseto-effect-the-valley-of-the-roses/